Die vierde stem. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die vierde stem - François Bloemhof страница 5

Название: Die vierde stem

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798168281

isbn:

СКАЧАТЬ nét deur die stywe toppie binnegehou; hierdie keer nog. Cleavage is een ding, spillage is iets anders.

      “Is dit iets waaroor jy jouself veroordeel?”

      “Nee. Glad nie. Of . . . Dit gaan nou simpel klink, maar dis nie hoe ek grootgemaak is nie. ’n Mens moet mos reg lewe. Dis hoe ek geleer is. Jy is nie veronderstel om jou man te verneuk nie.”

      “As jy by die ander mans is, geniet jy dit?”

      “Natuurlik.”

      “Geniet jy dit genoeg om te vergoed vir hoe jy later daaroor gaan voel?”

      Helga semi-frons. “Dink jy ek moet ophou daarmee?”

      “Dit is nie vir my om te sê nie. Wíl jy?”

      En Manrich glimlag.

      As jy mense wil beïnvloed, dink hy, is ’n paar fundamentele tegnieke ewig geldend – en wie het ons om te bedank omdat hy ’n lysie van dié ooglopende waarhede gemaak het? Oppervlakkig ofte not, in How to win friends and influence people noem Dale Carnegie ses maniere waarop jy seker kan maak dat mense van jou hou: wys dat jy geïnteresseerd is in hulle; skep ’n positiewe eerste indruk, wat grotendeels daarop neerkom dat jy moet glimlag; onthou mense se name en gebruik dit dikwels; wees ’n goeie gespreksgenoot deur te let op jou luistervaardighede; interesseer mense deur te gesels oor iets wat vir hulle belangrik is, met ander woorde hulself; en laat die ander persoon belangrik voel.

      “Hoekom moet die lewe so ingewikkeld wees?” tob Helga.

      “Helga, soms maak ons dit meer ingewikkeld as wat dit hoef te wees.”

      “In die paar minute wanneer ek . . . as ek in ’n man se arms is, het ek sy volle aandag. Amper soos hier. En dis nice. Jy’s ’n dish, jy weet. Maar ek betaal jou! Goed, daardie mans kry ook mos maar iets in ruil.”

      “Sien jy intimiteit as ’n ruiltransaksie?”

      Sy haal haar sonbedskouers op. “Seker. In ’n mate. As ek eerlik moet wees.”

      Manrich glimlag. “Hier kan jy maar altyd eerlik wees, Helga.”

      “Natúúrlik is die lewe vol ruile. Ek het geweet Pierre trou met my omdat ek mooi is. Ek was ook ’n aanwins vir sy besigheid. Ek is dit nog steeds. En hy . . . het geld gehad. Kyk, ek wás lief vir hom. Is nog altyd. Maar daar was ander mans vir wie ek ook lief kon geraak het. Ek weet nie of ek vir hom lief sou geraak het as hy nie geld gehad het nie.”

      Só gaan sy voort. Sy is verkeerd: sy is nie mooi nie, want ’n sierlike gesig en lyf is nie genoeg nie, en dit grief hom dat sy haarself so oorskat, ’n padda op ’n buiteplaas. Wragtig, seshonderd-en-vyftig rand per uur vergoed nie vir wat hy hier deurmaak nie.

      Tot Dale Carnegie se krediet moet bygevoeg word dat dié wyse man blykbaar geglo het die aanwender van daardie ses tegnieke sou edele motiewe hê. Anders kon sy boek net sowel geheet het How to become a psychologist and influence patients.

      “Is die geheimhouding vir jou deel van die opwinding?” vra Manrich. Dít sal hy kan verstaan en dit sal hom wakker hou as hulle daaroor praat.

      “Hoe bedoel jy?”

      Vadertjie tog. “Is dit vir jou lekker om iets te weet waarvan ander mense nie weet nie?”

      “Nee. Juis om te vertel daarvan, dís wat lekker is.”

      “Om te skok?”

      “Skok ek jou?”

      “Dink jy dit behoort?”

      Helga lag. “Ek dink nie ek skok enigeen nie! My vriendinne doen dit almal. Ek kan nie onthou by wie dit begin het nie. Die internet is ’n wonderlike ding.”

