Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten страница 14

Название: Die dood van 'n goeie vrou

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798174190

isbn:

СКАЧАТЬ Wel, hy kan maar wag. Ten minste het hy ’n kat.

      Sy begin weer ligte afsit om nou ook die pad te vat, om moeg en alleen in die nag uit te ry na haar eensame donker huisie, met niemand wat vir haar wag nie. Sal wel ook iets in haar ou yskassie ontdek, so tussen al die beet en sampioene.

      II

      Leidrade en bewysstukke

      I think perhaps all of us go a little crazy at times.

      – Norman Bates [Robert Bloch: Psycho]

      1

      Ná oggendgim is sy skaars onder die stort uit, toe lui haar sel. Sy bekyk die naam en druk Decline. Vat ’n sluk koffie, vryf haar hare droog, skud die kort kapsel uit nes ’n nat hond, en begin aantrek, haar gewone werksuniform: langbroek, bloes, sagte skoene vir baie stap. In die kombuis kerf sy ’n piesang in haar muesli en jogurt, gaan sit by haar ou oregontafel en vat ’n hap. Sy kou tydsaam en staar na die sel langs haar bord.

      Voor die tweede hap gryp sy die foon en bel Lou terug. “Soek jy my?”

      “Ja, ek soek jou, ek soek jou áltyd.”

      “Hoekom?”

      Momentele stilte, so twee, drie hartkloppe. Komaan, Lou, hier’s weer ’n kans, hoeveel kanse wil jy hê?

      “Hoekom? Oor ek jou mis, dis hoekom.”

      “En?”

      “Uh …”

      Nóg ’n stilte, dié slag langer. Die man is skoon konfoes. En die antwoord is so maklik: Ella, my hart se punt, wou jou nog sê … sal nooit raai wie daag toe Vrydagaand skielik by my op nie – my langverlore sus, die een met die rooi hare.

      Dog jy’t net ’n langverlore broer.

      Het ek gesê sus? Ek bedoel die sexy niggie aan my ma se kant.

      Dog jou ma was ’n weeskind. Praat ons van dieselfde ma, jou hippie-ma, die een wat destyds ge-OD het?

      Tsk-tsk, waar’s my gedagtes? Bedoel aan my pa se kant, die rooikoppe is aan sý kant.

      Dog jy sê jy’t dertig jaar laas kontak gehad met énige lid van jou familie. En die laaste was jou ouma, die een wat jou summier koshuis toe gepos het ná jou pa ook oor die horison verdwyn het. En waar’s jóú rooi hare, hoekom het die vadersgoed, sy rooihaargene, nie aan jou afgesmeer nie? Nie eens aan jou … aan jou …

      “Ella? Is jy nog daar?”

      “Ek’s nog hier.”

      “Ek het die tjops en wors vir vanaand uitgehaal, hoe laat sien ek jou?”

      “Ek’s op pad terug na die moordhuis, Lou, jy sien my nie vanaand nie. Koebaai.”

      “Ella, wag –”

      Sy eet haar brekfis klaar, drink nog koffie en maak ’n tweede oproep, dié een na die polisie se traumaberader. “Doktor Landsberg, dis ek, Ella Neser, miskien onthou jy my?”

      “Natuurlik onthou ek jou, Ella. Jy was laas met daai verskriklike reeksmoordenaar deurmekaar, amper ook ’n slagoffer as ek reg onthou. Hoe gaan dit met jou?”

      “Skaflik, dankie, doktor.”

      “Noem my Mimi, ons is mos al ou vriendinne.”

      “Oukei, Mimi. Sorry om so vroeg op ’n Sondagoggend te pla, maar daai kalf, jy weet, die beneukte een … En dis persoonlik dié slag.”

      “Dis altyd persoonlik, Ella. En altyd dringend. Ek verstaan dit goed. Wat van sesuur?”

      “Vanaand?”

      “Sondag is eintlik my rusdag, maar vir jou maak ek tyd. Die res van die week is vol geboek.”

      Die derde oproep is na Babs Eloff. “Weer Ella Neser van moord-en-roof.”

      “Het julle hom gekry?”

      “Nee, bevrees nie. Is Tom Heyns toe al weg?”

      “Ja, arme kinders. Tommy en Alwyn was so geheg aan hulle ma.”

      “Ek wil met iemand gesels wat haar goed geken het, iemand soos jy, haar beste en oudste vriendin. Kan ek vanmiddag oorkom, sê so drie-uur?”

      “Jan dut dan, wat van later – vyfuur, sesuur se koers?”

      “Sesuur moet ek elders wees.”

      “Goed. Drie-uur is reg.”

      Sy wil agterkom wie Clara Heyns regtig was, hoe haar kop gewerk het, sy wil die vrou ágter die openbare persona leer ken – die eggenote, ma en vriendin in haar alledaagse lewe en roetine en drome en behoeftes. Dis hoe sy altyd werk, nog een van haar maniertjies, en selfs bietjie bisar, maar dis vir haar baie belangrik om self ook ’n vriend van die dooie te word.

      Die Eloffs woon teen Northcliff se Aasvoëlkop, pragtige boomryke uitsig, suidwaarts ook oor Braamfontein, Hillbrow en die middestad se toringwoud.

      Babs se oë is rooi en sy probeer hard om nie haar tee te stort nie. “Ons was in Pretoria al boesemmaats, saam in die koshuis en skool, toe saam op Tuks. Die Dreyers was altyd goed gesete, daar van Ellisras se kontrei. Lephalale. Haar pa boer steeds groot met bees en wild, maar is nie te gesond nie.” Sagter, leun vooroor: “Die grond was vir Clara en haar sus bestem, maar as jy my vra, het Tom klaar sy voet so half daar in die wildplaas se hek ingekry, kan nie wag dat die ou man omval nie.”

      “Net ’n suster?”

      “In Perth, getroud met ’n uroloog. Clara was hoofmeisie, kaptein van die tweede netbalspan, gekys met die kaptein van die eerste rugbyspan, vier onderskeidings in matriek. En so meer. Groot dinge is vir haar voorspel en sy’t niemand teleurgestel nie.”

      Dié inventaris van deugde maak Ella skoon morbied; háár skoolloopbaan was so-so, altyd onder die radar en sonder danige hoogtepunte, óf laagtepunte (behalwe vir die gatslag met Leendert Lessing: verlei haar en verdwyn met haar himen oor die einder, iets soos Lou se pa). Maar sy gun Babs die rosige bril waardeur sy na Clara terugkyk, dis net menslik, veral ná afsterwe – in begraafplase lê mos net goeie dooies.

      “Sy klink regtig na ’n soort engel, nè?” sê Ella.

      “O ja, ’n regte engel,” sê Babs. “Dis soos sy is … soos sy was, het altyd almal probeer help. Besige praktyk en ’n hand in alles, vrywillig, uit die goedheid van haar hart, vra nooit ’n sent nie. Nie dat sy geld nodig gehad het nie. Doenig by ’n support group vir vroue, tehuis vir straatkinders, sopkombuis, hospies, dwelmslawe, bied elke Desember ’n Kersspel aan vir siek kinders.”

      Smaak verskil, ook tussen boesemvriende. Ella, op ’n uitgesitte bank van pluche, kry die gevoel dat Babs se huis sukkel om ’n vroeëre era af te skud.

      “Wat van vyande? Weet jy van iemand wat dalk vir haar vies was, dalk iemand wie se kêrel sy eens afgevry het?”

      Sy СКАЧАТЬ