7 Dae. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 7 Dae - Deon Meyer страница 7

Название: 7 Dae

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798156226

isbn:

СКАЧАТЬ is ’n sekere sensualiteit aan die foto.

      Mooi vrou. En sy weet dit. Sy hou daarvan, sy paradeer dit so ’n bietjie.

      Die tweede foto is halflyf, haar kop net effens gesak sodat haar donker oë opkyk na die kamera. Sy het ’n gemaklike glimlag, wat ’n klein gaping tussen haar voortande sigbaar maak. Haar hare is nou vas na agter. ’n Dun, noupassende en kraaglose grys bloes met ’n lae hals stal die groot, prominente borste met ’n soort argeloosheid uit.

      Die derde een is ’n naakstudie, donker en kunstig. In goeie smaak. Die agtergrond is pikswart, die beligting van regs en agter, haar lyf gedraai, sodat net ’n wangbeen, die punt van haar neus, ’n groot, ronde oorbel, die slanke lyn van haar nek, ’n skouer, ’n enkele, perfekte bors en tepel, ’n heup en die buitelyn van ’n been sigbaar is.

      Hy vermoed die foto’s is onlangs geneem, sy lyk volwasse, naby aan die ouderdom van 33, volgens die dossier.

      Hy rangskik die foto’s in ’n ry langs mekaar. Kyk weer. Watter persoonlikheid, watter motivering het haar dié moeite laat doen? Hoeveel ure, om die afspraak by die fotograaf te maak, om die regte kledingstukke te kies, om die fotosessie af te handel? Sy, ’n besige handelsprokureur.

      En die borste. Onnatuurlik groot en perfek, soos iemand wat dit chirurgies laat verbeter het.

      Vir wie? wonder hy. Vir wie het sy dié foto’s laat neem?

      Hy sit en staar, gefassineer deur die smeulende vrou.

      Sy selfoon lui, skielik en skril.

      Hy kom terug na die hede met ’n vae skuldgevoel, moet eers na die instrument soek. Hy kry dit in die sak van sy baadjie wat oor die stoel hang, haal dit uit. ALEXA, staan op die skerm.

      Fok. Hy moes haar gebel het. Kyk na sy horlosie. Dis amper elfuur.

      Hy antwoord: “Alexa, ek is baie jammer …”

      “Nee, dis nie Alexa nie,” sê ’n manstem. Onvriendelik. “Sy het gesê ek moet jou bel om haar te kom haal.”

      “Waar is sy?”

      “Sy’s dronk, meneer. Van haar voete af dronk.”

      5

      Op ’n drafstap na sy kar toe met die lêers in sy arms en die wete dat dit sý skuld is. Hy het haar in die skande gesteek, haar alleen gelos, haar niks laat weet nie. Sy was honderd-en-vyftien dae lank nugter en nou het hý haar weer na drank gedryf.

      Hy maak die agterdeur van die BMW 130i oop, sit die dokumente op die sitplek, klap die deur in frustrasie toe, klim voorin en ry.

      Hy moes geweet het Alexa het destyds gedrink omdat sy vrees vir die verhoog gehad het, en vanaand was ’n soort verhoog, haar eerste interaksie met musiekmense in jare, haar senuagtige terugkeer na die kollig. Hy moes gedink het, moes sy taal en sy reaksie beheer het. Hy moes vir die brigadier gesê het hy kan nie dadelik kom nie, hy moes Alexa eers huis toe geneem het. Maar nee, al waaraan hy kon dink, was sy eie skande. Hy is ’n swaap, ’n fokken dom poliesman.

      Wat is verkeerd met hom?

      Die waarskuwing van Dok Barkhuizen wat nou deur sy kop flits: “Versigtig, Bennie, jy’s nog nie ’n jaar droog nie. Twee alkoholiste … dis dubbel die risiko.”

      En hy het geprotesteer en gesê hulle is net vriende, hy kan haar ondersteun, aanmoedig, hulle gaan saam-saam na die AA-byeenkomste toe. En Dok het sy kop geskud en gesê: “Versigtig.”

      Hoe het hy haar vanaand ondersteun?

      Hy moes na Dok geluister het. Want Dok het geweet die “net vriende”-verduideliking is ’n rookskerm. Dok het gesien hy hóú van Alexa. Al hoe meer.

