Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop страница 3

Название: Ballade vir ’n enkeling

Автор: Leon van Nierop

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624070313

isbn:

СКАЧАТЬ wag dat Jacques die lawaai stilmaak, maar niks gebeur nie.

      Fineas verbeel hom hy hoor harde stemme langsaan, maar die taxi raas te veel.

      ’n Ruk later bondel passasiers in die taxi in en die deur skuif toe. Dit hoes-gorrel terwyl dit wegtrek. Doef-doef-kakwaa-kedoef tot dit in Breëstraat af verdwyn.

      Fineas stap na die deur toe.

      Nou net die geluid van die straatkinders wat hul klaagliedjie voltooi, ’n trein wat verbyry en nog ’n gorrelende taxi.

      Die worsbraaier gooi oorskietbrood na die kinders toe. Hulle storm oor die pad, gryp, eet gulsig, sluk, snuit, poep, kou, blaas slym uit. “Gggg! Spoeg! Tjoef!” En dan die bakleiery om die oorblywende korsies – die stemmetjies hard en skel. Hulle hou op met sing en hol nou na die oop parkeerterrein waar taxi’s gewas word.

      Dit is skielik stil langsaan. Die hyskrane hier oorkant wat aan die nuwe Newtown-winkelsentrum bou waarvan Jacques so min hou, kom tot ruste. Die voorstad trek voorlopig sy retroaktiewe baadjie uit. ’n Kerkhorlosie slaan vieruur. Nog ’n elektriese trein dreun verby.

      Fineas maak die venster toe wanneer sy selfoon lui. Hy antwoord. Dis sy vrou wat vra wat hy nog dié tyd van ’n Saterdag by die werk maak. Hulle het mense vanaand. Waar is hy?

      Die kinders hier onder hardloop nou agter die worsbraaier aan wat koerante gaan weggooi.

      Sy vrou, erg ongeduldig oor die selfoon: “Woza ekhaya manje!”

      Hoe verduidelik hy tog dat hy lankal tuis sou gewees het, was dit nie vir die onverwagse kliënt nie?

      Sy vrou raas weer: “Sekhathele ukulinda!”

      Ja, hy is net so moeg.

      Jacques se voordeur word hard toegemaak hier langsaan.

      Dit neem Fineas ’n ruk om sy vrou te oortuig dat hulle die geld nodig het, daarom die laat werkery vanmiddag tot vieruur. Sy moet vrede maak daarmee!

      Hy gaan nou ’n taxi terug huis toe haal.

      Hul gesprek hou te lank aan na sy sin, want hy wil na Jacques se woonstel toe loop en gaan kyk hoekom dit nou so stil is. Wie daar was.

      Fineas skakel uiteindelik sy selfoon af, verlaat sy ateljee en sluit die deur toe.

      Hy stap na die woonstel langsaan, klop eers sag, dan harder. Geen antwoord. Hy voel aan die deurknop. Dit draai. Die deur is nie gesluit nie.

      Hy stap in. “Hallo, bru?”

      Geen antwoord.

      Alles lyk soos tevore.

      Hy loop oor die rottangmatte met Afrika-motiewe, gevleg uit gras en Pick n Pay-sakke met woorde: Peace. Mandela. Helder, bont lappe vol kremetartbome oor ’n tafel gegooi. Gefrommelde papiere in ’n asblik. Helder krale teen ’n muur. Die lokomotief op die kennisgewingbord.

      Hy tel ’n papier uit die mandjie op. Vier of vyf sinne uit ’n roman. Die laaste letters harder getik as die ander, sodat dit gesmeer het.

      Sy fiets is nog daar. En Jacques en sy fiets is onafskeidbaar.

      Nou uit op die balkon. Wolke pak saam. Netnou reën dit hier in.

      Fineas kyk weer rond. Niks is anders as gewoonlik nie.

      Hy merk Jacques se selfoon op die lessenaar met talle onbeantwoorde oproepe daarop. Fineas kyk na die SMS’e. Almal wens Jacques geluk met die prys wat hy vanaand kry. Maar nie een is beantwoord of gelees nie.

      En onder “Sent Items” is daar: Vriende vir altyd.

