Prooi. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Prooi - Deon Meyer страница 13

Название: Prooi

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798177764

isbn:

СКАЧАТЬ ’n man wat voortdurend met ander vroue gelol het. Tot daar niks van haar loopbaan of haarself oor was nie. En toe skiet hulle haar eggenoot en sy erf die platemaatskappy en sy moet ’n nuwe begin maak. Griessel het op haar verlief geraak omdat sy aards en eerlik en stukkend en dapper was, oor haar naïwiteit en vrygewigheid, haar deernis, haar humor, haar vermoë om vir haarself te lag. Hy het vir haar lief geword oor haar eenvoud en die eenvoudige manier waarop sy vir hom lief is. Net sommer só. En sy bewonder hom en respekteer hom. Vir hom. Bennie Griessel, die voormalige dronkgat, wat op ses-en-veertig nog net tot kaptein in die polisie gevorder het, weens die drank. Sy verhef hom, maak ’n ophef van hom, haar “baasspeurder”, haar “Koningvalk”, haar held.

      Hy speel so ’n bietjie baskitaar, in ’n vierstuk-orkes met die naam Roes wat nou en dan by danse en troues optree. Soms sal hy saans sit en oefen saam met ’n CD in die hoëtrou. Dan kom staan sy en sing saam en sê: “Jy’s so ’n talentvolle man, Bennie.” En hy weet baie goed hy is maar bra gemiddeld op die kitaar.

      Hy kan dit nie ontken nie, hy het haar ook lief vir die sensualiteit wat steeds daar agter die littekens van haar lewe lê.

      Maar fok, dis ’n groot stap dié.

      Want hy het ’n gemors van sy eerste huwelik gemaak. Want sy borg by Alkoholiste Anoniem, Dok Barkhuizen, het al vir hom gesê twee alkoholiste bymekaar is ’n resep vir moeilikheid. Want Alexa is skatryk, en hy het nie eens die twintigduisend gehad wat die ring hom gekos het nie. Hy moes dit by die bank gaan leen, want hy is finansieel geknak weens ’n polisiesalaris en ’n seun op filmskool en die jare van te veel geld op alkohol vermors en te veel onderhoud aan sy eks betaal.

      Hy kyk na die nommer van die Overture-restaurant. Dis ’n groot stap dié.

      Hy kan vir haar so min gee. Maar hy kan vir haar ’n vra-om-te-trou-aand gee wat onthoubaar en oorvertelbaar is. ’n Aand wat haar waardig is.

      Hy haal diep asem.

      Hy bel.

      * * *

      Hulle bly saam in haar huis in Brownlowstraat 47, teen die flank van Seinheuwel. Dit is ’n mooi ou Victoriaanse dubbelverdieping. Daar is ’n balkon bo, van waar jy oor die stad kan uitkyk.

      Griessel parkeer in die motorhuis, loop by die kombuisdeur in. Alexa staan voor die stoof met haar voorskoot waarop daar staan: Jy roer my! Hy het dit self uitgedink en vir haar laat maak. Hy het dit op Valentynsdag vir haar gegee, verlede jaar. Sy het daarvan gehou.

      Kosmaak is nie een van haar talente nie. Sy is ’n uitstekende sakevrou. En wanneer sy nog nou en dan sing, word sy dikwels staande toegejuig. Haar klavierspel is steeds goed. Maar sy het geen aanvoeling vir kook nie, al is dit ’n selfverklaarde “passie”. Haar aandag in die kombuis raak maklik afgelei as ’n SMS of ’n oproep deurkom, sodat sy nie kan onthou watter van die resep se bestanddele reeds in die pot is nie. En haar smaaksintuig is onbetroubaar. Sy sal met toe oë en groot noukeurigheid proe aan ’n gereg, dit dan met opgewondenheid as “perfek” verklaar. Maar wanneer sy dit opdien en begin eet, sal sy fronsend sê: “Nou is iets nie reg nie. Proe jý dit ook?”

