Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten страница 17

Название: Die dood van 'n goeie vrou

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798174190

isbn:

СКАЧАТЬ THERAPIST STRANGLED

      MOM OF 2 KILLED IN HER HOME

      JAGTER SE VROU WREED VERMOOR

      Die laaste een vat die koek, asof Clara sonder haar jagterman kwalik nuuswaarde het, lewend óf dood.

      Sy smyt die koerante op haar lessenaar en begin lees. Clara Heyns se gesig is ook die hooffoto op elke voorblad – vriendelik, glimlaggend, pragtig, so anders as die verrinneweerde gesig toe hulle haar van die voetstoel op haar rug neergelê het.

      Die onnatuurlike dood van ’n mooi vrou. Wenresep vir elke koerant, orgastiese gelukkie vir elke tabloid-redakteur. Clara het gisteraand selfs die TV-nuus gehaal, saam met die pratende polisiekop se gewone diarree, gewone niksseggende clichés: Ons volg belowende leidrade op … Ons laat geen steen onaangeraak nie … Ons sal nie slaap tot ons die skuldige gevang het nie … Ons doen alles moontlik om moorde op vroue en kinders te bekamp …

      Dis omtrent toe dat sy na Big Bang oorgeskakel het.

      Die foto’s van Clara is nie een van dié wat sy in die huis gesien het nie. Sy wonder of Babs dit vir hulle gegee het, of dalk Tom Heyns self, want daar is ook kommentaar van hom.

      Mnr. Tom Heyns sê in ’n kort verklaring wat deur sy prokureur uitgereik is:

      “Clara was ’n wonderlike vrou en ma en het ook baie liefdeswerk gedoen. Haar dood is daarom nie net vir ons as gesin en familie ’n groot skok en verlies nie, maar ook vir al haar vriende en almal wat sy so onbaatsugtig gedien het. Sy laat ’n leemte wat moeilik gevul gaan word.

      “Ek is vol vertroue dat die polisie haar geweldenaar gou sal opspoor sodat geregtigheid kan geskied.”

      Op pad om koffie te gaan kry, maak sy ’n draai by Fred se lessenaar. “Nog niks by bure gekry nie?”

      Ook hy lees oor die moord en kyk gesteurd op. “Ek hét jou e-posadres, as ek iets kry, stuur ek dit.”

      Sy voel die hittigheid aan haar kiewe, swaai om koffiemasjien toe. En sug. Koud en leeg. Hulle is vinnig om dit uit te suip, maar niemand sal vars koffie maak nie. Hoekom sal hulle? Sy’s mos daar, dis mos ’n vrou se werk.

      Haar sel lui net toe die filtreerder uiteindelik weer begin drup. Babs Eloff.

      “My gewete pla my, ek wou jou nog iets vertel het. Moes dit gister al gedoen het toe jy vra of Clara vyande gehad het. Of sy iemand se kêrel afgevry het. Onthou jy dit?”

      “Die afvryery was net ’n beeld. Sy’s tog seker nie iemand wat …”

      “Wel, sy hét, sy’t Tom afgevry. Ek moes dit vir jou gesê het. Ek weet nie hoekom ek stilgebly het nie. Jy sou dit uitgevind het, dis nie ’n vreeslike groot geheim nie. Weet nie of dit eintlik ter sake is nie, dis al so lank terug. En nie juis iets om oor te moor nie.”

      “Ek sal graag wil hoor, al is dit net om Clara beter te leer verstaan.”

      “Ek wil nie dat Tom dink ek skinder oor hom nie.”

      “Hy sal nie weet nie, Babs. Wanneer was dit?”

      “Hulle oudste is elf.”

      “Clara het swanger geword toe Tom nog met ’n ander vrou getroud was? En jy dink sy eks het iets hiermee te doen?”

      “Hemel, nee! Haar naam is Mollie, sy was destyds taamlik bitter, wie sal nie wees nie? Maar het toe seker begin dink: good riddance. Want sy’s lankal weer getroud, glo gelukkig, glo in die Kaap, weet seker nie eens van Clara se dood nie.”

      Ella knyp die sel met ’n skouer vas en skink haar koffie. “Dankie dan, Babs, bel gerus as nog iets jou byval.”

      “Ja, daar ís nog ietsie. Jan sê gisteraand ’n snaakse ding. Vra of Clara ooit iets vir my gesê het oor Tom se Duitser.”

