Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten страница 7

Название: Die afreis van Abel Lotz

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798156417

isbn:

СКАЧАТЬ Ná lang oorweging besluit hy weer op ’n trein. Die Suid-Afrikaanse lughawens is te onveilig, al is die owerhede onbewus, so hoop hy, van sy ander identiteit as Bartholomeu Lomas, Portugese burger.

      Hy redeneer die probleem is nie om uit ’n land uit te gaan nie, maar om ’n ander land binne te gaan.

      Maar die treinrit na Lusaka in Zambië is sonder angstige oomblikke. Daar bespreek hy ’n vlug, weer as Lomas, na Nairobi, Kenia, met ’n transito-aansluiting op ’n vlug van die Tsjeggiese lugdiens ČSA na Praag.

      Op Praag se Ruzynĕ-lughawe bied hy die Belgiese paspoort van dokter Lippens aan wat Jules Daagari se fabricateur vir hom in Bujumbura aangepas het. Daarop pryk Abel se eie gesigfoto nou, soos hy lyk ná die kwak se verbroude “weekend facelift”.

      Hy verwyl die dag in Praag deur die vyftiende-eeuse astronomiese klok op die Ou Stadsplein te gaan besoek, tussen Wenceslas en die ou Charlesbrug oor die Vitava. Hy stel baie belang in hierdie astrolabium waarmee Middeleeuse sterrekundiges die posisie van die maan, planete en selfs die sterre bepaal het. Hy weet dat Ptolemeus veel vroeër ook ’n astrolabium gebruik het vir die astronomiese waarnemings wat hy in sy Tetrabiblos aangeteken het.

      Die aand haal hy van die stasie naby Wenceslas-plein die Kopernikus-nagtrein na Amsterdam. Hy slaap en rus op die rit van veertien uur. Op Amsterdam se stasie stuur hy van ’n internetkafee ’n kort e-pos aan Ignaz Bouts met die aankomstyd van sy trein, uiteindelik, by sy eindbestemming in Brugge. Dit is die einde van sy lang reis, en die begin van sy nuwe lewe.

      6

      Drie uur per dag, dis al private tyd wat Ella haarself gun. Wel, nie eintlik per dág nie, want dis al skemer wanneer sy saans op Alberts Farm gaan draf, en dis nog donker wanneer sy soggens opstaan vir gim saam met Stallie. Maar dis die enigste tyd wat sy vir haar private plesiertjies kan inruim. En die Vader weet, in háár lewe is bitter min plesiertjies, privaat of andersins.

      Soggens teen daglig het sy klaar geoefen en is sy reeds op kantoor, of klop aan huise se deure op soek na leidrade in ’n moordsaak. Saans sesuur ry sy huis toe, trek haar drafskoene aan, die ou Nikes al uitgetrap, die swart spandexbroek en T-hemp. Die son is al onder wanneer sy stort, in ou jeans iets eet en een aand per week ry vir haar harples by Suki Wolski.

      As sy nie die aand les het nie, oefen sy in haar sitkamer op die tweedehandse hefboomharp wat Suki vir haar geleen het. Die ou Troubadour, 36 snare, dikker as ’n folkharp s’n, as sy later wil vorder tot die orkestrale pedaalharp, sê Suki.

      En sy móét elke aand oefen, sê Suki, g’n verskoning nie. Soos Harpo Marx, wat sy harp – darem die kleiner folkharp – selfs badkamer toe gevat het, op die toilet “I Got Rhythm” gespeel het.

      “Was Harpo hardlywig?” het Ella gevra. “Hoe lank kan mens op die toilet sit en harp speel?”

      “Wel, dis hoekom hy so ’n goeie harpspeler was – hy’t elke minuut van sy vrye tyd geoefen. Sy musiek het uit sy hart en siel gekom, nie uit sy vingers nie.”

      “Moenie van my verwag om ‘Bolero’ op die toilet te speel nie,” was Ella se antwoord.

      Sy het die geleende Troubadour in die sitkamer voor die TV staangemaak, die badkamer ieder geval te beknop, wasgoed die hele plek vol. Hoe gróót was Harpo se badkamer?

