Prooi. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Prooi - Deon Meyer страница 16

Название: Prooi

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798177764

isbn:

СКАЧАТЬ Ek het hulle duidelik gemerk op die lyste.”

      “Dit sal baie help,” sê Griessel.

      “Dit is ons plesier,” sê sy. “Maar gesels gerus eerste met Sam. Sy het ’n paar stukkies interessante inligting.”

      “O?”

      Strydom huiwer. “Ek wil nie namens haar praat nie, want ek kan dalk van die detail verkeerd hê. Sy weet julle gaan haar skakel … Daar is een ander ding wat ek dink dalk vir julle interessant sal wees: Mevrou Scherpenzeel het haar plek op die trein reeds in Januarie bespreek. Op 3 Augustus het sy ons weer gekontak met die versoek dat ons ’n metgesel ook moet akkommodeer …”

      “Johnson?”

      “Dis reg. Sy was baie gelukkig, want ons het ’n kansellasie gehad, ’n man en vrou van Australië wie se dogter geboorte geskenk het, drie weke te vroeg. Ons kon hulle kompartement vir meneer Johnson beskikbaar stel.”

      Hulle maak notas.

      “Okay,” sê Cupido. “Let’s start at the very beginning. Van waar die mense ’n booking doen.”

      * * *

      Brenda Strydom verduidelik aan hulle dat Rovos se besprekings uit verskeie oorde kom – van internasionale en plaaslike reisagente tot mense wat dit self doen oor die internet of telefonies.

      Dit is ’n eenvoudige proses: Jy bespreek, jy betaal, jy ry op die trein. Daar is ’n enkele besprekingsvorm wat ingevul moet word, waarop passasiers hul naam, adres, kontakbesonderhede en paspoortnommers moet invul. Dit is daardie vorm wat in die lêer voor hulle ingesluit is.

      Op die dag wat die trein vertrek, word hulle in dié vertreksitkamer ontvang en na die trein begelei. Dié spesifieke trein stop amptelik op Matjiesfontein vir ’n kort toer saam met ’n plaaslike gids, en dan weer op Kimberley die Sondagoggend. Daar onderneem die gaste ’n toer na die Groot Gat. Hulle word met bussies vanaf die stasie vervoer, en terug.

      Gewoonlik hou die trein ook die twee nagte naby of op Beaufort-Wes en Klerksdorp stil om die passasiers ’n aangename nagrus te bied en die skedule te laat klop. Die tye en tydsduur waarop dit daar stilhou, word bepaal deur vertragings op die spoor. En dié is daar altyd.

      “The big question,” sê Cupido, “is hoe moeilik is dit om op die trein te kom as jy nie ’n passenger is nie?”

      Strydom het die vraag verwag. “Kaptein, niks is onmoontlik nie. Maar dit sal baie, baie moeilik wees. Daar is uitstekende sekuriteit hier op die stasie, op Matjiesfontein en in Kimberley. Maar as jy baie gelukkig is en op die trein kan kom, is daar nêrens waar jy kan wegkruip nie.”

      “Behalwe as jy ’n contact op die trein het.”

      “Dit gaan jou ook nie veel help nie, want die kompartemente word skoongemaak wanneer die passasiers eet. Daar word geskenkies neergesit. Jy het regtig nêrens om weg te kruip nie …”

      “Ma’ hoe gaan daai staff van julle weet as iemand nie op die trein belong nie?”

      “Hulle ontmoet hul gaste hier in die sitkamer. Hulle word met die hand gegroet.”

      “I see.”

      “Julle personeel … Hoeveel weet julle van hulle agtergrond?” vra Griessel.

      “Voor hulle by ons begin werk het?”

      “Ja.”

      “Ons het ’n personeelagentskap wat baie goeie werk doen met agtergrondnavorsing …”

      “Kyk hulle of daar kriminele rekords is?”

      “Sover ek weet. Hoekom vra jy?”

      “Johnson was in die polisie,” sê Griessel. “Ons sal ook moet kyk na arrestasies wat hy gemaak het. Miskien het hy iemand op die trein herken, iemand wat nie herken wóú word nie.”

      Sy oordink dit vir ’n oomblik. “Dit is baie onwaarskynlik …”

      “Hoe maklik is dit om die vensters oop te kry?” vra Cupido.

      “Van buite af, onmoontlik. Van binne af, baie maklik. Al die vensters kan oop. Dit is deel van die ervaring. Deel van die uniekheid.”

      “So dis maklik om in te klim ook?”

      Sy huiwer, sê dan: “Nee … Die vensters is te hoog. Jy sal ’n leer moet gebruik. Of iets … Die trein kom weer Saterdagoggend aan uit Pretoria. Hoekom kom kyk julle nie?”

      “Brenda,” sê Cupido, “hy’s uitgegooi aan die linkerkant van die spoor. Is dit uit ’n cabin uit, of uit ’n gang uit?”

      “Die linkerkant sal uit ’n kompartement wees.”

      * * *

      Hulle loop na hul motors toe.

      “Jy gooi nie ’n ou van ’n trein af as jy nie baie kwaad oor iets is nie,” sê Cupido. “En jy kan nie baie kwaad vir ’n ou wees as jy hom nie ken nie.”

      “Die foto’s van Johnson in sy woonstel … Hy was fiks. Sterk. Jy gaan nie net baie kwaad moet wees nie, jy gaan baie sterk ook moet wees,” sê Griessel.

      “Of jy sal meer as een moet wees.”

      “Dit was iemand wat reeds op die trein was, Vaughn.”

      “Hoe scheme jy?”

      “Sê nou maar dis iemand wat vir hom kwaad was. Daai iemand sal moet weet hy gaan met die trein ry. Daai iemand sal moet weet hoe die trein werk, waar dit stilhou, hoe om in te kom. En dan nog vir Johnson kry en hom oorval. Dit is baie kennis, baie beplanning. Scherpenzeel het twee dae voor die trein sou vertrek vir Johnson plek gekry.”

      “I read you, Benna.”

      Hulle staan en staar na die stasie.

      “Voetwerk,” sê Griessel.

      “Amen,” sê Cupido.

      “Ek sien jou by die kantoor. Ek moet eers shrink toe,” sê Griessel.

      “Wanneer gaan dit op daai auntie dawn lat jy bat shit crazy is beyond redemption?”

      16

      Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.

      Hy slaap byna niks. Dit is nie die hitte wat hom wakker hou nie, dit is die herinneringe.

      Hy rol rond in sy bed, steeds onwillig om in die nag uit te gaan en sy gewone slaaplose roete te gaan stap, want die gereg is dalk steeds op die uitkyk vir hom, ondanks die mediaberigte.

      Om kwart oor vyf kom die son op en kan hy nie langer lê nie. Hy was en trek aan. Donker klere, want dit is onopvallend in die geroesemoes van die straat. Só kom die opleiding van ’n leeftyd gelede stelselmatig terug.

      Hy loop onnadenkend oor die Pont de Pierre. In die middel van die brug gaan staan hy en maak seker daar is niemand wat hom СКАЧАТЬ