Abel se lot. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Abel se lot - Chris Karsten страница 6

Название: Abel se lot

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798155908

isbn:

СКАЧАТЬ – Vlatko hou van dié frase. Hy meen hulle doen hulle bes, oral waar hulle gaan. Eers Kroasië, nou Bosnië. In Bosnië-Herzegowina, is aan hulle gesê, is hulle prooi nie net die verraderlike Kroate nie. Hier soek hulle ook die onsuiwer bloed van die Bosniaks.

      Die politieke nuanses (as daar nuanses is) van etniese suiwering snap Vlatko nie, maar hy reken dis ’n goeie verskoning, want hy weet wel wie die vyand is, en dit is die belangrikste. Die vyand is die Kroate en die Bosniaks. Wie die opdragte gee, en die verskonings uitdink, traak hom nie. Die pret lê in die avontuur, in die vergieting van bloed.

      Hy trek die loop uit die gleuf, versamel die doppies. Staan op en gaan sit by die tafel, die geweer dwars oor die blad. Met lap en geweerolie begin hy sy wapen skoonmaak en poets. Sy skof is verby.

      Nog nie dertig nie, en veglus is al wat Vlatko dryf, al wat hy wil doen. Dis in hulle bloed, in sy en Zoran s’n. Geweld en selfgelding. Eers as kinders in die ellendige agterstrate van Belgrado, toe in sokkerbendes. Beskonke bloed laat vloei met vuiste en klippe en messe en kettings by wedstryde van hulle geliefde Red Star Belgrade FC.

      Sokkergespuis, is hulle uitgekryt. Maar die uitkryters het geswyg toe hulle, die gespuis, die uitverkorenes word. Ja, daardie bekke was stil toe hulle gewerf is vir Arkan se Tiere, toe hulle die uniform van die Srpska Dobrovoljacka Garda aantrek. Hulle held, toonbeeld van ’n suiwer Serwiese bloedlyn. Al is hy vir ander steeds net Željko Ražnatovic, gewone straatboef, kort-kort in die tronk. Maar niemand sê dit openlik nie, nie in Arkan se gesig of in die gesig van sy volgelinge nie. Want die kenteken van die tier en die motto ARKANOVI TIGROVI boesem vrees in.

      Net ná drie hoor Vlatko die gekap van stewelhakke buite op die betonvloer. Zoran stoot die deur oop, kom sit oorkant hom by die tafel. Plak die halfleë bottel brandewyn op die blad neer.

      Vlatko ruik die Slivovitz aan Zoran se asem, die amandelgeur van die damaspruime se pitte. “Jy’s laat.”

      “Hoeveel?”

      Vlatko wys na die doppies. “Dertien.”

      Van die dertien skote het net twee getref, en hy dink nie dit was noodlottig nie. Hy kon een sien wegskuifel agter ’n geparkeerde kar in, die ander hinkende by die deur van ’n kantoorgebou in. Nie ’n goeie dag nie.

      “Hoe laat kom die bibliotekaris?” vra Zoran.

      “Vyfuur, het hulle gesê.”

      Zoran kom orent, moet op die blad druk vir balans. Hy vat die bottel om die nek en stap met sy AK na die muur toe, hurk, druk die loop deur die gleuf.

      “Vyfuur op die brug?”

      Vlatko staan ook op, swaai sy geweer oor sy skouer. “Met ’n wit lap in sy regterhand.”

      Hy hou Zoran dop wat sukkel om sy lê op die vloer te kry. Aan sý binnearm is die woorde BELI ORLOVI; hy het in Vukovar gemeen dit sal geen skade doen om sy lojaliteite te deel met ’n ander paramilitêre bende nie. Trouens, in oorloë, was sy redenasie, is ’n agterdeur áltyd gewens. Is die tweekoppige arend onder ’n kroon dan nie juis die Serwiese nasionale embleem nie? En gaan dit alles, al die etniese bloedvergieting, dan nie juis om ’n suiwer Serwiese toekoms nie?

      Daarom het dieselfde tatoeëerder met die onvaste hand op Zoran se bors die kop van ’n voël met uitgespreide vlerke aangebring, simbool van Mirko Jovic se Wit Arende. Ook hulle motto op sy binnearm. En op die kneukels van elkeen se regterhand, die hand met die snellervinger, is die letters SDG, vir Srpska Dobrovoljacka Garda.

