Leeus met letsels. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen страница 4

Название: Leeus met letsels

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия:

isbn: 9780798157841

isbn:

СКАЧАТЬ wat op hulle geliefdes wag, toeroperateurs op hulle kliënte, chauffeurdienste op besigheidsmanne.

      Wie gaan vir hom wag?

      “Jou pa sal jou kom haal.” Dis wat sy ma gesê het.

      Buyi weet nie hoe hy lyk nie. Hy het hom nog net een keer op ’n dowwe foto gesien. Die beeld in Buyi se kop is nou selfs dowwer.

      Sy oë dwaal oor al die mense terwyl sy hart onrustig begin klop. Sy mond is droog.

      Wat as sy pa nie gekom het nie? Dis ’n angswekkende gedagte. Dit sal beteken hy is alleen. Meer alleen as ooit tevore in sy lewe.

      Meteens vang ’n bordjie sy oog. Dit het sy naam op. Buyisiwe.

      Die man met die bordjie in sy hand kyk onrustig rond. Hy het ’n netjiese uniform en leerskoene aan. En toe sy oë Buyi s’n ontmoet, glimlag hy. Glimwit tande wys af teen sy vriendelike swart gesig.

      Sy pa het hom kom haal. Die verligting spoel deur Buyi.

      So, dan is dit nou hy. Dit is Themba.

      5

      “SAWUBONA!” roep die man en hou sy hand uit na Buyi. “Ngiyakwemukela!”

      Buyi frons. Hy het geen idee wat die man sê nie. “Sorry?”

      “I said: ‘Hello, and welcome!’”

      Die man lag en ’n glimlag sprei weer oor sy gesig.

      “Uh . . . hi, thanks,” antwoord Buyi versigtig. Sy hart jaag steeds. Om jou pa vir die eerste keer te ontmoet is ’n verskriklike ding. Nie verskriklik lekker nie, verskriklik angswekkend.

      Die man se hand is steeds na Buyi uitgestrek. Buyi vat dit. Die greep is sag. Toe doen die man ’n vreemde ding. Sy greep wissel van ’n normale handdruk na ’n duimgreep, weer sagkens, en terug na ’n normale handdruk.

      “Oh,” sê Buyi, onkant gevang.

      “Sawubona!” sê die man weer.

      Buyi knik skaapagtig. “Jy is Themba? My pa?” Hy weet nie hoekom hy dit vra nie. Die woorde borrel net uit. Natuurlik is dit sy pa.

      “Nee, ek is Lwazi. Ek werk saam met jou pa.”

      Wat? Die onseker gevoel binne Buyi word erger. “Maar waar is my pa dan?”

      “Hy het nog werk gehad om te doen, toe vra hy ek moet jou kom haal.”

      “Maar my ma het gesê Themba gaan . . .”

      “Moenie bekommerd wees nie. Ek sal na jou kyk.” Lwazi glimlag weer en klop Buyi op die skouer.

      Buyi hou niks hiervan nie. Kan hy hierdie ou – Lwazi – ooit vertrou? Hy lyk nogal vriendelik, maar ’n mens weet nooit. Buyi hou nie van vreemdelinge nie. Dis hoe hy grootgemaak is. Om in ’n groot stad soos Londen te bly het die vrees vir vreemdes net aangehelp.

      Buyi kyk rond en probeer sien of die sekuriteitsman van vroeër steeds in die omtrek is. As daar enige probleme is, kan hy hom roep. Maar die beampte is nêrens te sien nie.

      “Kom ek help met jou bagasie,” bied Lwazi aan.

      “Nee!” blaf Buyi en gryp die trollie.

      “Jy is bang,” sê Lwazi.

      “Ek is . . . versigtig.”

      “Dit is altyd ’n goeie ding. Veral in Suid-Afrika . . .”

      “Jy is hier!” hoor Buyi ’n meisiestem uitroep.

      “Buyisiwe!”

      ’n Seun en meisie kom aangehardloop. Hulle is omtrent Buyi se ouderdom. Hulle glimlag en hulle gesigte verhelder asof hulle hom al ’n leeftyd ken. Buyi staan terug toe hulle naderkom.

      “Jammer ons het jou gemis,” sê die seun met die sproetgesig en rooi hare. Buyi is dankbaar hulle praat Engels, anders het hy weer nie ’n woord verstaan nie, soos toe Lwazi hom gegroet het.

      “Simoshile moes badkamer toe gaan en ek moes keer dat sy nie verdwaal nie. Sy het glad nie ’n sin vir rigting nie.”

      Die meisie se oë rek. “André! Sies vir jou!”

      Die seun groet hom met die hand en sit sy arm om Buyi se skouer. Dit voel vreemd. Moet hy net die arm afskud, of sal dit ongeskik wees?

      “My naam is André,” kom dit opgewek.

      Die meisie glimlag. Haar donkerbruin oë is vriendelik toe sy sê: “En ek is Simoshile.” Sy kyk ’n ruk lank na hom sonder om ’n oog te knip, toe kyk sy skamerig af.

      “Buyisiwe,” sê hy, “maar hulle noem my Buyi.”

      “Ek sien jy het vir Lwazi ontmoet,” sê André.

      “Ek dink Buyi het gedink ek is ’n tsotsi!” lag Lwazi.

      Buyi frons vir die vreemde woord tussen die Engels. “ ’n Skelm,” help die vriendelike man hom reg.

      “As daar nou een mens is wie jy altyd en met alles kan vertrou, dan is dit Lwazi,” sê André. “Maar oor Simoshile is ek nie so seker nie.”

      Die meisie se wenkbroue lig gevaarlik. André se oë blink ondeund toe hy byvoeg: “Sy mag dalk net jou hart steel!”

      Simoshile stamp André weg. Hy lag speels en knipoog vir Buyi.

      “Ek gaan jou terugkry!” dreig Simoshile kamtig vies vir André.

      “Genoeg van hierdie speletjies,” sê Lwazi toe hy die trollie vat. Omdat hy nou meer gerus voel, laat Buyi hom begaan. “Ek is seker Buyi is moeg. Ons moet aan die gang kom. Daar lê nog ’n lang pad voor.”

      6

      BUITE DIE LUGHAWEGEBOU kies Lwazi koers na die parkeergarage. Hy betaal by ’n parkeerpunt en lei hulle na die motor.

      Buyi sien hoe Simoshile elke nou en dan vinnig in sy rigting kyk. Is iets verkeerd? Hy kyk af om seker te maak sy gulp is toe. Dit is. Hy skud sy kop. Miskien is dit niks nie.

      André praat aanmekaar. Sy Engels is goed, maar ook hy het ’n vreemde aksent.

      “Ek is Afrikaans,” verduidelik André. “Dit is my huistaal. Maar ek praat ook Engels. En ’n bietjie isiZulu. Net genoeg om my in die moeilikheid te kry,” grinnik hy.

      “Dis nog niks,” sê Simoshile. “Ek praat isiZulu en Engels. En ’n bietjie Afrikaans, isiXhosa en siSwati.” Sy het ook ’n vreemde aksent, maar dit verskil van André s’n.

      “Hoeveel tale het julle dan in Suid-Afrika?” vra Buyi.

      “Elf amptelikes,” sê Simoshile nog voordat André kan antwoord.

      “Wysneus,” is al wat hy kan uitkry.

      Buyi praat СКАЧАТЬ