Название: Die groot legkaart
Автор: Susanna M. Lingua
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624070559
isbn:
“Het ons genoeg voertuie om alles mee te vervoer, Wessel?” wil Tina weet.
“Heeltemal genoeg. Ons gebruik my ma se stasiewa en Hennie se motor,” antwoord Wessel. “As julle ’n gasstofie het, kan jy dit saambring, Tina.”
“Ek sal môreoggend alles hierheen bring,” belowe sy.
Hulle gesels nog ’n rukkie, toe bied Riana en Tina aan om tee te gaan maak, want tant Ella en oom Johan het al ’n uur gelede gaan slaap. Renier kom orent en sê dat hy toesig sal hou oor die meisies se gewerskaf in die kombuis. Hennie sê hy sal ook gaan kyk hoe hulle werk. Hy is mos so geweldig lief vir werk, hy kan ure lank daarna kyk!
Tina trek haar jassie uit, en daarna gaan hulle kombuis toe, waar dit heerlik warm is van die vuur in die steenkoolstoof wat tant Ella gewoonlik net in die winter gebruik.
“Ek en Tina sal ons tee sommer hier in die kombuis voor die stoof drink,” sê Renier toe hy merk dat Riana koppies op die dienwaentjie rangskik. “En moet asseblief nie sê julle wil ook hier kom tee drink nie.”
“Nee, ons gaan ons tee in die sitkamer geniet,” verseker Riana hom. “Trouens, ek gun julle ’n paar minute alleen in mekaar se geselskap, want môre sal daar nie tyd wees vir vertroulike gesprekkies nie.”
“Ons gesprekkies is darem nie so vertroulik dat niemand dit mag hoor nie,” maak Tina blosend beswaar.
Sy plaas die twee borde met koek op die dienwaentjie en hoor Renier fluister: “Jy moenie so bloos nie, ou swartkoppie. Ons lewe in ’n eeu van atoomkrag en ruimtereise, ’n vinnige ou wêreld. As ’n man nie dadelik kan besluit wat hy wil hê nie, raap ’n ander ou dit voor hom weg en het hy op die ou end niks nie.”
“En het jý al besluit wat jy wil hê, Renier?” Haar oë glimlag ondeund in syne.
“Vanmiddag al. Maar laat ons eers ons tee neem en voor die stoof gaan sit. Dit lyk vir my Riana is gereed om die dienwaentjie binnetoe te neem.”
Later, toe hul teekoppies leeg is, stoot Renier sy stoel nader aan Tina s’n. Die hitte van die stoof laat hom heerlik ontspanne voel, en die sagte geur van Tina se parfuum is strelend en aangenaam.
Dit herinner hom aan ’n tuin vol lentebloeisels, wanneer die dou nog koel in die blomkelke nestel. Sy blik streel liefkosend oor haar mooi, stil gelaat, terwyl sy afgetrokke na die gloeiende kole in die stoof staar.
“Ek wonder waarom die noodlot my so vyandiggesind is,” sê hy na ’n rukkie, en vir Tina klink dit al asof daar ’n tikkie moedeloosheid in sy stem is.
Sy draai haar blik in sy rigting en vra belangstellend: “Waarom sê jy so, Renier? Wat laat jou dink dat die noodlot jou vyandiggesind is?”
“Omdat hy my pad met joune laat kruis het,” antwoord hy bedaard.
’n Ligte frons verskyn tussen haar wenkbroue, ’n duidelike teken dat sy effens verward voel.
“Ek kan nog nie insien waarom jy dit as ’n . . . in so ’n ongunstige lig beskou nie,” sê sy, duidelik teleurgesteld. Haar hart het vanmiddag al vir haar gesê dat Renier die enigste man vir haar is, en nou beskou hy hul kennismaking as ’n ramp . . .
Maar dan sê hy weer: “As jou pa nie so ryk was nie, Tinatjie, sou ek op hierdie oomblik die gelukkigste man gewees het wat leef. Maar met so ’n ryk en gesiene pa . . . Nee, ek vrees ons vriendskap sal nooit dieper as ’n platoniese vlak kan gaan nie. Jy verstaan dit tog, nè?”
“Nee, ek verstaan dit nie,” stribbel sy teë. “Wat het my pa se aardse besittings met jou en my lewe te doen?”
