Kobra. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kobra - Deon Meyer страница 2

Название: Kobra

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798165051

isbn:

СКАЧАТЬ soos Griessel versigtig deur die portaal navigeer, is hy skielik bewus van sy eie gekreukelde broek. Die dik blou trui en baadjie verberg darem die hemp. Gister se klere. En Cupido sal dit nie miskyk nie.

      “Hoesit, Benna. Hoeveel is daar?”

      Griessel loop uit op die stoep, begin die handskoene aftrek. Die donker wolkmassa is weg, die son wil deurkom, sodat hy sy oë moet knip. Die uitsig is skielik asemrowend, die Franschhoek-vallei ontsluier voor hom.

      “Een van die plaasmense lê in die wingerd. Dit het te veel gereën, ek kon nog nie daar uitkom nie. En daar’s twee binne.”

      “Jissis …” Dan kyk Cupido skerp na hom. “Jy O.K., Benna?”

      Hy weet sy oë is rooi, en hy het nie geskeer nie. Hy knik. “Net bietjie sleg geslaap,” lieg Bennie Griessel. “Kom ons gaan kyk na die een daar buite.”

      * * *

      Die eerste slagoffer lê op sy rug, tussen twee rye wingerd – ’n bruin man, geklee in wat lyk na ’n donkerrooi uniform met silwer insetsels. Cupido en Griessel gaan staan op die soom van die grasperk, net vier meter van die liggaam af. Hulle kan die groot uitskietwond tussen die oë sien.

      “Hy is van agter af geskiet. En gesleep tot dáár.” Griessel wys na die twee vae, uitgewaste slootjies wat tot by die man se skoenhakke strek. “En dié is die spore van die werker wat hom vanoggend sien lê het.”

      “Dis ’n brother,” sê Cupido, en dan, beskuldigend: “In ’n slave outfit.”

      “Hy werk by die gastehuis. Volgens die …”

      “Dis ’n gastehuis dié? Ek dog dis ’n wine farm.”

      “Dis ’n wynplaas mét ’n gastehuis …”

      “As if they don’t make enough money. Jy seker jy’s orraait?”

      “Ek is reg, Vaughn.”

      “Was jy huis toe gisteraand?”

      “Nee. Volgens die …”

      “Was daar ’n case waarvan ek nie weet nie?”

      “Vaughn, ek het laat gewerk. Jy weet hoe die admin ophoop. En toe raak ek aan die slaap.” Hy hoop dat Cupido dit nou sal los.

      “In jou kantoor?” Skepties.

      “Ja. Die stasie …”

      “So dis hoe jy die call so vroeg gekry het?”

      “Dis reg. Volgens die stasiespeurders moes hierdie werker gisteraand so negeuur se kant nog kaggelhout kom pak en seker maak al die gaste is tevrede. Toe hy nie huis toe is nie, het sy vrou gedink hy het gaan kuier op die dorp … Toe kry die oggendskof hom hier. En toe sien hulle die ander een in die portaal lê. Die probleem is, hulle sê daar was drie.”

      “Now you’re losing me. Ek dog da’ is drie?”

      “Daar was drie gaste. Binne.”

      “So da’ moes vier victims gewees het?”

      “Ja …”

      “So where’s number four?”

      “Dis die vraag. Die ding is … Ons het drie kopskote, Vaughn. Die ander een daar binne is deur sy pistoolhand én in die kop geskiet, die twee doppies lê só naby aan mekaar …”

      Dit neem ’n oomblik voor Cupido snap. “Jissis, Benna. Double tap.”

      “Op ’n bewegende teiken …”

      Cupido skud net sy kop in verwondering. “Daai is fyn skiet, pappie …”

      “Wat my die meeste pla: Die laaste slaapkamer wys daar was ’n gestoei. Nou hoekom sal ’n ou wat só kan skiet ’n man gaan stoei?”

      Cupido kyk bekommerd na Griessel. “You thinking what I’m thinking?”

      Bennie wil dit nie sê nie, want die implikasies is wyd. Hy knik net.

      “Daar’s ’n koerantfotograaf by die hek, Benna.”

      “Fok,” sê Griessel.

      “Kidnapping. Wanneer laas het ons dít gesien?”

      “Daar’s nog moeilikheid. Al twee die ouens daar binne lyk … As ek kyk na die bou, die haarstyle, die klere, al twee het Glock Sewentiens gedra. Ek dink hulle is wetstoepassing. Óf Weermag, óf Spoke …”

      “You’re kidding me.”

      “En ’n ou wat só skiet, foutloos … Hy’t opleiding gehad. Taakmag, spesmagte, Intelligensie … So iets. ’n Pro.”

      Cupido draai om en staar na die huis. “Shit. Trouble, Benna. Big trouble.”

      Griessel sug. “Dis reg.”

      “Ons sal moet roer, pappie.”

      “Ek sal Die Giraffe moet bel. Hulle sal die media moet bestuur.”

      Hulle beweeg nie. Hulle staan langs mekaar, hoofde geboë – Cupido ’n kop langer as die bonkiger Griessel – besig om al die implikasies te deurdink, huiwerend voor die chaos wat hulle weet gaan kom.

      Tot Cupido, met die pante van sy Hawk-in-Winter-jas wat uitbol in die koue wind, sy hand beskermend om Bennie se skouer sit.

      “Benna, daar’s darem een silver lining.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Oor jy so sleg lyk vanmôre, toe dog ek jy het weer begin suip. Maar ’n dronkgat sal nie al daai kon uitgefigure het nie …”

      Hy begin in die rigting van die gastehuis stap.

      2

      Tyrone Kleinbooi sien die auntie in die derdeklas-wa opklim, hier waar Metrorail-trein 3411 by Bellville-stasie se Platform 4 staan, net voor 08:50 op die Maandagoggend. Sy is duidelik in haar beste klere uitgevat, met ’n stemmige kopdoek, en ’n groot handsak is in al twee haar hande vasgeklem. Hy skuif so ’n bietjie om die oop sitplek langs hom aanlokliker te laat lyk.

      Sy kyk na die sitplek, en na hom, en dan kom sy nader, soos hy geweet het sy sal. Oor hy ordentlik lyk. Even features, soos uncle Solly dit genoem het. Jy’t even features, Ty. Dis ’n boon in hierdie industry.

      Industry. Asof hulle vir ’n maatskappy gewerk het.

      Sy kom sit sugtend, laat die handsak op haar skoot rus.

      “Môre, auntie,” sê hy.

      “Môre.” Sy kyk sy lang, skraal lyf op en af, en sy vra: “Nou wa’ kom jy vana’?”

      “Van die stad af, auntie,” sê hy.

      “En wa’ gaan jy heen?”

СКАЧАТЬ