Abel se lot. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Abel se lot - Chris Karsten страница 9

Название: Abel se lot

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798155908

isbn:

СКАЧАТЬ Generaal sê hy sal nie toelaat dat misdadigers sy lede, sy familie, doodskiet in die uitvoering van hulle pligte om hulle landgenote te beskerm nie. Hy het ’n groot ruiker van rooi swaard-lelies by haar hospitaalbed laat aflewer. Daarmee saam ’n beterskapkaartjie, in sy eie handskrif gerig aan: Adjudant Anna Nasser.

      Sy wou teruggaan kantoor toe, weer die spoor van die Nagsluiper vat, maar sy is gestuit.

      “Nie ’n goeie plan nie, Ella,” het Silas in haar huis kom sê. “Rus eers, jou emosies en gedagtes is in ’n warboel. Jy’t by die dood omgedraai, laat doktor Landsberg jou help.”

      “Tog nie doktor Mimi Landsberg nie,” het sy gesug.

      Mara Alkaster het saam met Silas gekom, haar hand op Ella s’n gesit en gesê: “Jy’s vir ons soos ’n eie dogter, Ella. Luister na Silas.”

      Silas en sy vrolike weduwee wat nie tot trou kan kom nie.

      Hy het self haar eerste afspraak by doktor Landsberg gemaak, kliniese sielkundige en konsulterende traumaberader vir die polisie. En die span van moord-en-roof het haar drumpel kom snuif trap. Fred Lange bring bier saam, sê dís hoe ou hande trauma verwerk. Jimmy Julies van forensies bring melktert, sê sy vrou bak die beste melktert in die hele sonnestelsel. Tabs Makgaleng van vingerafdrukke bring Midnight Velvet, sê sjokolade paai die emosionele sentrum van die brein. Jong Stallie Stalmeester van die radiokamer bring ’n gerf wit tjienkerientjees en blou vergeet-my-nietjies, soen haar op die wang en sê hy mis haar. Selfs streekkommissaris Pitso daag op, bring ’n bottel badolie uit Pick n Pay en vorms in triplikaat (verpligte siekteverlof) wat sy moet teken vir sy IN-mandjie, die een langs sy UIT-mandjie daar op die hoek van sy staatsdienslessenaar, neffens die staande orders oor kostebesparing.

      Die konsultasiekamer van die traumaberader is huislik ingerig, g’n strak kantoor vir lede wat aan bomskok ly nie, vermoed Ella. Warmte word gesuggereer deur die houtmeubels, die vars snyblomme in groot vase, geraamde foto’s van ’n vrolike gesin, gesinstydskrifte, boeke met boodskappe, sagte kussings oorgetrek met fleurige materiaal, teen die mure landskappe met vloeiende vorms en selfversekerde kwashale, die subtiele aroma van potpourri. Die dekor sorgvuldig versamel en gerangskik om ’n lid met ’n wond aan die gees te sus.

      “Tee?” vra doktor Landsberg.

      “Koffie, swart, sonder suiker,” sê Ella. Soos die patoloog sal die traumaberader nog moet leer van haar koffie.

      “Jy is kwaad. Ek kry ’n gevoel van onderliggende woede …”

      “Natuurlik is ek kwaad, ná alles wat gebeur het. Sou jý nie ook kwaad gewees het nie, doktor?”

      “My gevoelens is nie ter sake nie, Ella.”

      “Maar jou handtekening is. Op ’n amptelike verslag kan jy my afteken. Ek’s gesond, reg om te gaan werk.”

      “Ek’s seker dit sal nie te lank vat nie, net ’n paar sessies. Dis belangrik dat ons by jou gevoelens en emosies uitkom. Hoe voel die wond aan jou maag?”

      Sessies. Gevoelens. Emosies.

      “Wil jy sien?”

      “Dis nie nodig nie.”

      Sy trek haar T-hemp op, rem haar jeans ’n entjie af, ontbloot die pers riwwe, die geskende, verskrompelde vel van haar maag.

      “Ek’s sewe en twintig en sal nooit weer in ’n bikini kan loop nie.”

      “Kosmetiese chirurgie sal help. Dit doen deesdae wondere.”

      “Een skalpel was genoeg.”

      “Jy moet positief wees, Ella. Sien die glas as halfvol. Dis die eerste tree op die pad na herstel: die regte ingesteldheid.”

      “Ek kon dood gewees het. Nog tien minute en ek’s geplant, die laaste taptoe. Is dit positief?”

      “Dis positief dat jy leef.”

      “Ek leef, maar vier ander is dood, en ek kon dit gekeer het.”

      “Selfverwyt is nie goed nie. Ons moet aan jou selfverwyt ook werk. Jy kon dit nie gekeer het nie, dis nie jou skuld nie.”

      “Ek kon die laaste moord verhoed het as ek nie so koppig was nie.”

      “Wil jy daaroor praat, oor die laaste een?”

      “Nee.”

      “Vertel my van die ander?”

      “Nee.”

      Waarom al die draaie? wonder Ella. Waarom nie by die punt uitkom nie, die kern van die probleem?

      “Wil jy oor hóm praat?”

      Abel. Waar ís jy, Abel?

      “Hoekom het hy my nie ook doodgemaak nie? Ek was in sy hande, hulpeloos. Hy kon dit gedoen het, al is hy gesteur. Hy’t tyd gehad voor hy gevlug het.”

      “Hoekom dínk jy het hy jou lewe gespaar?”

      Albei hande om die koppie wat sy na haar mond toe bring. Proe die sigorei van die kitskoffie. Nie ordentlike koffie nie. Sy soek die smaak van koffiebessie, die aroma van sterk Java.

      “Ek wil nie oor hom praat nie.”

      “Ek verstaan, Ella. Jou kop is soos ’n tuimeldroër. Ons sal dit stap vir stap vat. Maar dit moet uit, alles móét uiteindelik uitkom voor die herstelproses kan begin.”

      Herstelproses. Ons moet wérk aan jou selfverwyt. Voor sy afgeteken kan word, voor sy kan teruggaan kantoor toe.

      “Miskien op die volgende sessie.”

      “Trauma,” sê doktor Landsberg, “is ernstige emosionele skok en pyn wat deur ’n uiters ontstellende gebeurtenis veroorsaak word. Egskeiding, werkverlies, dood, misdaad, karongeluk, siekte – enigiets wat ’n mens as negatief beskou en wat jou siening van jouself en jou wêreld verander. Elke mens ervaar so ’n skok ten minste een keer in sy of haar lewe. Jy is nie ’n uitsondering nie. Ek het jou agtergrond gekry, ook oor jou pa.”

      “In die uitvoering van sy pligte geskiet. ’n Polisieman.”

      “En hy lê al jare in ’n koma, sonder hoop. Is dit hoekom jy polisie toe is, oor jou pa?”

      “Ek hanteer my pa se ding.”

      “Ja, maar nou hierdie voorval. Jy’t nooit vroeër berading gehad nie, ná jou pa?”

      “Nee.”

      “Sterk emosies hoop in jou op. Jy voel skuldig, jy voel kwaad, jy’s angstig om die moordenaar aan te keer. Sulke emosies put nie net jou gees uit nie, maar is ook nadelig vir jou liggaamlike gesondheid.”

      “My liggaam? Ek’s nou weer gereeld in die gim, het weer begin oefen, ek draf, ek’s fiks.”

      “Trauma werk só, en laat my toe om dit sommer reg aan die begin te verduidelik: met so ’n erge skok skei jou byniere ’n klomp adrenalien СКАЧАТЬ