Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 5 - Annelize Morgan страница 16

Название: Annelize Morgan Omnibus 5

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624068280

isbn:

СКАЧАТЬ Grusame toneel begroet haar. Bloed vloei oor die dek en oor die toue. Matrose en rowers gil en kreun van pyn terwyl hulle met hulle hande die bloed wat uit hulle wonde vloei, probeer stop. ’n Tree van haar af lê ’n matroos met dooie, starende oë en sy kyk vinnig weg. Dan sien sy Da Silva tussen die ander en sy skrik toe sy die bloed aan sy skouer sien. Hy veg verbete teen twee rowers wat hom geen oomblik se ruskans gee nie. Haar blik dwaal verder oor die verwoesting op die dek na waar Pedro nou met sy linkerhand veg. Sy regterarm hang aan sy sy en die bloed sypel vinnig deur sy hemp.

      In die takelwerk is daar twee matrose wat alles probeer om die rowers af te skud. Die een het die swaaiknuppel opgetel waar die rower dit laat val het en nou swaai hy dit woes om hom heen. Terwyl sy staan en kyk, sien sy hoe die dodelike punt ’n rower teen die kop tref en dit byna vergruis. Hy stort agteroor op die dek sonder om ’n geluid te maak.

      Nicole kyk weg. Sy het die man se skedel hoor breek en die gedagte maak haar siek. Sy sien hoe Pedro sy swaard deur sy aanvaller se maag dryf en haar knieë word lam. Sy het nog altyd ’n afkeer van geweld gehad en nou skok dit haar tot in haar diepste siel. Haar blik val op Da Silva wat onverpoosd voortveg. Hy ken al die fynere kunsies van ’n swaardgeveg en bemoeilik die taak van sy aanvallers. Hulle is ruwe seemanne wat net veg om dood te maak. Vir hulle is sy bewegings te vinnig en dit verwar hulle. Ten spyte van haar ontsteltenis, kan sy tog nie help om bewondering vir Da Silva te voel nie. Daar is ’n harde, ysige uitdrukking op sy aantreklike gesig terwyl hy veg. Vir geen oomblik verslap sy konsentrasie nie, al lyk dit asof die wond aan sy skouer hom las gee.

      Sy sien die rower agter Da Silva op die agterkasteel en dan versteen sy. Die man het ’n gooimes te voorskyn gehaal en hy mik dit reguit na Da Silva se rug. Nicole se keel trek toe. Die man lig sy hand stadig, mik versigtig en gebruik al die tyd tot sy beskikking om seker te maak dat hy die kol gaan tref.

      “Ramirez!” gil Nicole voordat sy haarself kan keer. “Pasop!”

      Hy ruk orent, staar net ’n breukdeel van ’n sekonde na haar en swaai blitssnel om om die verraderlike aanvaller te ontduik. Die mes fluit teen sy gesig verby en die vlymskerp lem gly deur die vleis van sy wang. Die bloed begin dadelik vloei en Nicole draai haar kop weg.

      Sy ruk om toe iemand haar hardhandig aan die arm beetkry en uit die skuiling van die ingang pluk. Sy kyk geskok na die grynsende seerower en dan word sy oor die bebloede dek gesleep na die reling waar die brik lê. Sy gil om hulp, maar al die matrose is by die geveg betrokke en daar is nie een wat haar kan kom help nie. Magteloos word sy na die reling gesleep.

      Da Silva skud sy aanvallers af en snel haar te hulp. Die ander matrose volg hom en nou verskuif die geveg na waar die twee skepe nog aan mekaar gekoppel is. Da Silva bereik Nicole net voordat sy oorgesleep word na die ander skip. Die seerower laat haar los om eers met die kaptein af te reken. Da Silva gaan wydsbeen voor haar staan sodat sy ’n kans kan kry om weer die veiligheid van die ruim te bereik.

      Nicole vorder nie ver voordat ’n volgende seerower haar beetkry nie. Hierdie keer sluit hy sy arm stewig om haar keel sodat sy skaars kan asemhaal. Da Silva se nabyheid gee haar egter moed en sy onthou van die dun kris wat sy nog steeds in haar hand vasklem. Sy steek wild daarmee na agter en die man se greep verslap om haar keel. Hy brul van pyn en voordat hy haar weer kan beetpak, strompel sy weg na die ingang van die ruim. Daar bly sy op haar hoede staan, die bebloede kris gereed in haar hand.

