Abel se lot. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Abel se lot - Chris Karsten страница 15

Название: Abel se lot

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798155908

isbn:

СКАЧАТЬ nie; hy wil haar gesig oor syne aantrek, haar vel oor syne voel.

      Hy wou vir homself so ’n nuwe gesig present gee op sy vyftigste verjaardag. Maar hy was op vlug en kon sy verjaardag nie vier nie.

      Dokter Lippens neem weer sy plek op die stoel in, skuif effe nader, begin weer met sy vingers tas. Die pasiënt verstyf opnuut, maar laat die chirurg begaan. Dis hoe hy met sy eie vingers graag die vel van die donateurs op sý operasiebed ondersoek het.

      “Die neus is die belangrikste element. ’n Neus is reg in die middel van die gesig, die estetiese fokuspunt. Gee die gesig sterkte, gee karakter. Fisionomie is eeue oud. Selfs die ou Grieke het ’n man beoordeel deur bloot na sy gelaatstrekke te kyk.”

      “Wanneer kan jy begin?”

      “’n Tiende van ’n sekonde. Dis hoe lank dit ons vat om met die eerste aanblik van iemand se gesig ’n besluit oor sy persoonlikheid te neem: hy gee om, hy kan vertrou word, hy’s aggressief, hy’s ’n introvert, hy’s deeglik, hy’s skelm … Het jy dit geweet, meneer Lomas?”

      “Ek wil die foto’s hê wanneer jy klaar is.”

      “As aandenking van jou ou gesig? Ja, ek sal dit vir jou op ’n geheueskyf aflaai. Maar ek hou altyd foto’s van my pasiënte. Vir die rekord. Het jy al gehoor van die halo van aantreklikheid?”

      Die pasiënt skud sy kop, dink aan die foto’s wat op die chirurg se rekenaar gaan agterbly.

      “Die halo van aantreklikheid … mense wat beskou word as aantreklik, kry die meeste Valentynskaartjies, word gesien as sosiaal aanvaarbaar, seksueel aanloklik, intelligent, gelukkig, gesond. Hulle is gewild en word simpatiek behandel – selfs deur die howe.”

      “Hoe lyk ’n gesig wat nié vertrou kan word nie?” wil die pasiënt weet. Hy wantrou die gesig van hierdie dokter.

      “Die hoeke van die mond trek af, die wenkbroue vorm ’n V.”

      “Wat van ’n babagesig?”

      “Iemand met ’n babagesig – en ek sê nie jý het so ’n gesig nie – word beskou as naïef, ’n bietjie van ’n sissie.”

      Die pasiënt het al oor fisionomie nagelees, selfs oor etologie en frenologie, en baie oor lui oë. En veral oor mans wat as ou baby-face bespot en gehoon word. Die chirurg weet nie – of het vergeet, vermoed hy – van oogvlekke aan die vlerke en liggame van sekere skoenlappers, motte en visse wat oë naboots om predatore te verwar en te ontwyk. Dis ook van toepassing op ’n man met ’n babagesig: die eerste indruk, in ’n tiende van ’n sekonde, is dat so iemand naïef en onderdanig is. Maar nes die mot se vals ogie nie ’n regte oog is nie, is die babagesig se eienaar nie ’n baba nie. Dit weet hy uit eie ervaring.

      “Die ken is amper net so belangrik as die neus,” sê die chirurg terwyl hy met ’n skuifpasser die mates van die pasiënt se gesig neem. “Die ken bring balans en harmonie aan die gesig. Aan die ken sal ons beslis iets moet doen. Of in jou geval, gebrek aan ’n ken.”

      “En die ore.” Die pasiënt kyk na die lang, swart hare op die dokter se vingers, ruik die reuk van sy vel.

      “Ja,” sê dokter Lippens, sy opgewonde asem teen die pasiënt se wange. “Die ore moet proporsioneel wees tot die grootte en vorm van die gesig en kop. Ons sal aan die ore werk, hulle terugdruk teen die skedel, miskien ’n bietjie snoei aan die kraakbeen en vel vir ’n gewenste vorm.”

      “Soos joune.”

      “Presies,” sê dokter Lippens. “As ek mag sê, en ek hou daarvan om eerlik te wees met my pasiënte: ás iemand gedink het jy’t ’n babagesig, sal hulle hul woorde moet sluk wanneer ek met jou klaar is.”

