7 Dae. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 7 Dae - Deon Meyer страница 4

Название: 7 Dae

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798156226

isbn:

СКАЧАТЬ sug. “Probleem is, sy het die derde Januarie in die woonstel ingetrek, sy’s die agtiende vermoor. Sy was nog nie heeltemal uitgepak nie. Niemand kon vir die Groenpunt-speurders sê of daar iets gesteel is nie.”

      “Ons moenie te veel verklap nie,” sê Manie versigtig vir die generaal. “Ons wil hê Bennie moet met ’n vars oog kyk. Van voor af deur die dossier werk, kyk wat hy kan kry.”

      Afrika knik instemmend.

      Griessel tel die e-pos op. “Brigadier, wat van hierdie ‘toesmeer … julle weet hoekom sy vermoor is’?”

      Voor Manie kan antwoord, sê Afrika driftig: “Dis twak, Bennie, absolute twak. Jy moet na sy ander e-posse kyk. Vreeslike insinuasies. Ons beskerm die kommuniste en die Antichriste en ek weet nie wat alles nie.”

      “The guy is a loony,” sê Nyathi. “White supremacist, hates us, hates the government, hates gay people, hates everybody.”

      “ ’n Terroris, dis wat hy is, ’n terroris wat skuil agter ’n anonieme e-posadres. Untraceable.” Afrika skuif ’n dun lêer voor hom ook na Bennie toe. “Hier is die ander briewe. Jy sal sien.”

      Moet hy die sluipskutter-ding ook ondersoek?

      Die brigadier sien sy onsekerheid, want hy sê: “Jy weet hoe dit is met die malles, Bennie – partykeer fikseer hulle op ’n spesifieke saak. Maar as daar ’n verband tussen die skieter en Sloet is, en ons het dit gemis … CATS gaan die skieter jag, kol. Du Preez is die JOC-leier.”

      “Mbali sal ons ondersoekbeampte wees, brigadier,” sê Du Preez. “Sy’t gister teruggekom uit Amsterdam …”

      “Amsterdam, o, Amsterdam,” sê Afrika kopskuddend maar goedig.

      “Our dear Mbali …” sê Nyathi en glimlag ligweg.

      Die eenheid gons die afgelope week oor “die insident in Amsterdam”. Die gesette Mbali Kaleni, al ses maande lank lid van Du Preez se CATS-groep, was deel van ’n groep speurders wat in Holland gaan kursus doen het. En toe gebeur daar iets met haar, volgens die SAPD-bostelegraaf ’n kwaai verleentheid. Maar ondanks die spitsvondige spekulasie in die wandelgange weet niemand regtig wat plaasgevind het nie. Behalwe die topstruktuur, en hulle swyg soos die graf.

      “Jy gaan jou hande vol hê, Bennie, maar dis belangrik dat jy weet hoe CATS vorder, waarna hulle kyk. En as jy iets kry wat hulle kan help …”

      “Jy weet hoe ons werk, Bennie,” sê kol. Du Preez. “Een groot span …”

      Griessel knik weer.

      Nyathi vou sy arms en sug. “Bennie, if word gets out there’s someone blackmailing us, shooting policemen … Feeding frenzy for the media, public panic.”

      “Cloete gaan die konstabel se knie uit die koerante uit hou. Net sodat jy weet, Bennie,” sê Manie. “Wees asseblief versigtig met die media. In elk geval, adjudant-offisier Nxesi is die Groenpunt-speurder wat die Sloet-saak gedoen het, jy kan hom bel, enige tyd, hy’s reg om in te kom.”

      “Our whole team is ready to support you,” sê Nyathi.

      “Sonder om ekstra druk op jou te sit, Bennie,” sê Afrika met groot erns, “maar jy sal moet wikkel. Hierdie mal bliksem gaan poliesmanne skiet tot jy die saak opgelos het.”

      * * *

      Halftien op ’n Saterdagaand stap Griessel na sy kantoor in die grafstil, wye gange van die DPMO – die Valke – se gebou. Hy verwonder hom aan die invloed wat die Steyn-saak, waarna Manie netnou verwys het, die afgelope jaar op die SAPD gehad het.