      Net so vinnig as wat hulle oorgeklim het, klouter die seerowers terug na die dek van hulle eie skip om hulle wonde te gaan lek. Op die dek van die El Mar is daar verwoesting gesaai. Toe die gryphake afgehaal word, juig die klompie matrose wat oorgebly het op die El Mar. Dan is dit skielik asof hulle besef wat gebeur het en ’n stilte sak oor die groep toe.

      Terwyl hulle verder van die brik af wegvaar, begin hulle tussen die dooies na die gewondes soek en hulle word na die ruim van die skip gedra. Die dooies word in die see gegooi terwyl die kaptein met ’n somber gesig staan en toekyk. Elke keer wanneer daar een van sy eie manne in die golwe verdwyn, is daar ’n pyntrek om sy mondhoeke en skitter sy oë van haat teenoor die rowers. Eindelik draai hy om en stap na die ingang van die ruim. Hy steek vas toe hy Nicole nog bewend daar sien staan.

      “Ek is jammer, monsieur, ek moes na u geluister het.”

      “Jy het jou lewe gewaag, señorita … vir die tweede keer om my te red.” Die moegheid is vlak in sy stem en hy leun uitgeput teen die trapreling.

      “Ek … het nie so daaraan gedink nie. U skuld my niks, monsieur … U het my lewe ook gered deur my te kom help.”

      Hy glimlag effens.

      “Jou inmenging het die einde van die geveg bepaal. Daarvoor behoort ek jou te bedank.”

      “Hulle sou in elk geval padgegee het.”

      Hy skud sy kop stadig.

      “Jy het hulle kaptein in die maag gewond. ’n Gewonde kaptein kan nie meer ’n geveg lei nie.”

      Sy kyk grootoog na hom.

      “Ek het nie geweet nie … Hy was besig om my te verwurg en ek wou hom net afskud.”

      “Jy het dit besonder doeltreffend gedoen.” Sy blik val op die bebloede kris. “Daardie ding pas nie by jou nie.” Hy neem dit by haar en skiet dit na buite oor die dek. “’n Vrou behoort haarself nie op daardie manier te verdedig nie.” Dan stap hy by haar verby na sy kajuit. Die bloed sypel nog uit die wond aan sy wang en vorm ’n groot, rooi kol op sy hemp.

      “Monsieur!” roep sy hom net voordat hy by sy kajuit kan ingaan.

      Hy kyk op.

      “Wat is dit?”

      Sy voel effens verleë toe sy praat.

      “Ek sal u wonde verbind … as u wil.”

      Daar is ’n flikkering in sy donker oë.

      “Dankie, señorita, maar Pedro sal daarna kyk.” Dan gaan hy sy kajuit binne.

      Sy bly alleen in die loopgang staan met ’n vreemde gevoel van verlies in haar. Sy sal nooit tot hom kan deurdring nie, want hy wil dit nie hê nie. Hy sluit hom af van mense om hom en raak nooit betrokke nie. Sou hy dan werklik koud soos graniet wees met geen menslike emosies nie?

      Nicole gaan eers twee dae later weer na die dek. Teen hierdie tyd is die dek reeds skoongeskrop en net die bloedkolle op die seile getuig van die geveg wat daar plaasgevind het.

      Langs die weskus van Afrika lê die woestyn ononderbroke en onherbergsaam vir so ver as wat die oog kan sien. Oor ’n paar dae sal hulle die Kaap bereik en dan sal hierdie nagmerrierit ook tot ’n einde kom. Tog sien Nicole nie uit na die einde van die reis nie. Ramirez da Silva sal vertrek en dan sal sy hom nooit weer sien nie. Sy sal die ruwe matrose en die eenvoudige Pedro ook mis. Hierdie lewe is ver verwyder van die soort waaraan sy gewoond is en hoewel dit haar aan die begin geskok het, het sy stadigaan daaraan gewoond geraak en sy wonder hoe sy weer by die fyn dametjies gaan aanpas.

      Die wilde lewe op die see het sy eie bekoring, dink sy. Die gedurige moontlikheid van gevaar verskerp ’n mens se sintuie en jou gevoel vir waardes verander. Sy sal nooit weer kan sit en gesels oor die nuwe modes of wat dié of daardie een aangehad het nie. Dit is net nie meer vir haar van belang nie. Die ses weke wat sy nou al op die El Mar is, het baie dinge in haar verander. Voorheen was sy op die uitkyk vir ’n man wat vir haar kan sorg sodat sy in gerief kan lewe, maar dit is nie meer die geval nie. Sy sal nooit kan trou met ’n man wat sy nie liefhet nie … en sy het Ramirez da Silva lief.

      “Jy СКАЧАТЬ