Onse Vaders. Karin Brynard
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onse Vaders - Karin Brynard страница 17

Название: Onse Vaders

Автор: Karin Brynard

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798158312

isbn:

СКАЧАТЬ Balkanmense. Ou nasies. Diep geskiedenis – waarvan sy eintlik niks weet nie. Baz sélf eintlik ook nie. Dit was sy oupa wat Suid-Afrika toe gekom het – ’n toekoms hier kom soek het in die goudmyne. Maar hy het vinnig die plafon bereik. Te blas, glo, in die tyd van Afrikaner-regstellende aksie.

      ’n Winkel was die uiteinde, meestal swart klante. Baz se pa sou oorvat, maar die grensoorlog het hom gevat, destyds. In Angola. ’n Landmyn of iets.

      En ná 1999, met die etniese suiwering in Kosovo, het daar ’n stewige Albanese gemeenskap in die Goudstad tot stand gekom. Die winkel het begin spesialiseer in die invoer van Albanese voedselprodukte. En toe ’n restaurant bygekry – Griekse en Albanese kos, wat baie ooreenstem.

      Baz het feitlik in die winkel grootgeword, vertel sy ma. Ma Bet, soos hy haar noem.

      Hy was die liefling van ’n ieder. Vanselfsprekend – met sy groot kaneelsuikerbruin oë en die pikswart krulle. Deesdae hang dit óf los in ’n weelderige bos oor sy skouers óf dit is in ’n poniestert vasgevang. Groot, sensitiewe mond, ’n sterk, reguit neus en swaar wenkbroue. Sy het nou maar eenmaal ’n swak vir ’n donker man. Toe Gerda hom die eerste keer sien, het hy haar asem weggeslaan. Hy’t soos ’n verdwaalde GQ-model gelyk. Met ’n heerlike voorliefde vir ouer vroue. Veral vir ouer rooikopvroue.

      Die verkeer kom weer in beweging en Gerda trek weg, sien ’n gaping regs van haar en druk in. Sy word beloon met ’n bulderende toeter. Varke. Sal eerder sterf as om iemand anders ’n kans te gee. Sy swenk af in die straat waarin die skool is en gee vet.

      Voel die kleintjie in haar maag beweeg. Haar hart smelt. Sy voel behoorlik hoe die endorfiene oor haar brein spoel, deur haar hart, tot in die verste uithoekies van haar lyf. Haar wange gloei, sy voel haar tepels tintel.

      ’n Ou meisietjie. Wat van feetjies sal hou. En pienk goetertjies. Met wie sy sag sal kan wees, wat vir Pietman ’n maatjie sal wees. Wat hom sal soen, sy handjie vat, hom troos...

      Die trane kom voor sy kan keer. Sy knip haar oë en draai haar ruit af vir lug.

      Dit sal nooit weggaan nie. Hierdie pyn. Hy sit sy sit. Staar haar meedoënloos uit. ’n Skroeiende wit vlam, ingebed in elk sel van haar liggaam. En op sekere dae...

      Dalk is dit net die herfs. Johannesburg met sy miljoene bome. Die naaldeike wat rooi en roes raak, die verbleikte lug, asof die hemel wegvlug van die koue aardkors.

      Sy draai in by die skool se hek en trek onder ’n plataanboom in. Hy het nog nie al sy blare afgegooi nie. Goddank, want die son kan steeds bitsig raak, al word die nagte koud.

      Sy kyk vir oulaas in die truspieëltjie, herstel die effense traanskade aan haar oë.

      Oukei, loop die dag tegemoet. Dapper en stapper.

      Maar diep binne-in weet sy: Op dae soos vandag... dis of die wêreld kantel, lang skaduwees maak. Pa wat bietjie wilder lyk as gister. Baz – wat net so ’n effe... wat? Afstandelik? Sy skud haar kop, maak haar deur oop. Op en uit, sê sy vir haarself.

