Die vierde stem. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die vierde stem - François Bloemhof страница 8

Название: Die vierde stem

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798168281

isbn:

СКАЧАТЬ dit is. Die aanslag is meer gedemp as wat hy verwag het: beige en ligpienk. Sy keer haar rug op hom terwyl sy haar klere uittrek, iets wat hom altyd amuseer, want gaan hy nie binnekort elke sentimeter van haar lyf sien nie?

      Toe sy haarself aan hom gee – cliché ofte nie, dit is wat gebeur – is daar geen sprake daarvan dat sy haar skuilnaam gestand gaan doen deur bo te lê nie. Sy is ook allesbehalwe die fantasie wat hy geglo het sy gaan wees. Terwyl hy die regte sekwens van bewegings volg, sukkel hy om entoesiasties te lyk. Op haar beurt lê sy bewegingloos terug. Sy soen hom nie, hy het ook nie gedink sy sal nie. Sy maak nie ’n geluid nie, hy het gedink sy sal. Hy dink daaraan dat die avontuur weer eens alles in die afwagting gelê het.

      “Do you have condoms?” vra hy. Wil nie sy eie boksie oopmaak nie, dan dink (of weet) die volgende vrou hy doen hierdie soort ding gereeld.

      Sy beduie na ’n kassie langs die bed.

      Hy krap rond en vind wat hy soek: Arousal, staan op die boksie. Hy is styf genoeg dat dit lyk of hy lus is vir die ding, want op ’n spontane fisieke reaksie kan hy altyd reken.

      Hy sukkel om die sellofaan af te kry. As dit reeds af was, kon daardie feit dalk sy verbeelding heraktiveer het: om te weet hierdie vrou het geheime in haar lewe. Soos sy hier lê, sonder om enigiets te gee en in dié stadium sonder om te neem, is daar niks waarby hy kan aanklank vind nie. Sy het geen verlede nie, sy’s net ’n lyf.

      Wel ’n mooi lyf. Hy gaan lê bo-op haar. Woman On Top = missionary position, dink hy wrang terwyl hy by haar instoot, met die hoop dat dít ’n reaksie sal ontlok.

      Al wat verander het, is dat haar oë nou gesluit is.

      Hy maak die oorbekende bewegings. En hou aan daarmee.

      En aan.

      Die einde wil nie kom nie.

      Hy het begin sweet. ’n Druppel beland op Woman On Top se wang en loop soos ’n traan tot in haar nek. ’n Deel van hom mag in haar wees, maar met haar oë toe hou sy die res van hom buite.

      Hy is op die punt om te maak of hy ’n orgasme kry, toe hy ’n portret op die kassie gewaar. Nou eers sien hy dit raak, maar die man in die swart pak hou hom nog die hele tyd dop.

      Sy staan ingehaak met daardie man. Trourok! Sy glimlag, lyk so gelukkig. Hy kan verskeie scenario’s aan die bruidspaar toedig, wat gelei het tot wat hier gebeur.

      Steeds hou die jong bruidegom (die een wat haar verlaat het, die een wat deur haar verlaat is, die een wat in ’n ongeluk dood is, die een wat oorsee op reis is, die een wat hulle uit die vertrek langsaan afloer) hom dop. Hy kyk reguit vorentoe by die raam uit, sy lang arm om sy bruid se rug, koesterend en opeisend, sy regterhand op haar heup so groot dat hy jou daarmee alleen sou kon doodwurg.

      Dit is terwyl die skrywer na daardie hand kyk, dat hy die oomblik voel nader kom – en hy vinniger begin beweeg om einde ten laaste ’n geluid uit die vrou onder hom te steel.

      * * *

      Tevrede op pad huis toe, wonder hy of almal uit sy manier van stap kan aflei hier is ’n man wat pas seks gehad het. Hy loop verby die restaurant, wat amper vol is vir middagete. Wat beplan die mense wat daar sit vir die volgende paar uur?

