Название: Die kroon van Keurboslaan #4
Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Жанр: Учебная литература
Серия: Keurboslaan
isbn: 9780798153898
isbn:
Voor almal die eetsaal verlaat, maak Krynauw ’n aankondiging.
“Die hoof het my gevra om dankie te sê vir dié van julle wat gister se operette so ’n sukses gemaak het. Hy weet julle was ongelukkig oor die stuk, maar julle het nogtans ’n sukses daarvan gemaak. Hy waardeer die moeite wat julle gedoen het en die talent wat julle aan die dag gelê het. Julle ander pryse is in die koshuiskantoor. Gaan haal dit daar.”
Hierdie onverdiende dank en die afskeepmanier waarop hulle pryse uitgedeel word, is ’n swaar straf.
Flip se pryse vir geskiedenis en wiskunde en sy oorwinning in die 100 m-hekkies beteken nou vir hom niks nie. Maar toe hy boonop ’n ekstra boek tussen die ander kry en voorin lees dis deur die hoof persoonlik vir “algemene verbetering” geskenk, gaan hy met ’n gebroke hart daar weg.
’n Ruk later bel die hoof vir mevrou Mostert. “Is Krynauw daar iewers?” vra hy.
“Hy’s toevallig hier by my in die kantoor.”
“Kan ek asseblief met hom praat?”
“Kan ek help, doktor?” vra die onderhoofseun.
“Ja. Meneer Burger reis per bus saam met die ander seuns. Jy kan saam met my ry en af en toe bestuur. Ek wil jou leer sodat jy binnekort jou rybewys kan kry.”
“Doktor bedoel … Regtig?”
“Sien jou dan drie-uur.”
“Wat nou?” vra mevrou Mostert toe Krynauw die foon neersit.
“Hy sê ek mag saam met hom ry,” antwoord Krynauw kastig ongeërg.
Maar sy reaksie mislei die koshuismoeder nie, want sy ken hom al jare lank. Sy het snags wakker gelê van bekommernis oor die klein Eugene Krynauw wat ná sy ma se dood hierheen gestuur is. Klein Eugene het aan die begin verseg om enige emosies te wys. Hy wou nooit praat of eens huil nie. Dit het so gebly totdat hy uiteindelik ineengestort het, daar bo teen die berg waar die hoof hom gelukkig raakgeloop het.
Dié dag het die jong doktor Serfontein gewys hoe groot sy hart eintlik is. Hy het die kind vasgehou totdat hy die laaste bietjie hartseer uitgesnik het. Daarna het dit swaar gegaan om Eugene te laat verstaan dat sulke openlike vertroosting nie herhaal kan word nie. Mevrou Mostert het dit en veel meer meegemaak.
Nou sê sy net: “Sorg dat jy mooi netjies lyk.”
3
DIE APLIKANT
Drie-uur is Krynauw met sy tas voor die hoof se hek waar die groot motor gereed staan.
Toe doktor Serfontein uitkom, sien hy ’n opgewonde en tog half onseker gesig. “Bang ek gaan te vinnig ry?” vra hy speels.
“O nee, doktor!”
“Maar wanneer jy bestuur, gaan ons mooi stadig ry.”
“Mag ek nou al?”
“Nee, eers buite die dorp.”
Toe hulle op pad is, sê Krynauw: “Ek het nog nie ordentlik dankie gesê nie … Vir die saamry … en alles.”
Hy sien net ’n wang en ’n wenkbrou wat lig. “Bly om huis toe te gaan?”
“Dit gaan lekker wees om Albert en Bobbie en Dawie te sien. My pa ook, natuurlik. Noudat ek ouer word, gesels ek makliker met hom. Nooit oor diep dinge nie, maar ons kom tog beter oor die weg.”
“Dis mooi.”
“Dinge gaan dié keer anders wees by die huis. Albert is mos verloof.”
“Ja, hy het vir my geskryf … Hy is nog baie jonk.”
Die hoof ken Albert; hy was ook op Keurboslaan.
“Nog nie een en twintig nie. My pa sê hulle is albei mal, maar hy gaan hulle nie keer nie. Hulle kan in elk geval nog lank nie trou nie. Ek dink ook Albert is van sy kop af.”
“Daar is ’n paar dinge wat jy nog nie verstaan nie.”
“Wel, ek dink trou is tydmors!”
“Ons stem nie heeltemal saam oor daardie onderwerp nie. Ons het mos onlangs ook daaroor vasgesit.”
Die feit dat hulle soos twee mans saamry en gesels, gee Krynauw moed. “Doktor probeer my net terg,” sê hy. “Doktor dink tog ook nie trou is ’n goeie idee nie.”
“Nee, nie op die oomblik nie!”
Ná ’n uur laat die hoof Krynauw bestuur.
Halfnege kom hulle ná ’n gesellige rit in Johannesburg aan.
“Ek het jou pa van die skool af gebel. Hy verwag jou eers later,” sê die hoof. “Kom eet eers iets saam met my.”
“O, dankie!”
By die hotel word die motor in ’n deurwag se sorg gelaat en hulle stap by die voorportaal in. Hier wag ’n portier die hoof in.
Van die mense herken hom en verkyk hulle aan die lang, statige man wat so bekend is, maar wat niemand ooit werklik leer ken nie.
“Welkom by ons, doktor Serfontein,” sê die portier. “Iemand wag al meer as ’n uur bo in u sitkamer, maar voor u opgaan, het die bestuurder gevra u moet asseblief na sy kantoor toe kom.”
“Wie is dit wat wag?”
“Ek het die persoon nie gesien nie. Ek kom nou eers aan diens. Maar Ontvangs het seker gedink dis in orde om die besoeker in u eie suite te laat wag.”
Die hoof frons ontevrede. “Waarmee kan ek die bestuurder help?”
“Daar was ’n oorsese oproep. Hy het ’n boodskap wat hy persoonlik vir u moet gee.”
Die hoof maak sy bekende ongeduldige handbeweging. “Gaan solank boontoe,” sê hy vir Krynauw. “Jy ken mos die nommer.”
Vir die portier sê hy: “Stuur asseblief vir my iemand met ’n spyskaart na die bestuurder se kantoor toe.”
Krynauw stap tot by die hyser. Gelukkig is daar niemand anders in nie, so hy kan eers tot op die boonste verdieping ry, en dan af na die hoof se vloer.
Omdat hy gehoor het iemand wag in die suite, klop Krynauw eers voor hy ingaan.
’n Vrou staan voor ’n venster en kyk af na die straat.
Krynauw maak die deur toe en sy draai om.
Dis nie een van die hoof se twee susters nie. Hy ken hulle albei van sien.
Sy maak dadelik ’n buitengewone indruk op hom. Dis nie die onmiddellike bewondering wat ’n seun soms voel vir ’n vrou wat effens ouer as hy is nie. Dis eerder asof hy haar reeds СКАЧАТЬ