Название: Iemand vir 'n scoop?
Автор: Marida Fitzpatrick
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624051121
isbn:
Nadat almal klaar geskep en geskuif en geskarrel het, gaan sit hulle aan tafel. “Ogies,” sê haar ma en almal vat hande. Chamonix se hand voel klein en sag in Andi se regterhand en haar pa s’n groot en grof in die linker.
“Seën ons Heer die voedsel aan ons liggame en maak ons opreg dankbaar daarvoor,” bid hy. “Amen.”
Vir ’n oomblik voel Andi skoon aangedaan. Haar gesinnetjie, wat haar so mal kan maak, is eintlik so ...
“Willeeeeeeem!” gil haar ma die gedagte weg nog voor die “n” van die “Amen” hul ore mooi bereik het. “Die knoffelbroooooood!”
Haar pa en Jacques spring gelyk op en haar ma en haar Queenspark-jean is lankal op. Ná skokmasjiene, hartmassering en mond-tot-mond-asemhaling kondig dr. Niemand die tyding om 13:48 aan: Die knoffelbrood is dood.
Elsabé is so ontsteld dat sy die hele ete deur feitlik niks praat nie en stil na die kaal, manlike en vroulike figure op die Carrol Boyes-servethouer staar. Dis ’n mengsel van skulderkenning- en beskuldigingstilte. Aan die een kant kry sy haarself jammer omdat sy verantwoordelik voel vir die dood van die knoffelbrood. Aan die ander kant blameer sy Willem.
Toe die stilte ongemaklik raak, sê Andi: “Ek is nou besig met ’n groot storie oor Jack Greeff.”
“O, ek onthou vir hom,” sê haar pa. Elsabé se stilte, wat totaal strydig met haar aard is, het blykbaar die uitwerking dat dit Willie meer spraaksamig maak. “Wat was nou weer daai groot treffer van hom?”
“Min my meer,” antwoord Andi.
“Ja, Min my meer!” Haar pa kry so ’n veraf glimlag. “Oe, het ons darem vir jou gedans op daai song, ek en jou ma.”
“Dit was nie ék nie, Willem.” Haar ma praat, maar sy staar nog steeds na die servethouer sonder om haar oë te knip.
“In elk geval,” gryp Andi in om ’n bakleiery af te weer. Die arme Chamonix kan nie met haar eerste besoek so iets aanskou nie. “Jack Greeff besit mos nou al hierdie Afrikaanse klubs ...”
“Ek love sy klubs,” piep Chamonix. “Dis soos in totally awesome.”
“By watter was jy al?” vra Andi.
“Ons gaan gewoonlik na Vonkprop toe,” sê sy, “in Pretoria.”
Andi lag. “En Jacques gaan saam met jou?”
“Jip,” sê sy en kyk na hom met sterre in die oë.
“Boeta, hoor ek reg? Gaan die Foto na Dans, Fokofpolisiekar, alternative rock-fan Vonkprop toe?”
“Wat kan ek sê?” sê hy met ’n glimlag en klap Chamonix speels op die been. “I’m a converted man.”
“Het julle hom al ooit daar gesien?”
“Wie, Jack Greeff?” vra Jacques.
“Hm-hm,” sê Chamonix en skud haar kop. Sy giggel. “Ek dink hy sal bietjie uit voel.”
“So jy sê jy gaan baie soontoe, Chamonix?”
“My een vriend is ’n waiter daar en my ander een staan soms in as barman, so ek kry cool deals met die cover charge.”
“Cool deals, sê jy?”
“Ja, partykeer laat hulle my sommer verniet in!”
“Chamonix,” sê Andi, “ek dink dis tyd dat ek en jy op ’n girls night uitgaan.”
“Dit sal soos so totally cool wees!” roep sy uit.
Pasop, Jack Greeff, ek hét jou – min of meer, dink Andi toe sy glimlag en sê: “Totally.”
Geen geel koevertjie onder in die regterhoek van haar rekenaarskerm nie. Net leeg en blou, soos haar hart, dink Andi.
Dis Maandag en sy het vanoggend al tien keer haar woordeboek uit haar laai gehaal en weer teruggesit net om vir Luan te kyk. Iemand wat haar dophou, sal dink sy kan niks spel nie. Sy hare is so mooi, sien sy toe sy weer haar woordeboek uithaal. So dik en swart met sulke mooi grys haartjies teen die slape. En sy groen oë en as hy sy hand so op die muis sit, dan ...
“Andi,” sê Paul Meintjies kliphard langs haar. Sy wip soos sy skrik. “Vir wat staar jy so in die niet?”
“Nee, uh ... ek dink net aan ’n intro vir my Idols-berig, Paul,” sê sy.
“Ek dog daai berig is al lankal klaar.”
“Amper. Finishing touches,” glimlag sy. Andi wil nog nie vir Paul vertel van die anonieme briefie oor Jack Greeff nie. Sy’s bang hy raak te opgewonde en dan lewer dit niks op nie en dan lyk sy weer net soos ’n loser. Al wat hy weet, is dat sy vanmiddag na ’n funksie in Sandton gaan om te network.
“Kyk net op Sapa ook,” brom hy. “Jy beter jou feite regkry,” en dan stap hy weg.
Andi sit die woordeboek terug en kan nie help om weer vir Luan te kyk nie. Daar sit hy voor sy rekenaar, heeltemal in staat om vir haar ietsie te stuur, om haar uit haar lyding te verlos, maar nee, niks nie. Wag hy dat sy vir hóm iets stuur? Nee, nee, nee. Wendy sê mens moet eenvoudig aanvaar mans wil die jagter wees.
Ja, Luan Verster moet weet dis moeilik om haar te kry. Sy is gesog. Haar lewe is vol. As hy in haar belangstel, sal hy moet werk vir haar aandag. Sy is ’n gesofistikeerde, selfversekerde vrou, wat baie dinge buiten mans het wat haar aandag vereis. Sy ervaar daagliks innerlike groei en ...
Dalk moet sy aan ’n verskoning dink om na hom toe te gaan. Hm, ja. Sy kan dalk sy raad oor iets gaan vra. Maar oor wat? Die briefie, skiet die gedagte haar te binne. Sy kan sy raad vra oor die anonieme briefie onder haar ruitveër! Luan Verster is mos dié ondersoekende joernalis. Hy weet mos alles van cloak en dagger en on the record en off the record en joernalistieke etiek en al daai goed. Ja, ja, ja, briljant.
Sy sit gou eers lipglans aan, met haar rug na sy kantoor sodat hy dit nie kan sien nie. Dan soen sy die helfte op ’n tissue af. Hy moenie dink sy het spesiaal lipglans vir hom aangesit nie.
Goed. Gereed, generaal.
Selfvertroue, selfvertroue, selfvertroue, sê sy oor en oor vir haarself terwyl sy doelgerig na sy kantoor stap. Sy het nou die dag in FHM gelees selfvertroue is die een enkele ding wat vroue die heel aantreklikste vir mans maak.
Toe sy voor hom in sy kantoor staan, wens sy sy kan weghardloop. Sy sien sy lippe beweeg, maar haar hart klop so in haar ore dat sy nie kan hoor wat hy sê nie. Sy hoop hy het haar gegroet, want sy antwoord net met ’n “haai”.
Hy glimlag sondig vir haar. Maar sy ignoreer dit en sê saaklik: “Jammer om te pla ...”
“Jy kan maar enige tyd pla, Andi,” sê hy. СКАЧАТЬ