Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten страница 22

Название: Die versoeking van Thomas Maas

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798181174

isbn:

СКАЧАТЬ En soms haar byna kinderlike eerlikheid. En natuurlik die mond, die oë, die kuit in sy palm, en daardie boesem. Waarop ’n man sy kop kan neerlê en sag heengaan.

      “Tomás?”

      “Uh, jy wil jou hart hier uitpraat?”

      “Nee, nie noodwendig nie. Ek wil net weet hoe die proses werk, volgens jou professionele mening. Wanneer beweeg ons van kennisse tot vriende – met ’n tweede informele ete, ’n derde, dalk eers die vierde een?”

      “Ons is nie veronderstel om vriende te word nie,” sê hy.

      Sy frons. “Hoekom nie?” Beloer hom oor die wynglas in haar hand.

      “Jy’s my pasiënt. Ek’s gebind aan sekere professionele kodes.”

      “Ja, ja,” sê sy en vat ’n slukkie, sit die glas neer, kyk hom in die oë. “En as getroude man is jy ook gebind aan sekere gebooie. Mag nie egbreuk pleeg nie, mag nie ’n ander man se vrou begeer nie.” Hy voel die skoppie onder die tafel. “Of is ek nie begeerlik vir jou nie?”

      Die kelner vra: “Gereed om te bestel?”

      Toe hy weg is, sê sy: “Meneer Maas, hierdie rok. Ek het dit spesiaal gaan koop. Vir hierdie ete. En jy sê niks nie. Hou jy nie daarvan nie – sit dit te styf, wys dit te veel boesem?”

      Hy glimlag en leun na haar in, sit sy hand oor hare. “Amalia, jou rok laat my kop draai. Jy en jou rok maak my duiselig.”

      “Dankie,” sê sy en hy voel haar tone liefkosend teen sy maermerrie. “Was dit nou so moeilik?”

      “En ek geniet dit om hier saam met jou te sit.”

      “Jy geniet dit? Soos jy dit geniet om saam met ’n vriend by ’n rugbywedstryd te sit?”

      Hy hou sy hand op hare. “Jy’s ’n baie begeerlike vrou, Amalia.”

      Sy herkou dit eers, vra dan: “Is ons besig met sonde?”

      “Nee, sover ek weet is dit nie sonde om saam te eet nie. Ons verbreek tog geen etiese kodes of gebooie nie.”

      “Nog nie,” sê sy en lig haar glas.

      Hy trek sy hand terug, lig ook syne. “Op jou.”

      Hulle klink. En hy besluit om die gesprek subtiel in ’n ander, veiliger rigting te stuur.

      “Vertel my van Matias en Gabriela. Was julle saam op skool?”

      “Gabriela is ’n niggie. En ja, ons drie het saam grootgeword.”

      “Op die Pampas? Vertel nog, die plek interesseer my. Vertel in die algemeen, nie oor Nicolás nie.”

      Sy maak plek vir die kos wat die kelner bring, en begin gesels. En dit vat nie lank voor sy by perde draai nie. Sy vertel van mestizos en gauchos, en entoesiasties van die baguales wat die conquistadores in die sestiende eeu uit Spanje in Argentinië losgelaat het en wat vir eeue daarna wild oor die Pampas van die Rio de la Plata aangeteel en rondgeswerf het en waarvan sy nou getemdes in haar perdetroppe het. Van die slim en tawwe criollos, veertien hande hoog, en die sterk en ratse poloponies met die kort bene en sterk gewrigte, en van die klein, unieke falabellas en bergmannponies.

      En oor nagereg vra sy hom oor Antonie se ongeluk, so meelewend dat hy wonder: Het ek en hierdie mooi, intelligente vrou oor ’n enkele ete tog wel van kennisse tot vriende gevorder?

      Dan, ná die nagereg, is albei meteens stil. Hy kyk na haar en sê, gemoedelik en effe aangetas deur haar en die wyn: “Kat jou tong gevang?”

      Sy bestudeer hom eers en vra: “Gaan dit word?”

      “Gaan wat word?”

      “Gaan dit sonde word?”

      “Jy bedoel ons ete?” vra hy.

      “Ja,” sê sy, die tone terug, strelend op en af teen sy skeen. “Gaan ons etiese kodes en gebooie oortree – as ek jou koffie op my balkon aanbied?”

      “H’mm, waar’s jou balkon?”

      Sy draai skuins en wink die kelner nader. “Rekening, asseblief. En ’n Uber.”

      “Nee,” sê hy, “ek dink ook nie dis ’n sonde om saam koffie te drink nie.”

      “Maar dit kan een word.” Sy lag. “O, ons leef in gevaarlike tye, hoe opwindend!”

      Hy lag saam vir haar spottery. En dink hy het dalk regtig ’n glasie of wat te veel in. Want is haar balkon so ’n goeie idee? Maar hy dink ook: balkon, bome, restaurante. Waarom nié? Watse verskil maak ’n onskuldige koppie koffie nou eintlik, ongeag wáár jy dit drink? Buitendien, dit bied ’n gulde kans, want so ’n unieke en intieme blik op ’n pasiënt se private huislike lewe kan hom tog net help in sy professionele beoordeling van haar en haar omstandighede. En is dit nie waarom alles gaan nie, om haar beter te leer verstaan ter wille van haar eie toekomstige geluk?

      Solank hy betyds terug is om vir Donna nag te sê.

      Toe hulle by die voordeur uitstap, haak sy by hom in.

      “Het ek al gesê hoe lekker jy ruik?” sê hy.

      “Dankie,” fluister sy, vee haar lippe ligkens oor sy wang, en leun haar kop teen sy skouer terwyl hulle op die Uber wag.

      Sy maak die glasdeure na die balkon oop en die ruising spoel na binne. Selfs in die donkerte kan hy hom die weidse uitsig oor die see hier in Bantrybaai voorstel.

      Sy kom terug en gaan staan agter hom, haar arms om sy middel. “Mooi, nè?” sê sy, haar bolyf styf teen sy rug, sodat ’n warm gloed van haar af deur hom versprei tot elke senupunt begin tintel.

      “Uh, die penthouse, is dit joune, of is dit julle s’n?”

      “Myne.” Hy voel hoe ’n hand ’n knoop loswoel en by sy hemp inglip, die vingers oor sy maag. “Daar by die ryskool,” fluister sy agter teen sy skouer. “Die eerste keer toe ons mekaar gesien het, onthou jy?”

      “Ek onthou.”

      “Jy’t dit ook gevoel, nè? Met daardie eerste oogopslag?”

      So, dit was tog nie eensydig net van sy kant nie. “Amalia …”

      “En daarna, saam met jou onder die bome.”

      Die hand onder sy hemp kruip op na sy bors, die naels kriewel stadig oor sy vel. En in sy kop waarsku ’n stem: Wat de hel doen jy, Thomas Maas? Wat dink jy? Wat soek jy hier by hierdie vrou?

      “Uh, die koffie.” Hy draai om sodat sy haar hand traag by sy hemp moet uittrek. Hy vra: “Kan ek gaan help?”

      Maar sy sit haar arms om sy nek en sê: “Nou al, dis nog vroeg?” En druk haar teen hom vas en smoor sy protestering met haar lippe op syne.

      Vat haar mond weg, lek oor haar lippe. “Jy wou sê?”

      “Amalia … Ek weet nie of dit –”

      En СКАЧАТЬ