Название: Skynglans van geluk
Автор: Christine le Roux
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780798157858
isbn:
“Robert sal teenoor enigeen speel,” was sy antwoord. “Hy het volle vertroue in my oordeelsvermoë.”
“Maar ek het gehoor hy is ’n onmoontlike man en krap almal om wat saam met hom speel,” was my volgende argument.
“Dis nie waar nie,” het Henri kalm gesê. “Hy is net uiters knap en professioneel. Hy haat mense wat vol nukke en grille is. Hy het nie tyd vir temperamentele aktrises nie; ek wéét jy is nie temperamenteel nie.”
Dit het vir my gevoel asof ons ure geargumenteer het en op die ou einde was ek skoon uitasem en verlep. Maar Henri het voet by stuk gehou.
“Doen my net een guns,” het hy gesê. “Lees die draaiboek en kom vir ’n rolprenttoets. Moenie nou so beslis nee sê nie. Gee jouself ’n kans.”
Goed, ek het ingestem, al is dit dan net om sy onthalwe. Ek het die draaiboek gelees en weer ’n keer gelees. Dis die verhaal van twee baie selfstandige, koppige mense. Die meisie is ’n jong weduwee wat haar totaal van die mensdom en veral van mans afgesluit het. Die man is ook baie in homself gekeer. Ag, dis moeilik om die storie te vertel, want daar is nie veel van ’n verhaal nie. Basies is dit ’n liefdesverhaal vol probleme, ’n verhaal van twee eensame mense wat aan die einde besef dat hulle mekaar tog nodig het. Ek weet dat Henri van so ’n gegewe iets besonders kan maak, maar waarom wil hy my daarby insleep? Aan die einde is daar natuurlik ’n liefdestoneel, en toe ek dit lees, het ek Henri dadelik gebel en beslis gesê dat ek nie vir so iets kans sien nie. Hy het gesê ek is laf en wou weet of ek dan nie vertroue het in hom nie. Hy doen nooit iets wat onsmaaklik is nie en hy beplan om daardie toneel op ’n besondere manier te skiet. Dit gaan glo baie simbolies gedoen word, byna soos ’n dans in stadige beweging. Hoe dit ook al sy, ek bly skepties.
Gister is ek toe na die ateljee vir die rolprenttoets. Ek het gedink dit sal net ek en Henri wees, maar toe ek daar opdaag, is Robert ook daar. En vir die eerste keer kon ek hom goed beskou. Hy is lank en skraal, maar skep tog die indruk van sterkte alhoewel hy geensins fris gebou is nie. Oor sy aantreklikheid sal ek nie nou uitspraak lewer nie, want almal dink mos hy is pragtig en ek weet sy bewonderaars kla altyd omdat hy so min rolprente maak. Henri sê dis omdat Robert eintlik ’n boer is en ’n boer wil bly. Hy het maar net in rolprente opgetree omdat hy geld nodig gehad het vir sy plaas in Colorado. Of dit waar is, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat hy ’n uiters formele, stroewe man is. Hy het my met die hand gegroet en toe met die draaiboek gaan sit totdat Henri vir my alles verduidelik het.
Die eerste toneel moes ek alleen doen en dit het seker nie te sleg gegaan nie. Die volgende toneel moes ons egter saam doen en dit is ’n episode waar ons op mekaar skree. Ons baklei en snou mekaar die vreeslikste goed toe. Ek was allesbehalwe lus vir so ’n bakleiery en die eerste keer het dit ook baie sleg gegaan. Ek het sommer net my woorde gelees. En weet jy wat sê daardie vent? Hy gooi sy draaiboek op ’n stoel neer en sê: “Behoede my tog van nog ’n uitgewaste ou meisietjie wat dink sy kan toneelspeel.”
Ek dog ek ontplof. Ek dink nie ek kan toneelspeel nie en ek wil dit ook nie doen nie. En wie gee hom die reg om my uitgewas te noem?
Ek het op my tande gekners en vir Henri gevra of ons dit nog ’n keer kan doen. En toe het ek die woorde gesê asof ek dit bedoel. Ek hét dit ook bedoel! Ek het die hitsige woorde uitgespoeg en toe dit verby is, het Henri hande geklap. En weet jy wat het Robert gedoen? Hy het gelag, vir Henri gevra of hy nou maar kan gaan en hy is daar weg. Ek was lus om een van die stoele teen sy agterkop vas te gooi! Selfversekerde vent! Meerderwaardige mansmens! En hy het die vermetelheid om te sê hý hou nie van temperamentele aktrises nie.