      In die spens van die pasiënt se geheue – en hy vergeet nooit gesigte nie – onthou hy nou vir Konrad Lorenz, etoloog en wenner van ’n Nobelprys: iemand met ’n babagesig wek ’n gevoel by mense dat hulle hom wil koester en beskerm. En Leslie Zebrowitz, sielkundige van die Brandeis-universiteit in Waltham, Massachusetts: mans met ’n babagesig stimuleer die amigdala, die emosionele sentrum van die brein, by ander mense. Ook het sy in haar navorsing bevind: mans met babagesigte is, oor die algemeen, beter gekwalifiseerd, beslis oor wat hulle wil hê, en die wenners van meer militêre medaljes as mans wat meer volwasse lyk.

      Maar daar is ’n kinkel, daar is áltyd ’n kinkel: sulke babagesig-mans, het sy bevind, oorkompenseer vir hulle tekortkominge. Hulle is gewoonlik ook meer twissoekerig en vyandig, en meer geneig, soos Al Capone, tot kriminaliteit.

      “Lippens?” vra die pasiënt. “Is dit …?”

      “Belgies. Oorspronklik van Gent. Maar ná Burundi se onafhanklikwording was dit nie die utopie waarop almal hier gehoop het nie. Gesondheidsdienste was maar net een van die dinge wat ineengestort het. Hulle is terug na die ou koloniale meester om kundiges te werf: ingenieurs en onderwysers, verpleegsters en dokters.”

      Ja, ek weet jy’s ’n Belg, dink die pasiënt. Dis waarom ek hier is. Ek het jou uitgesoek vir hierdie prosedure aan my gesig.

      “Is jy steeds ’n Belgiese burger?”

      “Natuurlik. Permanente verblyfreg hier, maar hoekom sal ek my burgerskap en paspoort opsê vir Burundi?”

      Die pasiënt knik net. Stem in tot ’n endoskopiese mini-ritidek-tomie, met rinoplastie, mentoplastie en otoplastie. Die blefaro-plastie los hy, besluit op ’n bril met amber lense.

      Hy lê twee nagte aan ’n drup met glukose in die Prince Louis Rwagasore-kliniek in die Rue Pierre Ngendandumwe. Daar is gaasverband om sy hele kop gedraai, behalwe sy oë en mond. Hy kan sien wanneer die chirurg inkom om sy handewerk te inspekteer, wanneer die verpleegsters die operasiewonde kom ontsmet en nuwe verbande om sy kop draai.

      En hy kan voel. Dit voel asof sy hele gesig in ’n bak met gloeiende kole gedruk is, asof iemand die vel van sy hele gesig met ’n stomp mes gevil het. Pype by sy mond ingedruk, spuitnaalde in sy boud, pille met water by sy lippe, die pyn en koors deur sy hele liggaam.

      Hy sien ’n verpleegster en dokter Lippens in ’n vurige fluister-gesprek. Hy sien nie die einde van die gesprek nie, verval in ’n koorsige koma.

      Toe hy bykom, is die verpleegster alleen langs sy bed, wasig soos ’n skim.

      “Hoe voel jy, meneer Lomas?”

      Ook sy praat Engels met ’n aksent, maar hiermee is die pasiënt vertroud. Dieselfde Kreoolse tongval as dié van Jules Daagari, sy Burundiese vriend en maskersmous.

      “Kan jy my hoor, meneer Lomas?”

      Hy kan hoor, vaag deur die verbande om sy gewonde ore van die otoplastie. Maar kan nie praat nie, sy kakebeen styf van die mentoplastie aan sy ken. In die middel van sy gesig ’n pyn asof ’n bokser sy neus gebreek het, van die rinoplastie.

      “Hier, vat ’n slukkie water. En laat ek vaseline aan die droë lippe sit. Beter? Kan jy my nou hoor?”

      Asof die water en vaseline sy gehoor sal help. Hy knik.

      “Jy’t ons laat skrik, meneer Lomas. Ons dog dis verby met jou. Infeksie – sepsis. Weet nie waar dit vandaan kom nie. Maar dis die risiko. Altyd kieme, al skrop jy hoe goed. Dè, drink nog water.”

СКАЧАТЬ