      En sy van hom, het hy gedink.

      En nou? Nou’t hy alles opgefok.

      Hoekom jaag hy altyd aan? Hoekom is sy lewe net nooit eenvoudig nie? Net fokken nooit. Hy’s vyf-en-veertig, die ouderdom waarop hy veronderstel is om innerlike kalmte en wysheid en berusting te kry, die ouderdom waarop jy jou lewensgemors al moes uitgesorteer het. Maar nie hy nie. Sy lewe is konstante chaos. ’n Onophoudelike stroom moeilikheid, ’n nimmereindigende stryd om dit te probeer hanteer. Maar hy kan nie wen nie, dis die een ding op die ander. Jy kan net nooit voor kom nie.

      Hy het nou net, die afgelope maand of twee, so half aan die hele egskeiding-ding begin gewoond raak, probeer vrede maak met die feit dat hy en Anna verby is. Heeltemal, onherroeplik verby. Hy sukkel nog met die ding dat sy al hoe ernstiger met ’n prokureur deurmekaar is. ’n Fokken prokureur. Maar hy werk daaraan, fok weet, hy probeer.

      Hy het sy rieme dunner gesny om die onderhoud te betaal, en sy bydrae vir Carla se studies, en hy kan al amper daarmee saamleef, al voel hy hy word geboor, hy betaal veel meer as Anna en hulle verdien omtrent dieselfde.

      Hy’t die afgelope weke hard probeer om by die Valke in te pas, die nuwe verhoudings, die nuwe strukture, die nuwe range. Almal se range wat verander het, terug na die militêre struktuur van die ou dae. Almal behalwe syne, want ’n kaptein bly ’n kaptein. Maar dit het hy ook aanvaar.

      Hy’t weer in ’n roetine gekom met sy kinders. Carla, wat nou drama op Stellenbosch swot. Drama, asof sy nie al genoeg daarvan in haar lewe gehad het met ’n alkoholis-polisieman-pa en die hele egskeiding-gemors nie. Dráma. Waar gaan die kind werk kry? En sy seun, Fritz, wat dalk of dalk nié matriek gaan deurkom nie, want hy speel nou kitaar vir Jack Parow se orkes. Jack Parow. Hip-hop of rap of wat jy dit ook al noem, vloek erger as ’n poliesman. Maar wat kan hy doen? Fritz het talent – Jack het hom self kom vra, kom speel vir my. Hy’t vrede gemaak daarmee dat die wêreld verander het, dat die kinders deesdae keuses het, dat hulle benadering tot loopbane anders is.

      Vrede met ’n klomp dinge. Op die randjie van regkom.

      En nou het hy op een aand gaan staan en ’n doos van homself maak voor drie mense vir wie hy ontsaglike respek het: Anton Goosen, Lize Beekman en Alexa Barnard. En laasgenoemde na die bottel laat gryp.

      Laat hy dit nou maar aanvaar. Hy’s ’n fokop.

      Die woord hang vir ’n oomblik in sy gedagtes, en hy besef: Dis die gevloek. Dis die probleem, dis die ding wat vanaand al die moeilikheid gemaak het. Nou, hier, moet dit einde kry. Hy het klaar gevloek. Klaar. Vir die res van sy lewe. Soos hy die drank gelos het, só sal hy die fokken gevloek ook los.

      En môre, as sy nugter is, sal hy vir Alexa van die Sloet-saak verduidelik en haar om verskoning vra, en haar laat bel na die ander twee toe, sodat sy kan sê: Dit was uit bewondering en senuwees, miskien het dit ander mense ook al oorgekom, miskien is hy nie die eerste nie.

      En dan dink hy hoe mooi Alexa gelyk het en aan sy vinnige hoop, by haar huis, vir ’n gelukkie vanaand, en hy snork minagtend vir homself, vir dié wêreld, in sy Valke-BMW op die N1. En hy dink, die lewe is net nooit fo– … Verdomp. Die lewe is net nooit verdomp eenvoudig nie.

      Hy vind geen vreugde in sy nuwe woord nie.

      * * *

      Hy hou by die Kunstekaap stil. Sy selfoon lui. Dit is seker weer die sentrumbestuurder, oor Alexa. Hy antwoord haastig, wil sê hy is hier.

      “Griessel.”

СКАЧАТЬ