Nou ja, daar het jy dit, sus. Die hele storie. Henri sal my nou laat weet of die toets geslaag was. Ek hoop van harte dit was nie, dan is ek oor ’n week of drie by jou en Gerrit. Ek verlang so na julle vir ’n lang kuier. Ek wil elke oggend op die stoep sit en kyk na die berge en die leivoor, en ek wil nie ’n motor hoor of uitlaatdampe ruik nie . . .
Baie liefde vir julle almal
Elize
Elize trek die vel papier uit haar tikmasjien, lees dit deur en steek dit in ’n koevert.
“Noag!” roep sy en die groot, wollerige hond kom na haar aangedraf. Sy vryf sy kop en soek na haar sandale wat onder haar skryftafel lê. “Kom ons gaan pos hierdie brief. Ek is moeg gesit.”
Die hond swaai sy stert en draf agter haar aan. Hy staan op die stoep en wag terwyl sy die deur toesluit, en saam stap hulle deur die tuin en toe straataf na waar die posbussie op die hoek is. Dis warm en bedompig en Elize stoot haar dik blonde hare van haar voorkop weg. Dit sal wonderlik wees om weer ’n ordentlike winter te beleef, dink sy. Sy is moeg vir besoedeling en hitte en die klam benoudheid van hierdie stad. Maar toe sy terugstap na die huis, voel sy tog effens nostalgies. Sy het lekker gebly in hierdie huisie met sy groot tuin, nog iets wat sy aan Henri te danke het. Hy het van hierdie huis gehoor en haar hierheen gebring, en die twee jaar dat sy hier gebly het, was sy gelukkig. Sy het hard gewerk en baie interessante mense ontmoet, maar nou is sy moeg vir die plek en wil teruggaan Suid-Afrika toe.
Sy breek afgetrokke ’n paar dooie blomkoppe af en wens Henri wil bel sodat sy kan begin inpak en plek bespreek op die vliegtuig. Haar ouers is dood net voordat sy Amerika toe sou kom, en die verblyf hier in die vreemde het gehelp om die gemis te versag. Dis nou net sy en Nanette oor, en sy verlang na haar suster en die heerlike, giggelende gesprekke van hulle jeug.
Toe sy die voordeur oopsluit, hoor sy die telefoon lui. Sy skop haar sandale uit en hardloop kaalvoet die gang af.
“Hallo,” sê sy effens uitasem.
“Elize,” sê Henri, en sy kan hoor sy stem is vol lag, “jy is wonderlik. Geluk. Ons begin oor drie weke skiet as dit jou pas.”
“Ag nee,” sê sy en gaan sit sommer plat op die vloer met die instrument op haar skoot. “Spot jy net?”
“Nee. Ek spot glad nie. Ek het nou net die toets gesien en jy is fantasties, presies wat ek wil hê, presies soos ek geweet het jy sal wees.”
“Ag, nee,” sê sy weer. “Ek het so gehoop dis ’n mislukking.”
Hy lag hard en lekker. “Weet jy dat daar duisende meisies is wat hulle lewe sal gee om in ’n rolprent te speel? En al wat jy kan doen, is om te sug!”
“Maar ek is nie ’n aktríse nie,” sê sy vir die hoeveelste keer. “Ek is ’n skryfster. Waarom het jy nie een van daardie duisende meisies gekies nie? Waarom pik jy op my? Buitendien hou ek niks van Robert Ryan nie en ek weet nie hoe ons ooit saam kan werk nie en –”
“Wag,” keer hy. “Wag nou eers ’n bietjie. Een ding op ’n slag. Ons gaan die prent nie hier skiet nie, ek soek ’n kleiner dorp.” Hy noem die naam van die plekkie en sy is bly, want sy was al daar en dis ’n mooi, boomryke dorp, ’n plek waarvan sy hou. “Ek bel jou weer, maar ons begin oor drie weke. Kry maar jou dinge in orde. Terloops, het jy ’n agent?”
“Moenie СКАЧАТЬ