      Dan lieg hy en sê: “Nee, wat, dis lekker.” Want hy glo as dít die grootste offer is wat hy in hul verhouding moet bring, dan doen hy dit.

      Nou moet hy weer lieg. Oor volgende Sondag, want die restaurant was vol bespreek vir die komende naweek. Hy sal vir haar by Overture moet kry sonder dat sy weet van sy planne.

      Dit is koud buite, maar die kombuis is knus. Haar gesig verhelder wanneer sy hom sien. “Bennie,” sê sy met opregte vreugde, “jy is seker doodmoeg.”

      Hy soen haar, hou haar vas. “Darem nie te erg nie.”

      “Hoe was die Karoo?”

      “Vaughn sê die fokkol groei nogal mooi, maar ek hou van die … ooptes.”

      Sy lag, sê dan: “Ek maak tamatiebredie.”

      “Dit ruik lekker.” Darem vaagweg die waarheid.

      “En jy moet dit proe! Ons kan eet wanneer jy reg is.”

      “Ek gaan was gou my hande.” Hy gaan staan in die deur, draai om. Hy moet haar vra. Nóú.

      Sy kyk na hom, haar oë so sag.

      Hy draai om en loop kamer toe om te gaan stort, vir net vier minute, want die Kaap het ernstige waterbeperkings, dit is die grootste droogte in menseheugenis. Hulle praat van Dag Zero, wanneer die damme leeg gaan wees. Water-Armageddon.

      Maar dit is nie waaroor hy hom bekommer nie.

      Dis oor sy ete-afspraak met Alexa.

      Dis ’n groot stap dié.

      12

      Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.

      Ses dae ná die ete en fotosessie by Élodie Lecompte gaan hy terug, gedryf deur nuuskierigheid. Oor “sy” skildery, en oor haar. Sewe-uur in die aand lui hy haar klokkie met ’n gevoel van effense ongemak. Is hy hier omdat hy ydel is? Of soek hy net na homself?

      Hy hoor die venster daar bo op die derde verdieping oopgaan. Hy kyk op. Sy wou eers sien wie dit is, sy leun uit en lig haar hand. Glimlag. Die venster gaan toe. Sy gons hom binne.

      Bo by die deur sien hy sy is meer informeel aangetrek, ’n denim en ’n olyfgroen T-hemp. Weer kaalvoet.

      “Ek is bly jy het gekom,” sê sy, en bied hom wyn aan.

      Hy sê nee, dankie, hy wou net gou na die skildery kom kyk. Daar is teleurstelling in haar oë, maar sy knik en sê: “Bien sûr.” Natuurlik. En hy wonder weer oor haar, wie sy is, watter storie agter haar lê. En die aura van eensaamheid om haar. Daardie eerste aand het sy so min van haarself vertel, sy was net besig met die kamera en die foto’s.

      Hy volg haar na haar ateljee.

      Die skildery van hom staan op die esel, groot, twee meter hoog. Die buitelyn van sy liggaam is getrek, sy gesig is reeds voltooi. Dit is vir hom vreemd om dit te sien, hoe sy hom vasgevang het. Daar is lewe daarin. Sý lewe. En sy verlange. Hy verwonder hom aan haar vaardigheid.

      “Ça vous plaît?” vra sy. Hou jy daarvan?

      “Oui,” sê hy sag.

      “Vraiment?” Regtig?

      Hoe kan sy twyfel?

      “C’est … formidable.”

      Sy glimlag op ’n manier wat hy nog nie gesien het nie, met opregte vreugde.

      “Dan moet jy ’n glas saam met my drink. Sjampanje.”

      Hy kan nie weier nie.

      Hulle gaan sit in die salon. “Wanneer het jy begin skilder?” vra hy vir haar.

      “Ná my man se dood,” sê sy. “Ek het hom geskilder, oor en oor, tot ek hom teruggehad het.”

      “Wat het jou man gedoen?”

      “Hy was ’n professor in paleontologie. Hy was ’n wonderlike man. Ek СКАЧАТЬ