Adrenalien. Leon van Nierop
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Adrenalien - Leon van Nierop страница 4

Название: Adrenalien

Автор: Leon van Nierop

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780624073048

isbn:

СКАЧАТЬ nie, ek kan nie, ek …”

      “Meneer Prinsloo!”

      “Ek kan nie nou praat nie!”

      Toe hy buite is, hoor hy steeds die geluide wat daar binne was hier in die stilte van die verlate middestad. Kan hy die blikke voel van die twee mans wat kopskuddend na hom kyk voordat hulle weer in die teater verdwyn.

      By sy motor klik hy die afstandbeheerder en is dankbaar wanneer hy die geel stertligte sien flikker.

      Hy voel hy moet sy kop draai – maar hy wil nie weet of daar regtig iemand in die deur na hom staan en kyk nie.

      Gustaf spring in die motor, sluit die deur en leun met sy kop teen die stuurwiel. Dit neem etlike minute voordat hy sy asem terugkry.

      Hy skakel die enjin aan, sit die motor in eerste rat en trek weg.

      Dis toe hy in sy truspieëltjie kyk dat hy wel die figuur voor die ou teater sien staan. Die boggelrugmannetjie met ’n rooi mussie en ’n sak vol sand oor sy skouer.

      Klaas Vakie.

      Klaas Vakie wat voor die rolprent begin het wit sandjies in sy oë kom strooi het.

      2

      Die hele pad terug huis toe weet Gustaf: hier kom ’n ding. Dit kan ’n senu-instorting wees. Dit kan ’n ligte beroerte wees. Iets is aan die krioel in sy ingewande wat hom waarsku dat sy sisteem gaan inkonk. Dit voel soos wanneer hy na ’n griller op die silwerdoek kyk en weet iets verskrikliks gaan gebeur, maar erger. Dan kruip die afskuwelikheid soos elektriese wurms teen sy ruggraat op, deur sy skouerblaaie, tot duisende pootjies sy kopvel van sy kroontjie af tot naby sy voorkop kielie.

      En dan sy hart wat kort-kort ruk. Is dit hoe ’n hartaanval voel? Het Die Waarheid hom ingehaal?

      Hy knip-knip sy oë en kyk na die strate vol vullis – leë kanale van slordigheid met hier en daar ’n lamplig wat werk. Hy sien blertse koeldrank of bier op die teer. Seker by taxivensters uitgegooi. Gewoonlik moet hy sy oë op die pad hou en konsentreer om nie deur ’n taxi raak gery te word nie. Of mense om te ry wat oor die pad slenter juis wanneer hy aangery kom nie. Maar nou is die stad soos die voosgevrete karkas van ’n bok met derms en mis wat uitpeul. Al die vet en binnegoed is uitgeruk deur hiënas wat net die beendere en stukke vel oorgelaat het.

      Klaas Vakie netnou! Kan dit wees?

      ’n Windjie tart die rommel langs die strate – die papiersakke, Daily Sun-plakkate, sigaretpakkies en -stompies is amper mooi, soos graffiti teen ’n agterstraatmuur.

      Hy bewe so dat hy beswaarlik die stuurwiel kan vashou. Dis net die naalde wat in sy kopvel prik en die beeld van Klaas Vakie wat hom by sy bewussyn hou.

      Hy onthou as kind – hy was so vier of vyf – het sy mangels sy sisteem vergiftig en het sy ouers besluit om dit te laat uithaal. Die gif het so versprei dat hy begin hallusineer het. Die aand in die hospitaal voor die operasie, het sy ma langs sy bed gesit. Dit was die eerste keer dat hy iewers anders as in sy eie bedjie geslaap het, omring deur sy teddiebere en Knikkie-boekies en sprokies. Hy het altyd gewonder hoekom daar nooit sprokies oor Klaas Vakie was nie, want die boepens-mannetjie met die slaapmussie op die kop en die sak met sandjies oor sy boggelruggie het hom betower.

      “Ek kry nêrens ’n storie oor Klaas Vakie nie, nie eers in die Skatkis-reeks nie. En dié op die internet is te gruwelik! Ek is seker die karakter was ’n psigoot!” hoor hy sy ma vir sy pa sê.

      Dit was die eerste keer dat hy die woord “gruwelik” gehoor het. Hy het dit probeer sê en op die “g” gery. Klaas Vakie is gruwelik. Gruwelik!

