Kobra. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kobra - Deon Meyer страница 4

Название: Kobra

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798165051

isbn:

СКАЧАТЬ hy dat hy bodyguards nodig het?” vra Cupido.

      “Ek … Hy’s ’n Britse burger. Dis al …”

      “Shit,” sê Cupido, want hy sien die implikasies.

      Louw verstaan sy reaksie verkeerd. “Kaptein, dit is al inligting wat hy bereid was om te gee.”

      “Mevrou,” sê Griessel, “in dié stadium vermoed ons dat hy … vermis word. En hy is ’n uitlander. Dit beteken …” Hy soek na die regte woord.

      “Big trouble,” sê Cupido.

      “Dis reg,” sê Griessel. “Ons het so gou moontlik al die inligting nodig wat ons kan kry.”

      “Dis hoekom ek hier is,” sê Louw. “Ek sal alles gee wat ek het.”

      “Ma’ nie voor die plaas se mense nie? Why?” vra Cupido.

      “As gevolg van die geheimhoudingsklousule het La Petite Margaux geen kennis van wie in die gastehuis was nie. En ek het ’n diskresieverpligting teenoor my kliënt. Dit is waarom ek alleen met julle moet praat.”

      Cupido rol sy skouers.

      “Vertel ons wat jy weet,” sê Griessel.

      Sy knik, en haal diep asem, asof sy haar kragte bymekaarmaak.

      3

      “Verlede Woensdag net voor sestienhonderd-uur het Morris per telefoon met my kontak gemaak, en navraag gedoen oor die aard van ons dienste en die agtergrond van ons personeel. Met ’n … mens noem dit seker ’n Oxford-aksent. Ek het hom na ons webwerf verwys, maar hy het gesê hy het dit reeds bestudeer, en wou seker maak dit is nie net bemarking nie. Ek het hom verseker dit is alles feitelik korrek. Hy het enkele vrae oor die opleidingsagtergrond van my personeel gehad, wat ek beantwoord het …”

      “Hoe is hulle getrain?” vra Cupido.

      “Die meeste van my mense is voormalige SAPD-lyfwagte, kaptein.”

      “O.K. Proceed.”

      “Morris het toe gesê hy het, en ek haal aan so goed as wat ek kan onthou, ‘a need to get out of circulation for a while, and enjoy the benefit of very vigilant, discreet and professional bodyguard services’. En hy het dit vanaf verlede Vrydag nodig gehad. Ek het gesê ons kan hom akkommodeer, en gevra of ek deur die standaardprosedure kon werk om ons diens volgens sy behoeftes te bepaal. Hy wou weet wat die prosedure behels. Ek het gesê dit is ’n reeks vrae oor sy beroep, omstandighede, naasbestaandes wat in geval van nood gekontak kan word, moontlike bedreigings, tydsduur en begrotingsbeperkinge. Sy reaksie was dat daar geen begrotingsbeperking was nie, en dat hy die diens vir ’n paar weke wou gebruik, maar dat hy sou verkies om nie enige verdere inligting te verskaf nie. Ek het gesê ek sal dadelik ’n konsep en kwotasie voorberei, en vir hom e-pos. Hy het verkies om terug te skakel, wat hy ’n uur later gedoen het.”

      Griessel hoor die amptelike intonasie, die presiese woordkeuses. Asof sy toevlug neem in die bekende terrein van die amptelike verklaring. Daar is iets militaristies aan haar. Hy wonder of sy ook in die Diens was.

      “My aanbeveling was hierdie gastehuis, en ’n span van …”

      “Hoekom dié een?” vra Cupido.

      “Ons gebruik dit gereeld. Dit voldoen aan al die vereistes. Dit is minder as ’n uur van die lughawe af, maar buite die stad. Dit is afgesonder, met goeie toegangsbeheer, ’n oop, bestuurbare perimeter, en personeel wat ons behoeftes en vereistes verstaan.”

      “O.K. Proceed.”

      “My aanbeveling aan Morris was ook ’n span van twee gewapende lyfwagte per dag- en nagskof. Hy het dit onmiddellik aanvaar, en gevra wat die volgende stap is om die transaksie mee af te handel. Ek het hom versoek om ’n deposito van een week se dagtariewe elektronies te betaal. Hy het …”

      “Hoeveel?” vra Cupido, ontvou sy arms, en kom sit in ’n stoel langs Griessel s’n.

      “Hoeveel was die deposito?”

      “Ja.”

      “Net meer as vyfduisend-tweehonderd pond. So sewentigduisend rand.”

      “Vir ’n week?” In ongeloof.

      “Dis reg.”

      “En hy het dit betaal?”

      “Binne ’n halfuur. En hy het die volgende dag, die Donderdag, ’n skandering van sy paspoort se fotoblad per e-pos aangestuur, wat ek aangevra het vir identifikasie- en registrasiedoeleindes. Dit wys dat hy ’n ses-en-vyftigjarige Britse burger is. Hy het ook die Donderdag geskakel met besonderhede oor sy aankoms. Ek het hom tydens dié oproep in kennis gestel van prosedure by die lughawe, en vir hom ’n beskrywing gegee van my mense wat hom sou ontmoet. Dit was die somtotaal van my kommunikasie met hom. Fikter en Minnaar het hom Vrydagmiddag by die lughawe gaan ontmoet – hy was op vlug SA337 van Johannesburg wat om vyftienhonderd-tien geland het. Hulle het …”

      “Johannesburg?” vra Cupido. “So hy het nie uit Engeland uit gevlieg nie.”

      “Dis moontlik dat hy van Brittanje na Johannesburg gevlieg het, en ’n aansluiting gekry het Kaap toe. Ek kan dit nie bevestig nie.”

      “O.K. Proceed.”

      “Fikter het Vrydagmiddag om vyftienhonderd-sewentien ’n SMS aan my gestuur om te bevestig dat Morris veilig aangekom het, en weer om sestienhonderd-twee-en-vyftig dat hulle in La Petite Margaux se gastehuis was, en alles was in orde. Hulle het daardie Vrydagaand die nagskof behartig, en Stiaan Conradie en Allistair Barnes die dagskof. Elke span het aan die begin en einde van die skofte per SMS gerapporteer. Daar was geen probleme nie. Ek het Sondagoggend, na afloop van die nagskof, met Fikter ’n selfoongesprek gehad om te hoor hoe dit gaan. Hy het gesê Morris is ’n baie beskaafde, hoflike man, en dat hy ontspanne en joviaal voorkom. Conradie en Barnes is op die oomblik hier onder, by die hek. Hulle is gereed om met julle te praat sodra die SAPD hulle toelaat om by die plaas in te kom.”

      * * *

      “So let me get this straight,” sê Cupido. “Al wat jy weet, is lat hierdie ou ’n Brit is met ’n fancy aksent en seventy thousand to burn. No address, no job description, niks. For all we know kan hy ’n serial killer wees.”

      “Dis reg.”

      “Ma’ julle is happy om vir so ’n ou bodyguard services te verkoop?”

      “Kaptein, as jy kontant het en ’n nuwe motor wil gaan koop, vra die handelaar nie of jy ’n kriminele rekord het nie.”

      “’n Cop met cash vir ’n kar? Fat chance. And it’s not the same.”

      “O?”

      “Bodyguard services is soort van personal, don’t you think?”

      Louw begin weer vorentoe sit, en Griessel vra: “Toe jy met hom oor die telefoon gepraat het – het hy bang geklink? Angstig?”

      Sy skud haar kop. “Nee. Ek het tydens die gesprek net twee afleidings gemaak. СКАЧАТЬ