Debora gaan huis toe. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Debora gaan huis toe - Helene de Kock страница 10

Название: Debora gaan huis toe

Автор: Helene de Kock

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780798176149

isbn:

СКАЧАТЬ al hier. Ouma Debora sit reeds aan die kop van die tafel. Die ander staan rond. Debora word gegroet asof sy ’n pelgrimstog tot hier afgelê het. Oom Erik druk haar styf vas. Aunt Elizabeth lyk bewoë toe sy haar soen, Catherine kom val haar demonstratief om die nek. Die fraaie tant Rebekka kom soengroet ook en glimlag lief met haar. Vra uit na haar welstand op haar liewe, eienaardig formele manier. Hou haar hande vas terwyl sy praat. Debora word aan Annalien voorgestel, ’n fyngeboude meisie met blonde krulhare en ’n innemende glimlag. Sy merk dat Dieter ’n besitlike arm om haar middel het. Annalien steek ’n hand uit om Debora te groet en sy voel dat die greep ferm is. Sy is uitgaande, maar moontlik ook iemand wat weet wat sy uit die lewe wil hê.

      Dit is so dat almal bly is om Debora te sien. Ook haar ma kom gee haar weer ’n druk en Wena en Ewert lyk sowaar trots op haar, beduie aan almal wat wil hoor dat hul ousus nou eindelik tuis is.

      ’n Benoudheid pak haar. Vanwaar hierdie gevoel om gou eers pad te gee sodat sy haar kop bymekaar kan kry? Dis hier­die dokter Tristan wat skuins agter ouma Debora staan en die familiereünie betrag. Toe hy haar oog vang, kyk hy weg en fluister iets vir Jakob, wat instemmend knik en stou­terig glimlag.

      Sy voel uitgesluit maar sy herstel vinnig. Dan moet Jakob en sy goeie vriend maar hul geselsie geniet. Sy gaan sit aan ouma Debora se linkerkant terwyl die ander oral aan die lang tafel hul plek inneem. Tristan kom sit ewe langs haar sodat haar simpel hart begin tik. Sy wonder benoud of sy nie iets onder lede het nie.

      Almal vat oudergewoonte hande en sy skrik toe die man sy vingers oopsprei vir hare. Sy kyk hoedat hy haar hand warm in syne toevou. Nog nooit was sy so bewus van ’n ander mens nie. Dit moet wees omdat hy ’n spesialis is. Die meeste spesialiste dink mos hulle is gode. So praat sy haarself studenti­koos moed in.

      “Dankie, liewe Vader,” bid oom Erik swaartillend, “dat ons almal hier bymekaar mag wees. En seën tog die hande wat die kos berei het. Amen.”

      Toe die bakke vol kos op ’n ry aangegee word, trek die tafelgenote soos altyd tegelyk los om elk ’n woord in te kry.

      Daar kom ’n klein verposing in die geselsery, en Debora sê lakoniek: “En dis al.”

      Almal lag hardop. Behalwe Tristan wat hom duidelik aan die geselskap verwonder en net vraend glimlag.

      Dis Dieter wat hom inlig: “Jy sien, dokter Tristan, Ouma sê mos altyd ‘Genug’ as sy dink dinge het nou ver genoeg gevorder. Toe wou Debbie dit destyds ook opsluit haar sêding maak. Dis nou toe sy uit Engeland hier aangeland het.”

      “En toe?” lag Tristan ook en draai amper dwars sodat Debora genoop is om na hom te kyk. Sy blik op haar vernou sodat pretplooitjies langs sy oë vorm. “Vertel,” por hy sag.

      Jakob praat die waarheid. Die man neem oor. Maar Debora hou haar stemtoon neutraal. “Toe sê ek nou maar goed, dis dan Ouma se sêding. En ek maak ek my gesegde maar: ‘Dis al’. Dis my stopwoorde as ek nou regtig klaar my sê gesê het.”

      “Nou toe nou,” en die man glimlag dat sy linkerwang ’n kreukel maak. Debora sluk droog en vat die bak met botterige, fyngekerfde peperboontjies by Ouma aan. Skep vir haar daar­van in en Tristan hou ewe sy bord sodat sy vir hom ook moet inskep.

      “Is dit jóú afgesaagde sêding?” glip dit uit toe sy vir hom snysels skaapboud en gebraaide aartappels met suurroom ook moet inskep. Jakob kyk haar terstond verwytend aan. Sy haal ongeërg ’n skouer op, hou haar blik op haar bord want sy voel ouma Debora en die ander se oë op haar.