      ’n Uur vir draf, ’n uur vir gim, ’n uur vir die harp, dis haar vrye tyd. Sy het net agter die Troubadour ingeskuif, die TV op die nuus gestel, haar hande klaar weerskante op die snare, pinkies in die lug, toe haar sel lui. Suki het gesê: “Jy kan maar jou pinkies laat amputeer, jy’t hulle nie nodig vir die harp nie. As jy ’n pinkie op ’n snaar probeer kry, verwring dit jou hele hand. Vergeet van jou pinkies, hou hulle uit die pad uit.”

      Ella wil die luitoon ignoreer, R. Kelly se “I Believe I Can Fly”. Dan sien sy die naam van die beller en raap dit op.

      “Naand, kolonel.”

      Die baas word nie geïgnoreer nie, hy raak kriewelrig as sy oproep ná twee luie nog nie beantwoord is nie, dag of nag.

      “Wat doen jy, is jy besig? Oukei, terwyl jy sit en niksdoen, bel vir sersant Mfundisi, uniformtak in Kensington. Kan iets wees, kan niks wees nie, maar bel hom.”

      “Kensington? Dis buite ons jurisdiksie, kolonel. Is dit nie vir die Oos-Rand se moord-en-roof nie?”

      “Dis nie ’n moord nie.” ’n Kort pouse, net ’n maatslag, dan sê hy, stem soos ’n rasper oor die foon: “Wel, nie ’n mens nie, lyk na ’n kat wat geslag is.”

      “’n Kat!”

      “In ’n hotel.”

      “Wat van die DBV, kolonel? Is katte nie hulle . . . jurisdiksie nie?”

      Sy wonder of dit ’n misdaad is om ’n kat te slag. Wel as die kat mishandel is, maar selfs dan sekerlik nie ’n saak vir moord-en-roof nie.

      “In die bedkas in die hotelkamer is ’n jembottel gekry. Nie jem in die bottel nie, wel formalien met ’n vel . . . onthaar en gelooi. Die forensiese laboratorium het dit geïdentifiseer, laat vanmiddag vir sersant Mfundisi laat weet dis Felis catus.”

      “Die vel van ’n vermiste kat? So, is ’n misdaad gepleeg?”

      “Sersant Mfundisi bel my en sê hy’s bietjie verward, onseker of dit ’n misdaad is om ’n kat af te slag en sy vel te looi. Die toneel in die hotelkamer is steeds afgesper, maar die hotelbaas druk hom. Sê as geen misdaad gepleeg is nie, wil hy sy kamer terughê, hy verloor geld terwyl die polisie sloer.”

      “Hoekom meld die sersant dan nie die vermeende moord op ’n kat by die Oos-Rand aan nie?”

      Die kolonel ignoreer haar vraag.

      “Sersant Mfundisi sê nadat hy vanmiddag die forensiese uitslag gekry het, het hy gaan sit en diep gedink. Hy onthou toe van ’n geval wat óns ondersoek het, noem selfs die ondersoekbeampte se naam, adjudant-offisier Ella Neser, van die reeksmoorde waarby gelooide velle ter sprake was. Sê hy dog hy deel net sy suspisie met my. Bel hom, hier’s sy nommer. Het jy ’n pen daar?”

      “Ek kry een.”

      Sy skryf, groet, sit die foon neer.

      Gelooide velle. Sy voel die pootjies van ’n duisendpoot agter aan haar nekvel, loer na die TV-skerm, sien niks raak nie. Haar palms voel oor die snare, pluk die eerste akkoorde van die Beatles se “Here Comes The Sun”. Sy laat vaar die poging, sit net daar met die harp tussen haar bene, vrywend oor die harde eelte aan die kussings van haar snaarvingers.

      Dan sug sy sag. “Demmit.”

      Sy tel weer die sel op en bel die nommer wat Silas gegee het.

      Die hotelbaas lyk verras toe hy vir haar oopmaak.

      “Jy’s vroeg, adjudant, skaars sewe-uur,” sê Rabie Saadi. “Gewoonlik wag ek ure vir die polisie.”

      “Sersant Mfundisi nog nie hier nie?”

      Sy verwonder haar aan die jong man se pommade, sy swart hare glad en olierig agteroor, glimmend onder die dowwe ligte. Die stank van mout en stof en sweet en ou kos van die vorige nag se brassery hang soos ’n misbank in die verlate kroeg.

      Hy СКАЧАТЬ