      Estelle Steyn, die jong, pas gekwalifiseerde sjef wat agtien maande gelede in haar Pinelands-meenthuis verwurg is – met ’n stuk materiaal, vermoedelik ’n das. Geen tekens van ’n inbraak, diefstal of seksuele aanranding nie – dit moes iemand gewees het wat sy geken en vertrou het. Soos haar dasdraende verloofde, die somber, emosielose KPMG-konsultant met die koue oë en ’n sleutel vir haar deur. Hy is binne 72 uur gearresteer en aangekla, en die media en vasgenaelde publiek het hom onmiddellik skuldig bevind. Want Estelle Steyn was ’n lewenslustige bondel sonnige energie, volgens kollegas ’n briljante kok met ’n blink toekoms. Langs haar blonde, glimlaggende skoonheid op die koerantvoorblaaie het die verloofde se foto broeiend en onheilspellend gelyk, die kil blik weggekeer van die kamera. Soos ’n man wat swaar dra aan sy wandade.

      En toe kom die hofsaak.

      Die verdediging het soos ’n trop wildehonde die karkas van swak misdaadtoneelbestuur, die noue ondersoekfokus en die kreatiewe geloofspronge van die forensiese getuies uitmekaargeskeur. Ná sewe maande se sensasie het die verloofde as ’n vry man uitgestap.

      Die media het gekasty en gekraai, die volk was geskok en verstom. Maande daarna het topverkoper-boeke deur kriminoloë en forensiese kenners nog elke SAPD-misstap ontleed en gekritiseer. Die opposisie het keer op keer in die parlement die hele gemors as ’n slaansak gebruik om die regering mee by te kom – die skade en skande wou nie ophou nie.

      En die ondersoekbeampte, Fanie Fick, se loopbaan was verby. Hy sit nou weggesteek by die Valke se Inligtingsbestuursentrum (IMC), heropgelei en -ontplooi as rekenaarnavorser, maar almal weet hy sal nie weer bevordering kry nie. Agteraf praat almal van “Fanie Gefok”, die ou wat elke laatmiddag sy pyn gaan verlig by die Drunken Duck in Stikland.

      Dis hoekom die Sloet-dossier wat Griessel nou na sy kantoor toe dra, so pynlik volledig en “volgens die boek” is. Want die polisiewonde is nog rou, die eer nog diep gekrenk, die vrees groot vir nog ’n speurder-slagoffer, nog slae en kritiek vanuit topbestuur, die media en Jan Publiek.

      Dit is waarom genl. Afrika vanaand hier by die DPMO in vergadering gesit het en waarom hy kom vra het vir ’n spesifieke speurder.

      Vrees. Want die Valke aanvaar nie gewoonlik opdragte of insette van ’n provinsiale speurhoof nie. Hulle is te heilig op hul onafhanklikheid, op hul eie strukture.

      Vrees, dink hy, is ook die rede waarom hulle nou toelaat dat die skieter hulle afpers. In die ou dae sou die SAPD nie gebuig het voor die dreigemente van ’n sluipskutter nie.

      Griessel sug, sluit sy kantoordeur oop. Dis ’n resep vir moeilikheid hierdie.

      Die lewe is nie eenvoudig nie.

      * * *

      Hy rangskik die lêers oor die lessenaar, maak eers die dun een oop wat John Afrika vir hom gegee het. Hy begin die e-posse in volgorde lees, sukkel aanvanklik om te fokus, te veel dinge wat vanaand te vinnig gebeur het.

      [email protected]

      Sent: Monday 24 January. 23:53

      To: [email protected]

      Re: Hanneke Sloet

      Julle weet goed wie vir Hanneke Sloet vermoor het. Arresteer die kommunis, of ek gee alles aan die media.

      Die tweede een is heelwat langer:

      [email protected]

      Sent: Monday 31 January. 23:13

      To: [email protected]

      Re: СКАЧАТЬ