      Maar die ander woord, “psigoot”, het in sy kop bly vassteek. Hy het dit eers gehoor as “sigôt”. Klaas Vakie is ’n sigôt. Dit het hom aan ’n ietermagog laat dink, en hoe hy eendag by die skool ’n foto van dié snaakse dier gesien het. Dit was die kort klanke, die harde g-klanke wat hom bygebly het.

      Hy het al van Klaas Vakie vergeet. Maar Klaas Vakie het hóm nie vergeet nie …

      Daardie selfde aand voor die operasie het ’n verpleegster vir hom kos gegee: groente, vis en aaklige pienk jellie. Daarna het sy vir hom iets ingespuit sodat hy kon slaap. En toe is sy uit. Eenkant het ’n pil in ’n bakkie gelê wat die verpleegster daar gelos het, toe drink hy dit. Minute later het hy drogbeelde begin sien.

      Tussen die gedrogte en die vaak deur het hy gesien hoe die ander pasiënte aan die slaap raak. Hy wou praat, maar sy tong was lam van die pil.

      Iewers digby halfelf het hy Klaas Vakie voor sy bed sien staan met sy boggelruggie en sy sak vol sandjies. “Sigôt!” het Gustaf probeer sê. “Sigôt!” Maar geen klank het uitgekom nie.

      Die mannetjie het ’n lelike haakneus gehad en groot Pyrex-bord-oë waarvan elke iris ’n ander kleur was. Om nie te praat van die skewe rooi mussie op sy kop nie en die moesies op sy wang met ’n lang haar in elkeen. Waar ander sprokiesmannetjies ’n klokkie aan die punt van hul mussie gehad het, het hierdie kreatuur ’n klein kopbeen gehad. En op sy voorkop was ’n ding getatoeëer wat soos ’n koringkriek gelyk het, kompleet met grypende voelers en ’n harde doprug vol grieselrige strepe. Dit is wat Gustaf die beste onthou – die dop met die strepe op Klaas Vakie se voorkop.

      En die hare uit die moesies waaraan hy wou trek.

      Die mannetjie het nader geloop. En toe praat Klaas Vakie in die stem wat hy ’n halfuur tevore in die bioskoop gehoor het:

      “Ek gaan sand in jou oë strooi totdat jy blind word daarvan. En elke korreltjie gaan jou oogballe krap en skaaf en brand totdat jy net my gesig sal sien. Vir altyd en altyd en altyd. Ek gaan jou help om jou geheime te sien. Om jou gewete te sien.”

      Daarna het hy aan die slaap geraak.

      Die volgende wat hy onthou, was toe hulle hom operasiesaal toe gestoot en hy die plafon bokant hom sien verbygly het. Hy het homself opgelig om te kyk. Aan die onderpunt van die gang het Klaas Vakie met sy mussie vir hom staan en wag met ’n blink operasiemes in sy hand.

      Gustaf het begin skreeu. Hy wou wegkom. Dit het drie verpleegsters gevat om hom vas te hou tot in die operasiesaal. Daar het hulle ’n masker oor sy gesig geplaas. Die bekommerde dokter het oor hom gebuig. Maar agter hom was Klaas Vakie met sy blink mes en sy ronde Pyrex-bord-oë en die koringkriek wat oor sy wang geklouter het.

      Hy het sy mes teen die dokter se rug skerp gemaak en daarmee na Gustaf gesteek-steek-steek. Skielik het Gustaf se pa daar gestaan, Klaas Vakie voor hom, en toe druk die gedrog die mes in sy pa se maag!

      Alles het donker geword.

      “Die arme kind.” Sy ouma toe hy wakker word, met sy betraande ma langs hom. Albei het gehuil. “Hemel, gelukkig is die kwaad nou op ’n vroeë ouderdom uitgesny.”

      Dit was sy eerste ontmoeting met Klaas Vakie.

      Senu-instorting. Hy is nie seker presies wat dit was nie. Hy onthou net daardie insident in die hospitaal so goed. Dalk is ’n instorting weer besig om hom te bekruip, nes chaos tans die land insypel.

      Reël 10 vir die skryf van rillers: Wanneer die karakter op sy of haar laagtepunt is, skop hom/haar wanneer hy/sy lê. Stapel die rillerelemente nou soos Lego-blokkies opmekaar. Maar bowenal, laat dinge met die karakter gebeur wat jou as skrywer self verras. Laat iets plaasvind СКАЧАТЬ