      Ella sit die beker neer en vat die sel stewiger vas. “Tom se Duitser?”

      “Tess.” Gee kans dat dit insink. “Ek sweer hy’s wéér besig met sy dinge. Jan sê dis Tom se nuwe partner. Tess Waldeck. Was glo saam Sun City toe vir die wild-indaba.”

      “Watse partner?”

      “Sy jagsafari, en sy taksidermis-besigheid. Jan sê Tom is ’n beter jagter as sakeman. Clara het hom gehelp om sy besighede van die grond af te kry, met haar pa se geld. Maar Jan dink sy’t die kraantjie begin toedraai.”

      “Toe gaan soek hy ’n ander vennoot. Of sy kom soek hom. Dink Jan die vennootskap het ’n nuwe vlak bereik, gevorder tot meer as net ’n saketransaksie?”

      “Jan weet nie, maar hy sê as hy mý nie gehad het nie, sou hy ook graag met só ’n partner indaba wou hou. Ek sê vir hom: Ja, Jan my lief, droom maar lekker, dis nog ál wat jy kan doen.”

      A, die ou, ou motief, holrug al: as jy nie ’n nuwe polis kry nie, soek ’n nuwe skelmpie. Maar ís Tom Heyns weer besig met ’n owerspelige vryery? Indien wel, is dit sommer net ’n opportunistiese gekattemaai, ’n affaire d’amour? Of het dit al gevorder tot die vlak waar dit ’n rede kan word om van die lastige derde been van die ewige liefdesdriehoek ontslae te raak?

      Nege-uur stap sy agter die hospitaal by die anneks van die regsgeneeskundige laboratorium in. Dokter Koster se nekropolis. Hier heers hy oor ’n klein leërskare kadawers, patoloë, lykhuisdieners en annerlike outopsie-, admin- en lab-assistente wat slagoffers van verdagte geweld en onnatuurlike dood afspoel en oopsny en dissekteer, hulle ingewande uithaal en weeg, hulle weefsel en selle onder mikroskope bestudeer en oorweeg, en hulle weer toeryg en bedek en terug in yskaslaaie deponeer, om dan in Engels, asof dit ook van die dooies die lingua franca is, deurknede verslae te skryf oor contusions, abrasions en lacerations, livor mortis, rigor mortis en algor mortis, oor asphyxiation, subarachnoid haemorrhage en vitreous humour, contact wounds, trauma en – meer op die punt af – oor manner of death en cause of death en time of death.

      Sy het al gehoor dat sekere chirurge en forensiese patoloë en diesulke snyers en kerwers graag na sê nou maar Tsjaikofski of Sjostakowitsj of Rimski-Korsakof luister – glo om die gemoed en hartritme te kalmeer, en die hand met die skalpel stigtelik te hou. Ander verkies Nataniël of Mandoza of dalk Fokofpolisiekar. Dok is ’n Billy Joel-fan, en sy dink Clara Heyns sal uit haar witbroodwêreld ook die lustige “Uptown Girl” waardeer.

      Maar toe sy langs die outopsietafel kom staan en die diener die laken wegtrek, fladder iets in haar maag. Dit gebeur elke keer wanneer sy afkyk op ’n liggaam hier op Dok se koue, blink staaltafel. Die gefladder van ’n diepe treurnis, wat dan toevou soos ’n bol deeg.

      Want hier lê die eens opgeruimde en uitverkore Clara nou bleek en weerloos, en so onverwags tenger in al haar naaktheid. Ja, jy kan ontslae raak van die persoonlike puin van jou lewe, maar hoe berei jy jouself voor vir hierdie finale vernedering, hierdie pornografie van die dood, waarin niks meer privaat is nie, selfs nie die gewig van jou hart waarin jy soveel liefde probeer bewaar het nie?

      Skielik is dit of sy ’n sensasie ervaar van groot liggaamlike metamorfose, nie insekagtig soos Gregor Samsa nie, maar kadaweragtig soos Clara Heyns. Sy kyk af na Clara, maar sien haarself hier lê. Oë geslote, ongeplukte wenkbroue en ongekleurde lippe, prominente sleutelbene en klein borsies, dunnerige arms, in die kom van die heupe die verskrompelde perserige velletsel aan haar plat magie met die ligte donsies, heupknoppe en gesnoeide hare waar bobene ontmoet, skraal voete soos dié van ’n kind.

СКАЧАТЬ