Название: Louisa du Toit Omnibus 7
Автор: Louisa du Toit
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
Серия: Louisa du Toit-omnibus
isbn: 9780624057901
isbn:
Deur bemiddeling van hulle predikant het mense van die omgewing een Kersvakansie op groot skaal kinders uitgenooi vir die paar weke. Matilda wat nog altyd ’n goeie beeld in die samelewing probeer voorhou, het besluit om ook deel te neem aan die skema. “Veral ’n seunskind kan handig wees met werkies,” het sy hoopvol besluit. “Die meisiekinders wil mos kamtig nie buitewerk doen nie.” Waarmee sy eintlik “vuilwerk” bedoel het.
Tillie en Irma sou natuurlik ’n dogtertjie as maat verkies, maar Matilda het gereken: “Twee van julle is genoeg om my grys hare te gee. En moenie dink ek vat hom as geselskap vir júlle nie. Julle bly van hom af weg. Daarvoor sal ek sorg.”
So was dit dus Deon wat by hulle beland het. Hoe ver lê daardie vakansie nou in die verlede. Twaalf jaar … Tog onthou sy in besonderhede die dag toe hulle hom op die stasie gaan haal het. Dit was broeiend warm. Agter in die kar, waar sy en Tillie gesit het, was dit ondraaglik. Voor het vader gesit met die stuurwiel in sy hande. Ironies genoeg is dit die enigste gebied waarop hy ooit die leiding geneem het sedert sy tweede huwelik. En langs hom Matilda, die mooi vrou. Die gevreesde. ’n Straatengel maar ’n huisduiwel, weet Irma nou.
Vader het stadig gery, soos altyd. En toe hulle op die stasie kom, was die trein al daar en was die meeste van die kinders reeds gulhartig in ontvangs geneem deur die betrokke ouers. Daar was op die perron ’n los gemaal van ouers en kinders met tassies, terwyl die vrou wat hulle begelei kliphard besig was om, lysie in die hand, orde te probeer skep.
Toe is Deon aan hulle uitgewys waar hy in effense afsondering by sy tassie gestaan het; gevoude arms en met effens verweerde sokkies wat span om sy gladde, bruin kuite; ruie, donker hare en ’n besonderse gesiggie met die effense bulterigheid langs sy mondhoeke, asof hy voortdurend besig is om sy kake op mekaar te klem.
Matilda, meegevoer deur haar dramatiese denkbeeld van ’n weeskind wat boonop bereid sou wees om vuilwerk te doen, en ook bewus van talle oë op haar, het hartlik Deon se hand geskud en hom in ’n hoë, onnatuurlike stem welkom geheet. Soos ’n engel des ligs, het Irma destyds gedink. Sy moes ook dink aan ’n valk wat ’n mossietjie in ’n krampagtige greep het.
So het Deon sy tydelike intrek by hulle geneem. Hy was fluks en gehoorsaam en skaam vir die meisiekinders, wat vir Matilda grootliks geval het. Irma se pa het hom nogal aan die seun geheg, en dit moet die rede wees waarom sy teenwoordigheid tydens vakansies ’n vaste instelling geword het. Teenoor Irma en Tillie het Deon meer vrymoedig geraak, en dit moet wees dat sy ordentlikheid vir Matilda gerus gemaak het, want sy het hulle nie meer so opgepas nie. Hy het vir hulle vertel dat hy nie sy familie onthou nie, omdat hy te klein was. “Julle is nou maar soos my familie,” het hy gesê. Hy het erken dat hy bang is vir “die antie”, maar dat sy lekker kos maak. En dis nogal waar. Ook dat Deon se porsies mettertyd groter geword het: “Hy is ’n seun, hy werk hard en hy groei vinnig,” het Matilda feitlik verskoning gemaak … asof dit ’n oortreding is om gaaf in die huis te wees.
Irma is nog besig om by haarself hieroor te glimlag, toe Deon weer van buite af inkom met sy klein handtas. “Mag ek jou gedagtes raai?” korswel hy.
“Ek het net gedink hoe jy meer kos as ek en Tillie gekry het.”
“G’n wonder ek het julle verbygegroei nie. Maar die antie het my hard laat werk daarvoor.” Hy sê “die antie” altyd so half tong in die kies, en nooit voor haar nie.
Sover sy weet, kry hy deesdae ’n salaris as voorman. Dit moet haar pa wees wat daarvoor gesorg het. Deon verdwyn in die badkamer terwyl sy die skottelgoed wegpak.
