Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 5 - Annelize Morgan страница 14

Название: Annelize Morgan Omnibus 5

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624068280

isbn:

СКАЧАТЬ is skielik ’n onheilspellende atmosfeer in die lug. Met ’n laaste kyk in die rigting van die minnesanger wat ongesteurd voortgaan, draai sy om en gaan terug na haar kajuit.

      Nege dae lank vaar hulle sonder voorval. Consuelo is die enigste een wat Nicole ietwat ontsenu met haar onverwagse verskynings. Esmara sien ’n mens selde op die dek.

      Die matroos wat gekielhaal is, het intussen soveel herstel dat hy weer kan rondbeweeg, maar hy kan nog nie enige take verrig nie. Hy loop net rond en daar is gedurig ’n ontevrede uitdrukking op sy gesig. Elke af en toe vervloek hy die kaptein, maar niemand steur hom skynbaar aan die matroos nie.

      Dit word tyd dat hulle by ’n nuwe hawe aandoen omdat die vars water besig is om sleg te word. Da Silva beplan om die volgende dag by Ponte Pongara aan te doen om vars voorrade vir die skip te kry.

      Daar is ’n soort wapenstilstand tussen Nicole en Da Silva. Hy bly die meeste van die tyd uit haar pad en sy kan nie sê dat sy spyt daaroor is nie. Sy voel nog steeds ontsteld oor wat hy aan die matroos gedoen het, asook oor die aand wat sy toegelaat het dat hy haar omhels. Sy kan maar net nie sy geamuseerde laggie vergeet nie.

      Die volgende oggend is sy vroeg reeds op die dek. Nicole het goed geslaap die vorige nag en nou voel sy weer lus vir die reis. Sy loop Esmara by die uitgang na die dek raak.

      ’n Oomblik lank staar hulle na mekaar. Esmara skud haar kop stadig.

      “Ek sien bloed … bloed … bloed,” sê sy in ’n krakerige stem.

      Nicole sluk hard.

      “Ek verstaan nie.”

      “Daar gaan bloed wees … baie bloed … dit gaan vloei tot in die see …”

      ’n Koue rilling gaan langs Nicole se ruggraat af.

      “Hier?”

      Esmara lag saggies, grillerig.

      “Ja, hier, maar ons sal nie almal sterf nie.” Sy skuifel by Nicole verby en gaan af na die ruim.

      Hoewel dit ’n sonnige dag by die ewenaar is, voel Nicole skielik koud. Wat ’n vreemde vrou is Esmara nie. Sou sy dalk van haar verstand af wees?

      “Wat het Esmara gesê?” vra Da Silva terwyl hy na haar toe stap.

      Sy haal haar skouers op.

      “Sy maak my bang. Sy sê sy sien bloed en dat ons nie almal gaan sterf nie.”

      Hy frons terwyl hy nadink.

      “Sy is soms verbasend akkuraat met haar voorspellings.”

      Nicole kyk verbaas na hom.

      “Glo jy haar tog nie?”

      “Nie altyd nie.”

      “En hierdie keer?”

      “Sy is maar vaag. Ek sal my nie daaraan steur nie. Esmara was haar lewe lank ’n sigeunerin. Ek het haar een keer van ’n klomp aanvallers gered en sedert daardie dag volg sy my net waar ek gaan. Die matrose het haar al aanvaar en hulle laat haar maar begaan. Sy hinder niemand nie, al het sy al soms mense die skrik op die lyf gejaag.”

      Nicole haal diep asem.

      “Sy jaag mý beslis die skrik op die lyf.”

      Hy glimlag spottend.

      “Natuurlik sal sy. Jy is nie in voeling met die vreemdheid van haar ras nie.”

      Sy kyk na hom.

      “Sigeuners is tog Spanjaarde.”

      “Nee, hulle is nie. Hulle kom oorspronklik uit Egipte en ons noem hulle in Spaans gitanos. Hulle noem hulself Romani. Spaans is hulle beslis nie, maar wel baie vreemd.” Hy glimlag skielik. “Ek vind hulle uiters interessante mense.”

      “Consuelo is ook ’n sigeunerin.”

      Hy knik.

      “Sy en Esmara kom uit dieselfde stam. Die res van die stam is uitgemoor en net hulle het oorgebly.”

      “Is dit waarom Consuelo jou oral volg?”

      “Sy het geen ander tuiste nie.”

      Toe hy weer van haar af wegstap, frons Nicole. Da Silva het aan haar ’n heel eenvoudige verduideliking vir Consuelo se teenwoordigheid gegee. Dit klink vir haar baie meer aanvaarbaar as die bangmaakstories wat Pedro opgedis het. En tog wonder sy … steek daar nie in werklikheid veel meer in hulle verhouding as wat hy wil erken nie?

      Sy bly op die dek staan en kyk hoe die matrose die seile verstel vir hulle vaart na die vasteland en na Porte Pongara. Sy sien daarna uit om weer vars vleis en groente te kan eet. Dis nou al ’n hele paar dae wat sy maar net peusel aan die brousel wat voorgesit word. Dit is souterig en onsmaaklik.

      Sy word skielik uit haar dagdromery wakker geskud.

      “Seerowers!” gil die matroos uit die kraaines.

      ’n Oomblik lank staan almal versteen en dan begin hulle heen en weer hardloop oor die dek.

      Da Silva hardloop na die voorkasteel waar hy sy teleskoop voor sy oë bring en aandagtig na die skip op die horison staar.

      “Vol seile na die hawe!” skreeu hy op die matrose. “Ons moet hulle probeer ontduik! Gou speel!”

      Nicole staar na hom. Dit kan nie waar wees nie, dink sy paniekerig. Dit was haar een groot vrees vir die reis en nou gaan dit bewaarheid word. Sy kyk verdwaas na die skarrelende matrose en Da Silva wat bevele uitskree. Dan kom hy haastig na haar.

      “Jy moet na onder gaan, señorita. Daar sal jy veilig wees as dit op ’n skermutseling uitloop.”

      “Gaan dit ’n geveg wees?”

      Hy knik somber.

      “Ons sal nooit die hawe haal voordat hulle ons bereik nie. Gaan nou na onder en moet onder geen omstandighede na die dek kom nie. Is dit duidelik?”

      Sy knik stom en loop dan na die trap wat na die ruim lei. Daar draai sy nog een keer om en sien dat Da Silva reeds van haar bestaan vergeet het. Sy sien die son op sy wit hemp, sy kaplaarse met die silwer gespes en sy aantreklike, bruingebrande gelaat. Gaan hy dit oorleef? Of gaan hulle hom later tussen die dooies op die dek van die skip kry en sy mantel oor sy gesig gooi? Sy ril en gaan die ruim binne. Sy moet daardie gedagte uit haar kop ban. Daar is niks wat sy daaraan sal kan doen nie.

      4

      Die seerowerskip kom vinnig nader. Dis gou duidelik dat hulle wil aanval en Da Silva gee die bevel dat die twee kanonne in posisie geplaas moet word. Dan gaan hy terug na sy uitkykpos en bestudeer die ander skip aandagtig. Hy kan hulle astrantheid nie begryp nie. Dié klomp is gewoonlik uitgeslape en baie versigtig dat die prooi nie lont ruik voordat hulle taamlik naby is nie.

      Die wind skep die El Mar se seile en bol hulle uit. ’n Ruk lank vaar hulle so voor die rowerskip uit en kan die matrose aan boord weer asem skep. As hulle Porte Pongara wil bereik, moet СКАЧАТЬ