Iemand vir 'n scoop?. Marida Fitzpatrick
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick страница 5

Название: Iemand vir 'n scoop?

Автор: Marida Fitzpatrick

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624051121

isbn:

СКАЧАТЬ sy nog gaan sukkel om Jack Greeff se adres in die hande te kry. En sy het net vandag. As sy nie daai storie vanmiddag skryf nie, is sy gefire.

      “Advokaat, sal jy asseblief met jou kliënt praat en hom vra of ek hom vandag kan sien? Net vinnig.”

      “Dis moeilik. Hy’s ’n baie besige man.”

      “Ek verstaan dit, maar ons kan nie langer wag nie. Die storie was klaar gister in Beeld.”

      “Ek sal uitvind,” antwoord hy formeel, “maar ek belowe niks nie.”

      Andi sug toe sy die foon neersit. As Paul uitvind sy het gebel en nie die adres in die hande gekry nie, fire hy haar on the spot. Haar enigste hoop is nou op advokaat Human. Sy hoop tog hy is ’n genadige man.

      Andi draai in haar kantoorstoel om. Die kantoor is neerdrukkend verby. Alles is oud en muwwerig. Sy wens so sy het eerder by Beeld gewerk – in daardie glaspaleis in Aucklandpark wat hulle Mediapark noem. Elke oggend, wanneer sy daar verbyry op pad werk toe, beny sy so die mense wat met hul toegangskaarte by daardie groot glasgebou instap. Eendag, dink sy elke keer, eendag is dit sy.

      Intussen is sy vasgekeer in hierdie ou Pressco-gebou in die middestad. Dit lyk erger as die staatsdiens hierbinne. Grys mure, grys afskortings, uitgetrapte matte, uitgewaste mense. En daardie eendag lyk al hoe verder. Beeld en Mediapark lyk al hoe meer buite haar bereik. As mens twee en twintig is, kan jy nog vir jouself sê dis net ’n trappie na groter dinge. Dan kan jy die grysheid verduur terwyl jy grootoog oor groter dinge droom. Maar sy is op die vooraand van dertig en hier sit sy in ’n loopbaan-doodloopstraat. Waar sy oor onsinnighede soos celebs se verlowings moet skryf. In dié stadium van haar lewe moes sy al by Beeld of Sarie of Fairlady gewerk het – waar sy regte artikels kan skryf oor dinge wat saak maak of mooi, inspirerende dinge. Waar sy beskou sal word as ’n regte joernalis, nie ’n sukkelende dertigjarige groentjie wat nie eens celeb-storietjies vir ’n poniekoerant kan skryf nie.

      Sy draai terug in haar stoel en tel die gehoorstuk weer op. Al hoe sy uit Pers gaan ontsnap, is deur vir haar ’n naam te maak. En haar eerste stap is hierdie Jack Greeff-storie. Sy gaan nie veel van ’n naam hê as Paul haar fire nie. Sy sleutel weer advokaat Human se nommer in.

      Wonderlik. Hulle het verdwaal.

      Sy moet Greeff en Emma 12:00 by Greeff se mansion in Sunninghill kry, maar nou gaan sy dit nooit betyds maak nie. Advokaat Human het toe sowaar vir haar ’n onderhoud gereël gekry. Andi het hom so geteister en gesmeek dat hy nie anders kon nie.

      Nou is sy laat. En om alles te kroon ry sy met een van Pers se heel grillerigste, lelikste karre: ’n Tazz met 372 000 kilos op in ’n kleur wat eens op ’n tyd wit was, maar nou so ’n cappucino-skynsel het. Pressco-joernaliste ry nie met hul eie motors nie. Die maatskappy het ’n poel motors waarvan hulle een uitteken as hulle uitgaan op ’n storie. Die meeste van die motors is opgeryde wrakke. Hierdie een is een van die ergstes. Daar is ’n kraak regoor die voorruit, die regterspieëltjie is af en haar deur het nie meer ’n handvatsel nie, wat beteken sy moet aan die passasierskant in- en uitklim.

      Vandag is daar ’n bygevoegde vreugde: die hele stuurwiel is blink van ’n vorige bestuurder se Kentucky-vingers. Hoe weet sy dit was Kentucky? ’n Servet met die kolonel se gesig en ’n hoenderbeen onder die handrem was ’n leidraad.

      Andi probeer al heelpad so min moontlik asemhaal en met so min moontlik vingers aan die Kentucky-stuurwiel vat.