      Zoran druk die kolf teen sy skouer om sy visier in te stel. Die AK is nie so akkuraat as die M76 nie, en die trefafstand korter, maar die Vrbanja-brug is skaars drie honderd meter weg.

      Zoran het nie ’n teleskoop nodig nie, kan ’n teiken op die brug met toe oë tref, dink Vlatko.

      “Wat kom hy doen?” vra Zoran. “Die bibliotekaris.”

      Vlatko haal sy skouers op. “Wil glo met die bevelvoerders by Lukavica gaan praat.”

      Die pad na die Romanija-bevelvoerders is deur die Serwiese linie suid van die rivier, deur die Serwiese woonbuurte. Om die rivier ongedeerd na Serwiese kant oor te steek met enige van die brûe, moet ’n boodskap na die sluipskietneste versprei word dat toestemming verleen is aan ’n burgerlike, in hierdie geval ’n bibliotekaris, om die spitsroede by Vrbanja te loop. Oorkant die brug, aan Serwiese kant, sal hy ingewag en na Lukavica gevat word om sy saak te stel.

      Vlatko sal graag wil hoor wat die bibliotekaris se saak is, wat so belangrik is dat hy bereid is om sy lewe te waag.

      “Fokken spioen vir die Bosniaks, as jy my vra,” sê Zoran.

      “Of ’n verraaier. Dalk bring hy nuus in ruil vir sy gesin se veilige uitvlug uit die stad.” Vlatko kyk hoe Zoran weer uit die bottel sluk.

      Agter in die lorries het hulle ook Slivovitz gedrink, in die konvooi FAP-troepelorries met die Nora-houwitsers agteraan gehaak, van Dubica af om die Sana-vallei te gaan skoonmaak. Hulle, Arkan se Tiere, het besope die Hotel Prijedor beset, en eers die volgende dag kon hulle bevelvoerders die strategie vir die militêre aanslag aan hulle verduidelik. Die plan was eenvoudig en effektief. Die vyand – die heidense Bosniak-Moslems en die Katolieke Kroatiese Ustaše – word eers saggemaak met die grofgeskut, hulle huise en kerke in puin gelê deur die houwitsers, 125 mm-kanonne van die paar rammelende T54-tenks, en die Oganj-vuurpyllanseerders, elk met 32 lanseerbuise van 128 mm-kaliber. Daarna, ná die sagmaak, word pelotons uit die Hotel Prijedor ingestuur om te gaan opruim, weerstand te smoor, versetvegters uit te ruik en aan te keer. Bedags orgies van moord en verkragting, saans sang en drank, bottels vol Slivovitz, borde vol cevapcici met uie en ’n dik sous van soetrissie, brandrissie, eiervrug en knoffel ingemeng in Kajmak-room.

      “Ek kan hom in die bobeen piets,” sê Zoran oor die visier van sy AK. “As verwelkoming op die brug.”

      “Of in die sy,” sê Vlatko, “as jy goed kan korrel.”

      “Of sy arm.”

      “’n Bibliotekaris het sy arm nodig.”

      “Dan die been of sy.”

      “Nie met die AK nie. Vat myne.”

      “Wat’s fout met my AK?”

      “Skiet bont, jy weet mos. Veral met die skut vol brandewyn. Vat die M76 as jy mik vir net ’n vleiswond, nie om dood te skiet nie.”

      “Jy dink met die AK kan ek nie mik vir ’n vleiswond nie?”

      “Ek dink jy kán mik,” sê Vlatko. “Maar ek dink as jy die skoot aftrek, gaan dit nie ’n vleiswond wees nie. Óf mis óf ’n doodskoot. Vat die M76 met die teleskoop.”

      “Fok jou M76,” sê Zoran. “Ek piets hom met die AK. Die kat daar. Sien jy hom? Laat ek my oog inkry.”

      Vlatko hou die kat op die brug dop, snuiwende, asende na kos. Tref Zoran die kat met sy AK, brandewyn en al, sal hy tevrede wees. Dan is daar hoop dat die bibliotekaris net sal bloei van ’n vleiswond wat hom sal verwelkom en herinner aan die dun draad tussen lewe en dood.

      Die skoot klap, die kat spring. Vlatko sien waar die koeël teen die brug kets en ’n skerf beton uitruk. Met vier, vyf hale verdwyn die kat onder die brug in.

      “Fok!” СКАЧАТЬ