Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 5 - Annelize Morgan страница 27

Название: Annelize Morgan Omnibus 5

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624068280

isbn:

СКАЧАТЬ kyk by die venster uit.

      “Wat u soek, monsieur, is ’n besigheidstransaksie.”

      Hy frons ontevrede.

      “U ouers is angstig dat u moet trou, mademoiselle, en dit is te verstane omdat u reeds twintig is. Gaan u hulle teleurstel?”

      Sy kyk nie na hom nie.

      “Ek dink nie dit is nodig om daardie vraag te beantwoord nie.”

      Hy knik.

      “Dis u keuse, maar ek wil u ook waarsku dat ek nie ’n besonder geduldige man is nie. Ek is verby die stadium dat ek nog aan ’n lyntjie gehou kan word.”

      Sy kyk vraend na hom.

      “Mag ek miskien weet waarom u hoegenaamd bereid is om te wag op my antwoord?”

      Hy aarsel en sê dan: “Ek het my redes. Dis nie vir my nodig om dit aan enigiemand te vertel nie.”

      Sy kyk weg na die see wat nou aan hulle regterkant lê. Die El Mar is nog in die hawe en iewers in die dorp moet Da Silva ook wees. Hoekom haat hierdie twee mans mekaar so? Sy wens dat sy agter hulle geheim kon kom.

      Later keer hulle terug na die herberg sonder dat Nicole en Jacques tot ’n vergelyk gekom het. Sy weier om hom ’n besliste antwoord te gee op sy huweliksaanbod, bloot omdat sy nie van die manier hou waarop hy dit doen nie. Sy weet al by voorbaat dat sy hom sal wegwys, maar dit maak haar vies dat hy op so ’n koel manier aanvaar dat sy hom nie kan weier nie.

      Jeanne keer haar in die kamer voor.

      “Wat het jy aan monsieur Goucher gesê?” wil sy weet.

      Nicole kyk gemaak verbaas op.

      “Wat moes ek sê, Mamma?”

      Jeanne sug diep.

      “Dan gaan jy koppig bly. Ons doen wat die beste vir jou is, my kind. Kan jy dan nie verstaan hoe belangrik dit is dat jy met monsieur Goucher trou nie? Hy sal ons uit ons geldelike probleme kan help en hy het jou pa soveel belowe toe hy gesê het dat hy bereid is om met jou te trou.”

      Nicole skud haar kop stadig.

      “Dus bly dit net ’n koelbloedige saketransaksie, of hoe, Mamma?”

      Jeanne kyk weg.

      “Dit sal vir ons almal die beste wees as jy monsieur Goucher aanvaar.”

      “Hierdie keer gaan ek doen wat vir mý die beste is, Mamma. Ek sal nie toelaat dat iemand my soos ’n pion op ’n skaakbord rondskuif nie.”

      Haar ma kyk vinnig na haar.

      “Dan gaan jy hom weier?”

      “Maar natuurlik! Ek het dit nog nooit eens oorweeg om met hom te trou nie.” Sy kyk by die venster uit. “En niemand gaan my dwing om dit te doen nie.”

      Jeanne snak na haar asem.

      “Jy durf nie so ongehoorsaam wees nie! Jou pa het alles reeds gereël!”

      “Julle sal my elke dag die hele dag hier gevange moet hou om dit reg te kry, Mamma, want ek sal wegloop by die eerste geleentheid.”

      Jeanne lyk skielik moeg en oud.

      “Waar kan jy heengaan, chérie?”

      Nicole aarsel.

      “Monsieur Da Silva sal nie omgee om my weer op sy skip saam te neem nie. Dalk sal ek in ’n wildvreemde land ’n vrye keuse hê om te maak wat ek wil.”

      “Maar hoekom is jy so gekant teen monsieur Goucher? Jy kan tog nie bedoel wat jy sê nie?”