      Die bekroonde skrywer, dink hy en spieël hom in ’n glaspaneel. Hier loop hy met sy verlugte idees en basiese drange. ’n Pal ontwikkelende mens wat elke nou en dan terugval in basiese behoeftes.

      Alles bly variasies op ’n tema, maar hy herinner homself aan iets wat hy lankal besef het: dat die bevrediging om in bekende dinge ’n tikkie vernuwing te vind, soms amper net so groot is soos dit wat jy kry uit iets geheel en al nuut.

      Behalwe dat niks op aarde nuut is nie, nie eens dié besef nie.

      Daarmee saam kom iets wat hom vroeër voor sy rekenaar ontwyk het, en dalk kom dit omdat hy nie meer so hard probeer om dit te vang nie: ’n beter begrip van wat hy wil skryf. Hy sal nou kan gaan sit en wegval.

      Hy loop vinniger, kan nie wag om by die huis te kom nie.

      ’n Meisie kom aangestap.

      Sy asem verlaat hom.

      Nie almal wat haar teëkom, sal haar eens oplet nie, maar daar is iéts . . . Haar hare is roesbruin en langerig en val oor haar skouers. Haar groot bruin oë kyk net ’n sekonde lank in syne, maar lank genoeg dat hy wens dit was by haar dat hy ’n rukkie gelede ingegaan het. Sy het ’n moesie op haar linkerwang. Haar neus is effens gepunt: dis nie ’n volmaakte neus nie en daarin lê die sjarme.

      Sy is verby hom. Hy kom tot stilstand en staar haar agterna. Dan moet hy klap na ’n skielike skoenlapper wat dreig om in sy gesig vas te vlieg, en toe hy weer kyk:

      Sy verdwyn om ’n hoek.

      Sy is weg.

      Maar hy het so pas een van sy karakters gevind – of ten minste wat haar voorkoms betref. Hy verbeel hom ook hy het al die eienskappe wat nodig is in haar gesien.

      Hy versnel sy pas, nou amper angstig om haar te begin vasvang in die scenario wat hy bedink het, die een wat begin met die verskillende deure. Nou het die konsep ’n dryfveer.

      Meteens oorweeg hy dit – die gedagte kom blitsig en dit blý – om homself een van die karakters te maak. Hy en die meisie was ’n paar minute gelede immers saam op straat?

      Hy sal selfs dit wat hy en Woman On Top so kort voor sy en die meisie se “ontmoeting” gedoen het deel van die intrige maak, met die klassieke verskoning dat niemand kan sê dit is nié fiksie nie. Die ou tergspel. Hy sal nooit ware besonderhede gebruik om iemand by te kom of te beledig, soos wat party skrywers al gedoen het nie, maar wel om iets waarmee hy worstel letterlik af te skryf.

      Sal ’n manier wees om te bieg ook.

      Want altyd wanneer die seks verby is, kom die slegte gevoel.

      * * *

      Toe hy inkom en sy vrou sien waar sy in die sitkamer sit, en sy groet nie, weet hy. Dat sy weet.

      Soos ’n kind wat ’n horlosie wil terugdraai, is daar iets in hom wat hoop dat dit maar net sy skuldgevoel is wat hom so laat dink, daarom vra hy: “Hoekom lyk jy so . . .”

      “Jy weet baie goed.” Sy klink kalm, té kalm.

      Die kind hou aan met hoop: “Wat weet ek?”

      “Moenie my behandel asof ek ’n idioot is nie.”

      “Wát?” wil hy nog bluf met ’n ongeduldige stem. “Ek verstaan nie wat jy vir my wil sê nie.”

      “Jy het die ander kere ook nie verstaan nie. Ek kan nie glo ek het jou weer geglo nie. Ek het jou regtig geglo.”

      “Maar –”

      “Elke keer glo ek jou en elke keer lieg jy vir my.”

      “Ek . . .” Hy raak stil. Dat sy weet, is onweerlegbaar. Die huis het koud geword, al die huislikheid is úit.

      “Ek kan dit nie meer vat nie. As ek nie goed genoeg is vir jou nie . . .”

      “Dis СКАЧАТЬ