Veldiep. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Veldiep - Fanie Viljoen страница 3

Название: Veldiep

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия:

isbn: 9780624085386

isbn:

СКАЧАТЬ nog by die kombuistoonbank op een die hoë stoele toe hy verbykom. Haar roosterbrood is gelaai met vyekonfyt en kaas. “Waarheen is jy op pad?” vra sy. “Ma-hulle sal wil weet.”

      “Ek gaan na Apollo toe,” sê hy oor sy skouer.

      “Dit lyk nogal of jy dit nodig het.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “As jy by jou perd was, is die kaste in jou kop weer netjieser reggepak.”

      Tim glimlag effens. Sy suster is nogal reg.

      4

      APOLLO

      Chantel Botha is besig om haar perd Comet te roskam toe Tim by die stalle aankom. Hier is ander mense ook: ’n Paar perdeversorgers dra water aan, en ’n man met ’n laphoed sny die gras voor die stalle. Om die grasperk strek die stewige klipmure van die stalle, die tuigkamer en ’n snoepie. Twee oefenkampe staan skuins voor die stalle.

      Dit is Tim se tweede huis, sy wegkomplek.

      Dit was ’n lang ent se stap deur die veld tot hier. Hy is nou al goed dors.

      “Hi, Tim,” groet Chantel toe hy ’n sluk water by die kraan gaan drink. “Dis lekker om jou te sien.”

      Chantel se lang swart hare blink in die middagson. Sy gee haar perd nog ’n paar borselhale en stap dan nader. Haar vosperd kap met sy voorpoot op die grond omdat hy nie meer aandag kry nie. Comet is ’n Amerikaanse saalperd waarop Chantel op die landgoed rondry. Hulle het ook twee warmbloedperde: Kutch en Flexor wat hulle net vir dressering gebruik.

      Dressage, soos Chantel dit altyd noem.

      “Hi, Chantel,” sê Tim. “Het jy klaar gery?”

      “Jip.” Sy kom tot voor hom.

      Haar houding verklap dat sy ook ’n model is, nes Tim se sussie. Daar is ’n effense draai aan haar skouers en heupe toe sy by hom kom staan. Sy is mooi. Flippen mooi.

      Chantel is ook in graad elf by Hoërskool Caldwell. Sy is Afrikaanssprekend, maar haar ma-hulle dring daarop aan dat sy klas in Engels loop by Tim-hulle se dubbelmediumskool. Van die Engelse kinders by die skool hou hulle so ’n bietjie eenkant, maar Tim ken haar eintlik van af en toe by die landgoed se stalle sien.

      “Jy moes laat weet het jy kom, dan het ek vir jou gewag.”

      Tim haal sy skouers op asof dit iets moet beteken.

      Chantel glimlag. “Dit sal lekker wees om ’n ry-buddy te hê. Bel my volgende keer en laat weet, dan gaan ons saam uit veld toe.”

      Tim knik. Hy drink nog ’n sluk water en draai die kraan toe.

      “Terwyl ek jou nou sien, wil jy my nie help nie?” vra Chantel.

      “Met roskam? Eh … ek wil by my perd kom.”

      “Nee, man, ek kan my perd roskam. Dis iets anders. Dit sal gou wees, ek belowe.” Haar glimlag kry ’n ondeunde trek. “Ek dink Comet trap nie reg op sy linkervoorpoot nie.

      “Het hy dalk in iets getrap?”

      “Ek hoop nie so nie. Wil jy nie gou vir my kyk nie?”

      Tim kyk om na Apollo se stal, en dan terug na Chantel. “Oukei, maar as dit ernstig is, sal ek nie kan help nie. Dan moet jy liewer vir dokter Theart kry.”

      Hy loop verby Chantel na Comet toe.

      “Dankie, ek skuld jou.” Sy stap saam met hom. Haar heupe swaai lig genoeg om te terg, maar sonder om te opvallend te wees.

      Comet kyk Tim effe wantrouig aan.

      “Hi, Comet, ou yster, jy onthou my mos, nè?” Tim vryf ’n bietjie oor die rooibruin perd se nek om hom te kalmeer. “Ek gaan gou na jou poot kyk, oukei?”

      Hy gaan staan by Comet se skouer, sy lyf na die stertkant toe, sy bene effens uitmekaar gebalanseer. Soos hy vooroor buig, vee hy met sy hand af oor die perd se been. Hy tik liggies op die agterkant van die voorbeen en maak dan ’n aanmoedigende klikgeluid met sy mond.

      Geoefend lig Comet sy voorpoot.

      “Hier is ’n hoefpik as jy dit wil gebruik.” Chantel se hand raak aan Tim s’n toe sy dit aangee.

      Dit was net ’n ongeluk, sê Tim vir homself.

      Met die metaalinstrument krap hy onder die perd se poot, versigtig om die sensitiewe driehoek in die middel van die hoef te vermy waar die bloedtoevoer en senuwee-eindpunte lê.

      “Ek sien niks nie, Chantel,” sê Tim uiteindelik.

      “Regtig?”

      “Miskien moet jy maar die veearts kry. Jy wil nie ’n kans vat nie.”

      “Ek sal my ma vra om hom te bel, dankie.” ’n Rukkie staan sy daar en kyk vir hom, toe glimlag sy asof sy nog iets wil sê, maar doen dit nie. Sy draai net haar kop weg.

      “Ek moet by Apollo kom,” sê Tim selfbewus. “Ek sien jou later, Chantel.”

      “Onthou om my te bel wanneer jy wil gaan ry.”

      “Goed, ek het jou nommer,” sê hy oor sy skouer. Dis die laaste ding waaraan hy nou wil dink. Hy is hier nie net vir Apollo nie. Hy is ook hier om sy eie ontwil. Vir die seer in hom.

      Apollo kyk om toe Tim die skuifslot oopmaak. Middernagswart – dis die kleur wat Apollo seker die beste beskryf. Hy het ’n ewe geheimsinnige karakter wat Tim met die verloop van tyd ontrafel het. Vandag is hulle onafskeidbaar.

      Apollo runnik sag. Dis sy manier van groet.

      “Apollo, ou grote! Hoe gaan dit, jong? Het jy my gemis?” Tim vryf oor die brug van die perd se neus. Dan trek hy sy hand af oor Apollo se nek, skouers en rug.

      Weer runnik die perd sag.

      Tim verstrengel sy vingers in die dik maanhare en laat sak sy kop teen Apollo s’n. Hy staan lank so met sy oë gesluit, en met die reuk van sy perd en die stal se strooi in sy neus. Hy asem dit dieper in.

      Jess se gesig doem voor hom op. Hy hoor haar weer sê dat dit verby is tussen hulle. En net soos vanoggend stoot die gevoel van verlorenheid weer in hom op.

      Hierdie keer vee hy die trane nie af soos vroeër op die skoolpaviljoen nie. Hy huil sonder om skaam te wees.

      5

      NIKS IS PERFEK NIE

      Op Apollo se rug kry Tim tydelik die troos waarna hy soek. Sy asem jaag, en hy voel die spanning in sy bobene soos hy hom uit die saal lig terwyl Apollo oor die oop veld skeer. Om hulle vlieg die landskap verby. Die veld, die voetpaaie, die koppies waar die landgoed se mooiste en grootste huise staan en die klompe bome wat bymekaar bondel.

      Hy laat dit alles wegsmelt soos die wêreld vanoggend met Jess se woorde om hom weggesmelt het: “Ek het iemand anders ontmoet, Tim.”

СКАЧАТЬ