      “Ek kan nie presies sê wat my aan Jacques Goucher hinder nie, Mamma, maar ek weet net dat ek nooit met hom sal kan trou nie. Hy wil ook nie sê waarom hy met my wil trou nie. Twee mense wat hulle lewens met mekaar moet deel, kan nie altyd alles vir mekaar wegsteek nie.”

      “Monsieur Goucher is ’n baie trotse man, Nicole.”

      “Ek weet dit, Mamma.”

      Jeanne staan swaar op.

      “Ek sal met jou pa praat, maar jy sal net jouself hê om te verwyt as dit geldelik baie sleg met ons gaan. Jy het nou die geleentheid om ons uit hierdie armoede te red, maar jy weier om dit te doen. Ek kan jou nie verstaan nie, Nicole. Jou pa en ek het al baie vir jou en Camille opgeoffer. Jy het nou die geleentheid om ons te help, maar jy wil dit nie doen nie. Dis baie selfsugtig van jou, my kind.”

      Nicole byt op haar tande. Sy wil haar ouers graag help, maar nie op hierdie manier nie. Hulle was gelukkig getroud, maar watse kans het sy saam met Jacques Goucher? Haar ouers verwag van haar om alle kanse op geluk weg te gooi net om hulle uit hulle geldelike probleme te kry. Dis die grootste opoffering wat hulle van haar kán vra.

      “Is ons nie maar almal selfsugtig in hierdie saak nie, Mamma?” vra sy sag.

      Jeanne verkleur.

      “Miskien … maar monsieur Goucher sal jou tog nie mishandel nie. Hy sal goed vir jou wees.”

      Nicole lig haar kennetjie.

      “Hy wil net iemand hê wat vir hom kinders sal gee om sy familienaam voort te sit en ek sal nie vir hom kinders gee nie. Net omdat dit al rede is waarom hy met my wil trou.”

      “Dink goed daaroor na voordat jy finaal besluit, Nicole. Dink aan hoeveel mense jy ongelukkig gaan maak deur net na jou eie geluk te soek.” Jeanne verlaat die kamer en maak die deur sag agter haar toe.

      Nicole gaan op die rand van die bed sit. Sy voel bitter ongelukkig omdat sy haar ouers teleur gaan stel, maar sy weet dat sy niks anders kan doen nie. Sy dink aan Goucher se koelbloedige houding en sidder liggies. By hom sal sy nooit gelukkig kan wees nie. Selfs met al sy geld sal hy dit nie kan verander nie. As sy met hom trou, sal sy al haar kanse op toekomstige geluk finaal vernietig.

      Sy staan op en haal die robyne uit die laaitjie. Daar is net een man wat haar ooit werklik gelukkig sal kan maak en dit is Ramirez da Silva. Sy glimlag half treurig. Hy is nie van haar mense nie en hy sal nooit aanvaar word nie, maar belangriker nog, vir hom is sy bloot ’n ligsinnige Franse meisie wat tot in die Kaap op sy skip gereis het. Hy sal die robyne weer kom haal en vertrek en dan sal nog net die pynlike herinneringe bly.

      Sy sien hom weer waar hy sononder op die voorkasteel staan en ingedagte oor die see tuur. Die wind roer in sy swart hare en die laaste strale van die son glinster op sy wit syhemp. Sy onthou daardie aand in sy kajuit. Hy was anders as wanneer sy hom op die dek tussen die matrose gesien het. Sy het elke oomblik van daardie aand geniet.

      En Consuelo? Nicole skud haar kop. Hy het net die see lief en al sou Consuelo dwarsoor die wêreld met hom saamreis, sal hy nog altyd net aan die see en sy skip getrou bly. Tog wonder sy soms of daar nie ook diep in hom die verlange na ’n tuiste is nie. Partykeer het hy vir haar half eensaam gelyk, uitgesonder met slegs sy eie gedagtes.

      Die aand op die bal was hy weer die edelman, ’n manjifieke figuur met sy verowerende glimlag en trotse houding. СКАЧАТЬ