“Alles, my ou Tinatjie. ’n Arm ou soos ek kan jou byvoorbeeld nie die hof maak met die oog op ’n huwelik nie, want dan sal almal sê ek wil met jou trou omdat jy ’n ryk pa het. En wat dink jy sal jou pa sê as ’n arm ou soos ek sy dogter die hof maak?”
“Oom Johan Beukes is nie ryk nie, Renier, en my pa belet my nie om met Riana, Gerrie en Wessel bevriend te wees nie –”
“Om met die Beukes-kinders bevriend te wees, is ’n ander saak,” val hy haar sag in die rede. “Vriendskap en liefde is twee dinge en . . . nou ja, ek kan maar net sowel nóú vir jou sê dat ek jou liefhet . . .”
“Ek glo dit nie. As ’n mens regtig liefhet, sal jy niks in die pad van jou liefde laat staan nie, Renier,” sê sy kalm. “Jy kan dus gerus wees, want die liefde wat jy vir my koester, is nie die regte soort liefde nie – altans, nie die soort liefde wat later tot ’n huwelik lei nie.”
Etlike sekondes lank sê nie een van hulle ’n woord nie. Hulle staar net na die rooi kole wat voor teen die stoof se rooster lê. Op hierdie oomblik dink hulle albei aan die liefde wat so skielik en onverwags van hul harte besit geneem het.
“Jy sal dus nie toelaat dat armoede in die pad van jou liefde staan nie?” sê-vra hy na ’n rukkie sonder om sy blik van die gloeiende kole af weg te neem.
“Nee, ek sal nie,” sê sy. “Ek sal saam met die man wat ek liefhet van onder af begin.”
“Jou pa sal nie toelaat dat jy met ’n arm man trou nie en . . . wel, jy sal oor vier jaar eers mondig wees,” sê hy beslis, asof hy hierdie feit, waaroor sy bepaald nog nie gedink het nie, wil beklemtoon.
Maar Tina verras hom toe sy saggies begin lag en met ’n ondeunde uitdrukking in haar oë sê: “Jy het gelyk, my pa is te veel van ’n snob om ’n arm skoonseun te aanvaar. Rykdom en aansien is die enigste god wat hy aanbid, en dit is ook al wat in sy lewe tel. Maar ek wed jou, ek sal sonder my pa se toestemming trou, al is ek nog nie mondig nie.”
“Jy speel seker.” Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlaggie aan. “Ek dink so iets is . . . e . . . ietwat gewaag.”
Sy skud haar kop. “Nie vir my nie. Ek ken my pa en weet presies wat sy swakheid is. Hy sal eerder selfmoord pleeg as om ’n skandaal te beleef, en as sy dogter reeds ’n paar weke getroud is, sal hy dit nie waag om haar van haar man af weg te neem nie, want die opskudding wat dit in die sosiale kringe sal verwek, sal vir hom gelyk aan ’n skandaal wees.”
“En watter predikant, dink jy, sal ’n minderjarige meisie sonder haar pa se toestemming in die huwelik bevestig, ou kleintjie?” Hy kyk haar met ’n stadige glimlaggie aan wat sy hele gesig ophelder.
Tina verras hom weer eens toe sy met ’n breë glimlag sê: “Nie ’n predikant nie, maar ’n landdros wel, en dan moet dit ook een wees wat my pa nie ken nie.” Sy begin weer saggies lag. “Jy ken nie my oom At nie, Renier. Hy is my pa se ouer broer, en ek kan hom maar net vra om daardie spesiale dag vir ’n rukkie my pa se plek in te neem –”
“Tina, meisietjie, waarvan praat jy tog?” val hy haar geamuseer in die rede. “Besef jy dat so ’n optrede groot moeilikheid kan veroorsaak?”
“As ’n ander persoon die takie sou verrig, sou ek bepaald lugtig voel, Renier, maar nie as daardie persoon my oom At is nie.”
“En wat, as ek mag vra, maak jou oom At immuun teen moeilikheid, ou kleintjie?” Hy kyk haar vraend, belangstellend aan. Sy is inderdaad die oulikste, mooiste en liefste meisie met wie hy nog ooit kennis gemaak het, en sy liefde vir haar is diep en grensloos.
“Ek СКАЧАТЬ