      Tristan glimlag onverstoord. “Lyk my in dié gesin moet mens jou woorde mooi agtermekaar kry.”

      “Genug,” laat ouma Debora soetjies val. “Vertel jy ons liewer van die Kaap en van al jou hartavonture.”

      Aunt Elizabeth lag by voorbaat en oom Erik se een mondhoek lig. Selfs haar pa en ma lag en Wena loer bewonderend na die hartspesialis. Ewert rol net sy oë. Dis Jakob wat haar inlig: “Jy sien, Debbie, Ouma en Tristan gesels graag oor hartsake en …”

      “Is dit nou anatomies gesproke?” val sy hom in die rede. “Geen dieper gevoelenthede nie? Kliniese feite?” Sy vat ’n groot hap van die groenboontjies, proe die branderigheid van die dis. Wonder wat haar makeer. Dieter, en veral Jakob, gaap haar nou openlik aan. Seker omdat sy so al oor die geliefde mentor se heilige nerf skraap.

      “Wel,” lag Tristan, “hier het ons nou duidelik met ’n huisarts te doen.”

      “Hoe so?” wip Debora haar en kou vinniger.

      “O, dis goed bedoel, hoor. ’n Huisarts kyk sekerlik meer holisties. Met ander woorde omvangryk, na alle aspekte van …”

      “Ek weet wat holisties beteken,” haak Debora weer af en die stilte aan tafel suis.

      “In daardie geval,” gaan hy bedaard aan, “sal jy weet dat jy as huisdokter moontlik dieper as ek na die geestelike of liewer, die abstrakte sy, van die hart kyk.”

      “Gaan aan,” kry sy uit en weet dat sy met moeite haar waardigheid behou.

      “In welke geval jy beter van die spreekwoordelike hartsake sal weet.”

      “Ag, my aarde,” bars Dieter uit van die lag. “Debora is hope­loos met hartsake.”

      “Dieter,” spreek sy pa en ma hom tegelyk aan en Jakob stamp aan hom. Tristan Murray lig sy kop geïnteres­seerd.

      “Vertel,” laat hy saggies hoor.

      Debora wil soos jellie van haar stoel afglip. Maar albei haar neefs is nou op dreef. “Wel, dokter Murray, hier is nou vir jou ’n komplekse geval,” begin Jakob met sy stoutseunglimlag. Sy felblou oë, so eie aan die Schlagerfeldts, glim van genot.

      “Inderdaad, dokter,” gaan Dieter asof afgespreek aan. “Onse Debbie het ’n reputasie dat sy harte met ’n eerste afspraak middeldeur laat kraak. Sy was op die Tuks-kampus bekend daarvoor dat sy nie ’n aster is wat sonder lewensgevaar gesleep kan word nie.”

      “Hoe dan so?” Tristan se stem is tergend laag en Debora voel sy blik op haar gloeiende gesig. Die res van die tafelgenote verlekker hulle ook in haar dilemma.

      “Hulle is laf, dókter,” verweer sy gou en hou haar hand op toe haar ma vir haar nog vleis wil inskep. “Ek weet vir ’n feit dat hulle hoegenaamd nie oor harte beskik nie.” Daarmee probeer sy haar neefs doodkyk maar Dieter en die kwansuis saggeaarde Jakob grynslag soos toe hulle klein was. Die aand se ellende is vir seker nog lank nie verby nie.

      “Nou dít is ’n interessante verskynsel. Amper soos jellievisse wat nie hart of brein het nie?”

      Sy is verras oor die onverwagse steun van Tristan se kant af. Knik net plegtig maar moet konsentreer om nie te tevrede voor te kom nie.

      “Nee, jimmel!” roep Dieter uit. “Ons probeer die man teen gewisse uitwissing waarsku en dan beledig hy ons.”

      “Toemaar, ek het ’n baie sterk oorlewingsdrang,” lag Tristan en kyk spottend na Debora.

      Dis ouma Debora wat weer die perke stel. “Genug! Gaan kry jy en Dieter vir ons die nagereg, Debora.”

      In die kombuis kry hulle die bakke malvapoeding en room­ys met warm vla.

      “Vir jou en Jakob gee ek nog elkeen ’n donnerse seer inspuiting,” sis Debora СКАЧАТЬ