      “Seker.”

      “Ek het drie vriendinne vir wie ek alles vertel, en hulle vir my. Ons ruil selfs notas uit: die man se naam, ’n beskrywing van die seks, ’n punt uit tien. Ons sê vir mekaar waar ons dit gaan doen, en wanneer. Vir as iets met een van ons gebeur. Ag . . . Ek moet seker bieg.”

      Manrich glimlag. “Dis nie nodig nie. Sê net wat jy dink jy moet.”

      “Ek sien vandag weer iemand, oor bietjie minder as twee uur. By die Anderson Motel. Kamer 17. Halfses. Toe ek Ingrid daarvan vertel, kon ek hoor sy’s jaloers. Ek vermoed om dit te besef, was vir my beter as wat die seks gaan wees. En baiekeer is om daarná daaroor te praat die hoogtepunt – of die gevoel vóór die tyd is. Partykeer is die . . . die daad amper net ’n noodsaaklike deel om verby te kry.”

      So ongeërg stel sy haar bloot, dink hy. Op ’n manier sien sy, die Helga wat so graag raakgesien wil word, hóm nie raak nie.

      Sal hy dit doen, dit wat hy nou oorweeg?

      In ’n wêreld wat in soveel rigtings vertak, is die enigste manier om te weet wat is bo en wat is onder, en waar jy hoort, soms om jouself te laat val.

      “As jy jou lewe kon verander, waar sou jy begin?” vra hy vir sy pasiënt.

      * * *

      Manrich gaan sit voor sy rekenaar. Hy het vir een dag genoeg van praat gehad, of eerder van luister. Van mense wat net ’n oor soek om in af te laai.

      Simptomaties van ’n eeu wat gekenmerk word deur ’n ooraanbod van inligting, sê Helga so maklik meer as wat sy behoort. Sodat hy boaan die voedselketting kon bly, het die mens die instink vir kommunikasie en kragdadige optrede gekry. In die ál harder geraas is toenemend minder stemme uitkenbaar en hoe minder mense wil luister, hoe meer wil hulle praat, want elkeen moet bly glo hy of sy het iets te sê in dié moderne, gewelddadige tyd. Die Middeleeue, wat ook geweld as hoeksteen gehad het, kon nie spog met soveel blootlegging nie.

      Die deel van inligting kom met ’n prys: mense openbaar dinge omdat hulle vergoeding soek. Betaling, of liefde, enige vorm van aandag, dalk net tydelike erkenning van hul aandagwaardigheid. Só is bitter baie al prysgegee vir bitter min in ruil.

      Manrich se hande huiwer bokant die toetsbord. Hoeveel moeilikheid het die rekenaar, een van die moderne mens se belangrikste hulpmiddels, nie al veroorsaak nie? Die bondgenoot en verraaier zoem soos ’n insek.

      Hy gee dit vlerke, die regte bevele lei hom na sy bank se webruimte. Daar skil hy lae af – en kry ongemagtigde toegang. Die sleutels bied toweropsies vir vingers wat weet om die regte bevele te gee: dit is soos ’n klavier wat slegs deur sekere pianiste behoorlik bespeel kan word. Hy oorweeg wat sy plesier van die oomblik sal wees. ’n Elementêre e-pos-bomaanval? Nee, dis ’n beginner se werk. Net so killer ping, flood ping, syn flood en die ander listighede wat Windows NT moontlik maak.

      Hy is nie blind vir parallelle tussen wat hy hier aanvang en sy dagtaak, veral die manier waarop hy teenoor sommige pasiënte optree nie.

      Hy probeer ’n kode. Nou gee hy die pas aan. Die skeppers van sekuriteitsmaatreëls reageer bloot op wat hy en ander soos hy doen: teen die tyd dat ’n maatreël teen die een of ander vorm van aanval ingestel word, het iemand klaar ’n ander aanval bedink.

      Hy vorder binne ’n halfminuut – hy wens sy rekenaar was vinniger – tot by die bank se intieme kern, waar kliënte se finansiële besonderhede in lang rye voor hom verby rol. Dit amuseer СКАЧАТЬ