Die Meisies van Maasdorp. Stella Blakemore
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore страница 7

Название: Die Meisies van Maasdorp

Автор: Stella Blakemore

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия: Maasdorp

isbn: 9780798159197

isbn:

СКАЧАТЬ voel dat u reg is,” sê sy in ’n bewerige stemmetjie. “Ek sal probeer!”

      Juffrou Muller glimlag effens. Dit is egter weer so gou weg dat Elsabe wonder of sy regtig die skielike opheldering van die streng gesig gesien het.

      “Dit sal vir jou miskien nie maklik wees nie, maar so ’n strewe is altyd die moeite werd. Graad nege is nie ’n bende hongerige wolwe wat jou wil verskeur nie. Hulle is almal meisies met goeie karakters … een van die beste klasse in die skool.” (So iets van juffrou Muller sou graad nege laat skrik het!) “Hulle haal natuurlik allerhande dom streke uit, soos by meisies die gewoonte is, en een daarvan is dat hulle ’n bietjie wantrouig is teenoor elkeen wat effens anders as hulleself is. Later sal jy miskien nes hulle maak.”

      “Ja, ek hoop so. U is seer vriendelik!”

      “Is ek?”

      Juffrou Muller is verras. Sy is dit nie gewoond dat haar leerders haar as vriendelik beskou nie.

      “Niemand wil regtig anders as vriendelik wees nie,” sê sy.

      “Na die aandete en ’n goeie nagrus sal jy sien dat die wêreld nie so ’n slegte plek is nie. Het jy al uitgepak?”

      “Nee. Ek soek juis na die slaapsaal …”

      “Kamer,” help juffrou Muller haar reg.

      “Na die slaapkamer, sodat ek my sleutels vir die matrone kan gaan haal, daar sy verkies …”

      “So! Een van die eerste dinge wat jy moet leer, is om jou gedagtes so kort moontlik uit te druk. Moenie so baie woorde gebruik nie. ’n Skool is ’n besige plek en niemand het tyd om na sulke taalblommetjies te luister nie. Dis moontlik om hoflik en tog kort te praat. Jy sal gou moet maak as jy voor die aandete wil uitpak. Nee, dis nou al te laat. Jy’t net tien minute.”

      “Ek het g’n aptyt … ek wil nie eet nie!”

      “Dis die reël hier om na al die maaltye te gaan, of jy wil eet of nie. Hardloop nou!”

      Almal in hierdie plek wil hê ek moet hardloop, dink Elsabe bedroef.

      “As u blief!” sê sy hardop en angstig. “Kan ek verlof kry om van hierdie maaltyd weg te bly?”

      “Dit sou miskien moontlik wees as jy voel jy kan die ander meisies nie in die eetkamer ontmoet nie, maar dan sal jy dit tog môreoggend moet doen. As jy vanaand teenwoordig is, sal jy vir die res van jou verblyf in die skool presies weet waarheen jy moet gaan en wat om te doen. Dink jy nie dis verstandiger nie?”

      “Ja,” sug Elsabe.

      “Gaan nou na die badkamer toe – die badkamers is in die kort gangetjie net hier aan die end van die groot gang – en was jou gesig. Waar is jou sleutels?”

      “In die slaapsaal … kamer … in my handtas. Moet ek hulle nie eers aan die matrone oorhandig nie?”

      “Jy het nie tyd nie. Gaan baai liewer jou oë, sodat jy daar nie so sleg uitsien nie. Ek sal sorg dat die matrone die sleutels kry. Na die aandete mag jy opkom en uitpak. Jy sal jou eie slaapkamer maklik kan kry. Dis nommer een, die tweede deur van myne.”

      “O, hartlik dank!”

      “En as jy oor ’n paar minute die klok hoor lui, loop jy met die groot trap af en gaan tussen die meisies van jou klas staan. Ken jy hulle gesigte?”

      “Ja, o … u is wonderlik goed!”

      Elsabe maak die deur oop en kyk verleë terug.

      “Ons sal mekaar môre in die wiskunde-uur ontmoet,” sê juffrou Muller met ’n klein bewys van ’n glimlag. “Ek hoop jy sal dan daar minder soos ’n gewonde soldaat uitsien.”

      “Ek sal my bes doen,” sê Elsabe.

      “Goeienaand, dan. Probeer om goed te eet.”

      “Goeienaand, Juffrou. Hartlik dank!”

      ’n Paar minute lank staan juffrou Muller diep in gedagte, stil, voor sy eindelik na juffrou Reitz se kamer toe gaan. Hier heers nog wanorde.

      “Ag, sit tog, asseblief!” sê juffrou Reitz verstrooid. “Ek is nog nie halfpad klaar nie! Ek wens nou ek het ook vroeg gekom soos jy, maar ek kon my nie van die huis af wegskeur nie. Ek sou om halfsewe moes vertrek het as ek met die eerste trein wou gekom het.”

      “Ek moes taamlik vroeg vertrek, maar dis soveel plesieriger om my goed in orde te hê sonder om my te oorhaas.”

      Juffrou Reitz sug. Onderwyseresse ken ook “heimwee”.

      “Jy’s altyd so moedig!” sê sy.

      Hierop gee juffrou Muller geen antwoord nie.

      “Het jy koperdraad by my laat vra?”

      “Ja. Het jy ’n stukkie?”

      “Nee, dit spyt my. Ek het nie nuwe prente om te hang nie, daarom het ek nie draad gebring nie. Het jy miskien op die meisie gelet wat jy met jou boodskap gestuur het?”

      “Ja. ’n Snaakse kind. Ek dink nie sy’s baie intelligent nie.”

      “Daarvan is ek nie oortuig nie,” sê juffrou Muller. “Sy’s maar net verskrik en g’n wonder nie.”

      “Sy kom my voor of mens haar van die begin af moet herskep, arme sieltjie!”

      “Die graad neges sal sorg dat sy ’n nuwe geboorte deurmaak,” belowe juffrou Muller.

      Die verdere gesprek tussen die twee onderwyseresse is oor roosters en die nuwe verdeling van klasse.

      In die badkamer is Elsabe besig om haar oë deeglik af te spoel.

      Sy voel beter noudat sy ’n gedeelte van haar ongelukkigheid uitgehuil het.

      “Ek sal my sakdoek vir ’n handdoek moet gebruik,” sê sy vir haarself. “Hoe kan ek my hare kam en borsel? Ek kan nie voor al daardie meisies in die slaapkamer ingaan nie.” Sy staan ’n oomblik stil, dan sê sy hardop: “Dis onsin! Ek sal nie ’n lafaard wees nie. As ek twee en ’n half maande met die meisies moet saamlewe – hoe gouer ek daaraan gewoond word, hoe beter.”

      Sonder om tyd te verkwis, loop sy gou in die gang af en stoot die deur van die slaapkamer oop.

      6

      _____________

      Die eerste maaltyd

      Die meeste van die koffers is al uitgepak en die slaapafdelings lyk nou meer huislik, want die meisies het hulle eie prente en goed op die tafels gerangskik.

      Niemand neem van Elsabe notisie nie. Dis die besluit van die klas om te maak of sy nie daar is nie. In haar afdeling voel sy meer tuis, want dit is tog haar eie gedeelte van die slaapkamer.

      Sy maak haar lang, dik hare los en kyk ’n bietjie verleë na die ander meisies met hulle kortgeknipte hare. Elsabe is die enigste СКАЧАТЬ