Sy sit haar tasse gereed neer en neem ook ’n kussing en twee reisdekens. Die aand bloei dood oor bleek strate en dakke en voorspel ’n koue nag. In haar slaapafskorting agter die bamboesgordyn trek sy haar winterjas aan. Sy kyk in die spieël en sien hoe bleek sy lyk. Maar grimeer gaan sy tog nie, nie vir ’n nagreis en ook nie vir Deon nie, hulle het mekaar dwarsdeur die puisiestadium geken. Alhoewel fyn van tekstuur, is haar vel vandag leweloos en haar bruin oë vertoon buitengewoon groot; asof sy ’n spook gesien het, dink sy objektief. En miskien is dit wel die geval.
Sy dink hiermee nie net aan Tillie nie, maar ook aan haar verlowing.
Sy wend ten slotte net vars lipstif aan. Die enigste persoon vir wie sy haar mooi sou wou maak, is op die oomblik so ver van haar asof hy met ’n ekspedisie Suidpool toe is. Sy laat hom agter met die gevoel van verydeling wat so dikwels haar deel is in hulle verhouding.
Toe Deon uit die badkamer kom, is sy gereed. Hulle bekyk mekaar vlugtig.
Sy is wonder bo wonder nog in ’n groot mate natuurlik, en dit na drie jaar in die stad, dink hy waarderend. Selfs sonder grimering beskik sy oor ’n treffende gesig. Maar dan weet hy, beter as enigiemand anders miskien, dat voorkoms by haar nooit soveel sal kan tel soos geluk en sekuriteit nie, die dinge wat sy juis moes ontbeer.
“Wat moet ek met die nat handdoek maak?” vra hy.
“En so netjies … ’n voorbeeld vir julle twee meisies!” aap Irma in ’n hoë, bevelvoerende stem vir Matilda na. “Gee dit maar hier. Ek was verplig om my vuil wasgoed ook in te pak.”
Hy het ’n nie-te-nuwe, gemaklike lang broek aan en ’n dik, swart trui. Met ’n ligte blos herken sy laasgenoemde. “Het jy dit nog steeds? Ek dog dis al opgedra.”
“En dit nadat jy so hard daaraan gebrei het? Nee, ek dra dit spaarsaam.”
“Ek is gereed,” sê sy effens gespanne, bewus daarvan dat hy skoon en aantreklik lyk.
“Ek ook,” sê hy onnodig, en albei word ongemaklik bewus van hulle bymekaarwees alleen hier in die woonstel.
Hy neem die twee tasse terwyl sy nagaan of al die krane goed toe en die skakelaars af is. Dan skrik hulle albei hewig as die telefoon lui. Vir die tweede keer binne ’n uur hou Irma met ’n aaklige voorgevoel die gehoorbuis teen haar oor.
Gespanne hou Deon haar dop, sien dan hoe sy ontspan, hoe sy ’n sekonde lank haar lip vasbyt. “Johan …?” Haar stem is laag en haar oë half geslote sodat sy nie merk hoe Deon ongemaklik wegdraai nie. Toe sy weer by hom aansluit, is haar oë klam.
Sy voel dat sy ’n verklaring aan hom verskuldig is, maar wil nie die indruk van die oproep vir haarself met woorde bederf nie. “Liefste, ek is jammer. Dis al wat ek wou sê. Is jy seker ek moet jou nie huis toe vat nie?” Dis wat Johan gesê het.
“Dankie, Johan; al sou dit ook my keuse wees, is dit nie meer nodig nie. Deon is reeds hier.”
“Ek was so bang jy kan reeds weg wees.” Sy woorde was opreg en innig.
Sy oorweeg die saak van haar woonstelhuur, besluit dan om vir drie maande vooruit te betaal. Terwyl sy die tjek na die opsigter neem, laai Deon haar tasse in die motor.
By ’n kafee enkele blokke verder klim hy af om vrugte te koop. “Om wakker te bly,” verduidelik hy.
“Jy kan slaap. Ek sal bestuur,” bied sy aan.
Hy antwoord nie, en sy wonder wat hy dink. Inderdaad dink hy: sy wil my altyd nog bemoeder, soos in die verlede. Die regmaak van sy bad vanaand was weer eens vir hom ’n bewys dat hy in haar oë nog Deon die alleenkind is. Sal sy en Tillie hom ooit as ’n volwaardige mens kan aanvaar?
Uit koppigheid besluit hy om nie van haar aanbod gebruik te maak nie. Met ligte gesels probeer hy wakker bly, selfs al begin die teerpad voor sy oë te dans. Hy praat oor Tillie en probeer om al Irma se vrae te СКАЧАТЬ