      Die fotograaf sit in ’n grys, gekreukelde hoop langs haar. Die beneukste skakering van grys. Fotograwe haat dit as verslaggewers verdwaal. Om een of ander rede beskou hulle dit nooit as hulle taak om uit te vind hoe om by ’n storie uit te kom nie.

      Die rede hoekom sy verdwaal het, is die bouery aan die Gautrein. Elke dag word ’n ander pad toegemaak en die hele Johannesburg is ’n doolhof van oranje padkegels en geel detour-borde. Sy het nou al elke denkbare detour-bord gevolg, maar geeneen van hulle lei na Sunninghill nie.

      Haat fotograwe. Haat die Gautrein. Haat oranje kegels en detour-borde.

      Hoekom kon sy nie eerder vir Sarie of Cosmo gewerk het en nou in ’n lugverkoelde Yaris met ’n skoon stuurwiel op pad gewees het na die bekendstelling van ’n nuwe parfuum nie?

      “Wie stel in elk geval in ou Jack Greeff se liefdeslewe belang?” vra die fotograaf.

      “Net 90% van ons lesers,” antwoord Andi verontwaardig. Sy haat dit as mense maak of haar beat by die koerant en haar stories nie saak maak nie. Net sy mag dit doen.

      “Hy is so ’n has been. Wie de hel gee nog om?” sê die fotograaf.

      “Mense soos jou ma en my ma wat almal sy CD’s het en elke dag die koerant koop.”

      “Wat sien daai 7de Laan-chick in hom? Hy kon haar oupa gewees het,” sê die fotograaf.

      “Ja,” sê Andi, “dit is bietjie grillerig.”

      “Seker maar die ching,” sê hy.

      “Daarvan is daar baie,” sug sy en kry uiteindelik kans om verby ’n taxi te kom wat voor haar stilgehou het.

      “Hoe het hy so ryk geword? Dit kon tog nie van sy simpel sangloopbaan alleen gewees het nie?” vra die fotograaf.

      “Nee, dis die klubs,” antwoord Andi terwyl sy nou soos ’n taxi in Jan Smuts afjaag om by William Nicol uit te kom.

      “Daardie Afrikaanse klubs?”

      “Ja, die volk is mos mal daaroor. Bakgat in Benoni is nou die gewildste klub in Gauteng.”

      “Was jy al by een? Speel hulle regtig net Afrikaanse musiek?”

      “Dis die klubs se sukses. En dit is wat Jack Greeff ’n multi-miljoenêr gemaak het. Hy het dit begin. Hy besit seker nog iets soos twintig regoor die land.”

      “Ek kan nie glo mense gaan actually soontoe nie.”

      “Wel, hulle gaan. Hordes van hulle. Naweke moet jy sien hoe staan die rye by daai klubs se deure uit.”

      Uiteindelik toring Jack Greeff se paleis voor hulle uit. Dis nou sewe minute oor drie, sewe minute laat.

      Toe Andi deur die swaar ysterhekke vol sierlike krulle en draaie ry, onthou sy hoe Pers se Tazz lyk. Sy kry ’n pyn in haar bors soos wat sy haar skaam. Sy is voor die tyd aangesê presies waar sy op die Greeff-landgoed moet parkeer. Buiten ’n swart Mercedes-Benz SLK-sportmotor is daar geen ander motors in die parkeerarea nie. Andi wonder wie die ryk mens is wat ook by Greeff kom besoek aflê het.

      Sy hoop daar is niemand in die Mercedes om getuie te wees van Aspoestertjie se aankoms in die pampoen nie. Maar die noodlot is teen haar. Daar sit inderdaad ’n mens agter die stuur. Waarom, waarom moet haar lewe altyd in die vorm van embarrassing sprokies afspeel?

      Toe sy langs die swart Mercedes stilhou, rol die bestuurder die elektriese venster aan sy passasierskant af en sê: “Klim gerus in. Ek sal julle na die ingangsportaal neem.” Greeff se landgoed is blykbaar so reusagtig dat hy een van sy chauffeurs moes kry om hulle na die voordeur toe te karwei. Nou moet sy ten aanskoue van die man by die passasierskant uitsukkel. Om sake te vererger het sy vandag haar ballonromp aan wat sy die naweek gekoop het. Saam met visnet-sykouse wat haar tannie vir haar van Frankryk af gebring het. Sy laat blyk egter niks van haar paniek nie en glimlag net vir die man. Dan begin sy boude in die lug, ballonromp СКАЧАТЬ