      Daar hang ’n pak klere, heeltemal ongewoon vir Jacques. Fineas merk nou ’n stoel wat plat lê, asof hier ’n worsteling plaasgevind het.

      Iemand in die gang? Hy kyk terug, sien vlugtig iemand verbyloop. Miskien ’n besoeker van een van die ander woonstelle.

      Fineas kyk terug na Jacques Rynhard se woonstel. Sy rugsak wat altyd langs sy stoel lê, is nie daar nie. Daar is ’n leë plek waar die tikmasjien gewoonlik staan. Selfs die rekenaar is nie daar nie.

      En daar is ’n bloedstreep teen die muur.

      2

      SATERDAG 5 APRIL 2014, 16:15

      Ek is nou so bedruk, ek begin sommer ’n affair op Facebook.

      Carina Human se vinger soek oor die strokiesprent. Sy betrap haar dat sy altyd eerste hierheen blaai noudat die Agata-strokie ook in die dagblad verskyn. Agata is ’n Afrikaanse strokiesheldin met miljuisende aanhangers – om haar beste vriendin, Mysi, se uitdrukking te gebruik. Dit skyn ’n teenreaksie te wees op die stroperige Love is-kreatuurtjies wat koerante vir soveel jare ontsier het. Nou, hiér, verstaan Carina die woeste Agata met ’n nugterheid wat haar vir ’n oomblik hartseer maak.

      Die meisietjie met haar breë heupe en boerbroodboude is Carina se gunsteling naas Calvin & Hobbes. Sy hou opnuut van die skeermesbek-karikatuurtjie met die roekelose boskasie en eier-in-die-pan-oë wat vele wyshede kwytraak. Haar hare, wat langs haar kop met twee haarnaalde vasgesteek is, laat Carina aan Saartjie Baumann dink – die tienerboeke wat sy as kind so verslind het. En nou lig Agata haar uit haar bedruktheid.

      Liefde is as jy ’n vuurhoutjie naby sy asem trek en jy slaan nie aan die brand nie, basuin ’n ander Agata-strokie teen haar kennisgewingbord dit uit, een wat Mysi Moolman per e-pos aan die hele kantoor gestuur het.

      En ’n ander een: Jy weet hy is jou sielsgenoot as jy op sy mat mag naar word. En hier sit Carina in haar leë slaapkamer, maar sy wil nie op haar mat naar word nie. Nie nou al nie. En sy besluit onomwonde: Daar is niks so eensaam soos ’n kas wat ’n vrou met haar geliefde gedeel het wat skielik leeg is nie – die openinge waar eers klere gehang het so prominent soos gate wat ’n mot in ’n weeskind se trui gevreet het.

      Kelvin het alles gevat, maar het darem die hangers gelos asook twee paar deurgetrapte skoene wat hy altyd in die tuin gebruik het. Sy verstaan hoe daardie sloffies moet voel: voos gebruik.

      Die CD-rak lyk of dit geplunder is. En sy misdaadromans, waarvan sy hom die helfte present gegee het omdat hy te arm was om dit self aan te skaf, is weg. Hy het selfs van die yskasmagnete gevat wat hulle saam gekoop het.

      En tog, asof moedswillig, het Kelvin McDonald enkeles agtergelaat wat haar altyd aan hom sal herinner, nes die broodkrummeltjies wat Hansie en Grietjie in die bos gelaat het. ’n Foto van hulle saam op Times Square in New York wat as yskasmagneet verewig is. Kelvin in ’n hasie-kostuum op ’n partytjie. Hulle twee in Kroasië langs ’n ruïne.

      Ja-nee. Daar staan sy met ’n glimlag en verliefde oë vol verwagting terwyl Kelvin met sy arms oor haar leun, kompleet met sy halfmasglimlaggie maar koue oë wat nie saamlag nie asof hy ’n ander agenda het. Een waarvan hy bewus was, maar nie toe met haar wou deel nie.

      Jy is my tussenin-meisie tot ek die regte een gekry het. Haar eie woorde in die laaste kaartjie wat sy vir hom gegee het. Dalk moet sy dit vir die skepper van Agata stuur, as sy net geweet het wie dit was. Daar verskyn nooit ’n naam by die strokie nie.

      Ware liefde beteken jy vind selfs sy opgefrommelde СКАЧАТЬ