      Dis toe sy uitklim dat sy die wit Honda Ballade stadig by die skoolhek sien verbyry. Binne-in sit twee jong manne, diep in hul stoele ingesak. Die passasier het ’n hoodie oor sy kop getrek. Sy kan sy gesig glad nie sien nie. Die ander een kyk stip na haar, ’n swart pet laag oor sy voorkop getrek, ’n donkerbril wat sy oë verskuil. Sodra hulle verby die hek is, hoor sy hoe hulle met skreeuende bande vetgee.

      En skielik is die skaduwee terug in haar gemoed.

      Hoofstuk14

      14

      Beeslaar voel soos ’n kind wat ’n gebreekte speelding in sy Krismispakkie gekry het: opgewondenheid wat op misnoeë gestrand het.

      Hy baklei teen die opgewonde gevoel, want hy weet dit beteken moeilikheid. As hy doen wat goed is vir hom, ry hy.

      Terug na sy tuin toe. Wat hy besig is om in die rooi grond van sy agterplaas aan te lê. Na die lewe van ’n kleindorpse langarm, die gemaklike ritme wat sy lewe die afgelope tyd daar begin inneem het.

      Hy staar vir ’n sekonde nog na die vreemde vrou oorkant hom wat afgemete haar bord leegrusper. Val dan self weg.

      Kaptein Quebeka is eerste klaar. Sy breek behoorlik maar beleef wind agter ’n delikate vuis en trek die tandestokkies nader, waarmee sy fyntjies iets hinderliks uit ’n holte tussen haar tande loswoel. Dan sit sy behaaglik agteroor en drink haar koffie in stilte. Wag vir hom om klaar te eet.

      “Drink eers jou koffie,” sê sy vir hom sodra hy sy mes en vurk neersit.

      Hy grinnik, maar maak soos sy sê.

      “Werk die Panado’s al?”

      “Die kos werk.”

      “Wat het jy gedink, gister?”

      “Weet jy wat alles gesteel is?”

      “Kontant uit die kluis – sowat tienduisend rand. Vra my nie hoekom mens soveel kontant wil aanhou nie. En haar trouring. Glo ’n knoets van ’n diamant gehad.”

      “Daar’s genoeg sekuriteit in en om die huis, maar geen gebreekte ruit of so iets... ”

      “En sy’s blykbaar ook geskiet.” Sy laat val die brok inligting soos ’n rots.

      “Jeez.”

      “Dis wat die naaldekokers gisteraand laat weet het. Maar dis ook al. Die res is useless.”

      “Vingers?”

      Sy skud kop, klap haar tong met ’n sweem van minagting. Daar’s beslis iets aan haar, besef Beeslaar opnuut. Arrogant? Dalk maar die gemaklike manier waarop sy in haar eie vel sit. Nie ’n front nie. Maar ook nie enigiets persoonlik nie – die uitdrukkingsvolle oë en mond ten spyt. Sy’s meester van die klipoog-staar. Kyk al die kak uit jou uit.

      “So, die dogter het die liggaam ontdek?”

      “Was die meisiekind, ja. Was glo eerste tuis. Sy wou voor die TV gaan neerflop. Maar toe tref sy haar ma daar aan, letterlik en figuurlik uitgesprei oor die hele vertrek.”

      “En toe?”

      “Weet nie. Sy sélf kan nie meer onthou nie, sê die pa. Sy’t haarself in haar kamer toegesluit. Dalk het sy gedink die oortreder is nog daar. Dis nou die pa se spekulasie. Hy sê ook die seun het hom gebel en ingelig.”

      “So albei kinders was by die toneel?”

      Sy beaam.“Maar die seun sê hy het net die bloed in die eetkamer gesien – die strepe teen die muur en die spore en so aan. Hy’t besef daar’s fout en uitgehardloop, sy pa gebel.”

      Die kelner kom haal hulle borde en Quebeka bestel nog koffie. Sommer namens hom ook.

      Hy laat haar begaan, sy gedagtes besig met die rooikopvrou, Elmana du Toit, die bloedplas langs die koffietafel wat lyk soos Australië.

      “Wie sou haar liggaam verskuif het? En hoe het al drie van hulle bloed op hulle gekry?”

      Sy reageer nie, staar net stip na hom. Haar gesig is oop, alle sintuie op hóm gefokus. Soos ’n wildsbok wat ’n leeu inskat.

СКАЧАТЬ