Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux страница 2

Название: Christine le Roux Omnibus 2

Автор: Christine le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780798153317

isbn:

СКАЧАТЬ sê sy en verskuif van posisie. “En ek is nie ’n ballerina nie, ingeval u gewonder het. Almal dink altyd ek is een, maar dis verkeerd. Ek het wel ballet geneem toe ek klein was, maar ek het nie regtig die temperament nie; of die dissipline nie, veronderstel ek. Daardie ure se staan op jou tone en draai nou jou voet soontoe en vou jou handjies net só en –”

      “Juffrou Joubert,” sê hy gebiedend.

      “Jammer.” Sy glimlag stralend. Sy dra min grimering, behalwe miskien iets om die groot blou oë met hulle lang, donker wimpers. Haar naels is kort geknip en ongeverf. “Vertel my van die kinders. Ek lei af hulle het nie ’n ma nie.”

      “Dis korrek.” Sy mond is styf. “My vrou is kort na Nicky se geboorte oorlede.”

      Sy bestudeer sy gesig. Hy lyk vir haar na ’n baie streng man. Sy hare is bruin met ’n effense golwing in en dik oor sy voorkop, alhoewel daar al spikkels grys is tussen die bruin. Sy sal nie daarvan hou om in die beskuldigdebank te staan as hy so na haar kyk nie. Hy sal haar so bang maak dat sy alles sal erken.

      “Nicky was dus ’n moederlose kind van sy geboorte af,” sê sy.

      “Ja.” Hy vou sy hande op die blad; hierdie onderhoud verloop glad nie soos hy dit beplan het nie. “Dit was baie onverwags. My vrou het skielik teen die einde van die swangerskap komplikasies gekry. Hoë bloeddruk en …” Hy maak ’n gebaar. “Sy is dood aan ’n trombose, twee dae na sy geboorte.” Hoekom hy dit vir haar vertel, weet hy nie, hy het dit nie vir die ander applikante gesê nie.

      Olivia se gesig is vol simpatie. “En wie op aarde het na die pasgebore baba gekyk?”

      “My suster.”

      Hy voel sterker as vantevore dat hierdie onderhoud verkeerd verloop. Die ander vroue het nie hulle monde oopgemaak behalwe om hulle kwalifikasies af te rammel nie, en hier sit hy nou al twintig minute lank oorkant hierdie meisie en sy vra al die vrae. “Ek kon dit nie langer van haar verwag nie,” antwoord hy tog. “Sy was ongetroud toe Nicky gebore is, maar sy het ’n man ontmoet, ’n boer en … dit sou bitter onregverdig wees om te verwag sy moet by my kom bly net om na die kinders te kyk.”

      “Dit moes moeilik gewees het vir haar,” mymer Olivia. “Om Nicky net so af te gee.”

      “Dit was, ja. Sy wou hom saam met haar neem en Jaco, haar man, was meer as gewillig, maar …” Hy druk sy lippe opmekaar, vasbeslote om die trant van die gesprek nou met mening te verander.

      “Nee,” sê sy beslis, onbewus van sy besluit. “Dit sou ook nie gewerk het nie. Sy moet haar huwelikslewe op haar eie begin en buitendien sou dit onregverdig wees teenoor Emma.”

      “E … ja,” sê hy oorbluf.

      “Sy is seker baie lief vir haar boetie,” gaan sy voort. “Om hom weg te vat en haar te los, sou wreed wees. Of wou jou suster albei vat?”

      “E … nee.” Hy skud sy kop, haal diep asem en kyk haar doelgerig aan. “Juffrou Joubert, kan ons nou oor u praat? Ek wil graag ’n paar vrae vra, as u nie omgee nie. Ek het nou al twee bloutjies geloop en kan nie bekostig om verder so aan te gaan nie. Kan u vir my sê –”

      “Bloutjies?” val sy hom belangstellend in die rede. “Watse soort bloutjies?”

      “Vorige applikante. Die een het so reg gelyk tot dit blyk dat sy my drankkabinet meer geniet as die kinders, en die ander een wou weer liewer Franse kos maak as kinders oppas.”

      “Ek kan nie kook nie,” sê sy dadelik.

      “Dis ook nie nodig nie. Ek het ’n dierbare huishulp wat al jare by my werk – van voor Emma se geboorte af – en sy doen al die huiswerk. Ek het haar amper verloor toe ek die Franse kok daar gehad het, want Katie is eenvoudig uit die kombuis geboender elke keer wat …” Hy bly stil. Hier antwoord hy al weer die vrae!

      “Ek kan ’n eier kook of bak of roer,” sê sy. “En tee of koffie maak, maar moenie my vra om iets deftigs te maak nie.”

      “Dis glad nie ’n vereiste nie,” neem hy weer beheer oor. “Soos ek pas gesê het.”

      “Wat wel ’n vereiste is, is dat die kinders nou vastigheid kry,” sê sy beslis. “Dis regtig ’n baie slegte toedrag van sake. Om mee te begin, moes Nicky …” Sy kyk op na hom. “Hy is seker na u vernoem? Nicky is seker net die verkleining van Nicolas.” Sy gee ’n laggie. “Mens kan kwalik ’n pasgebore baba Nicolas noem.” Sy rol die naam oor haar tong, laat dit swaar en vernaam klink.

      “Ja,” sê hy desperaat. “Hy is na my vernoem en ek na my oupa. Dis ’n familienaam. Kan ons nou voortgaan?”

      “Ja,” sê sy en hy is seker sy skiet ’n ondeunde blik in sy rigting. “Waar was ek nou weer? Dis reg, by die behoefte aan vastigheid, kontinuïteit. Dit moet baie sleg wees vir die kinders om elke paar dae of weke of maande iemand anders te kry. En elke keer daardie persoon te verloor nes hulle aan haar gewoond geraak het.”

      “Presies.” Hy leun vooroor oor die lessenaar en dwing die blou oë om na hom te kyk. “Dis waarom ek gedink het ’n middeljarige dame, miskien ’n weduwee, sal die geskikste wees. U is ongetroud en net vier en twintig jaar oud. Die kanse dat –”

      “Middeljarig is nie goed nie,” val sy hom in die rede. “Ons praat van twee klein kinders hier. Kinders wat wil speel en stout wees en dinge doen. Om net dopgehou te word, is nie goed genoeg nie. Hulle moet vermaak word.”

      “’n Middeljarige dame sal ten minste baie jare kan bly. Die kanse dat sy sommer iemand gaan ontmoet en besluit om te trou en ’n gesin van haar eie te begin, is skraal, terwyl ’n jong, ongetroude meisie heel waarskynlik iemand gaan ontmoet en besluit om te trou.”

      “O nee,” sê sy ernstig. “Dis presies wat ons nie wil hê nie. Dis dan wat ek nou net gesê het: ’n verdere ontwrigting vir die kinders, ’n volgende trauma. Hulle moet opnuut aanvaar dat die mens hulle verlaat het.”

      Hy is so oorbluf dat hy seker is sy mond hang oop en hy is bly toe sy sekretaresse inkom om koffie te bedien. Sy kyk hom vraend aan, maar is te goed geleer om hom te herinner aan pligte wat wag.

      “O, lekker,” sê Olivia en vat die koppie by hom aan. “Ek was al so dors, want daar was regtig nie vanoggend tyd om eers vir my koffie te maak nie.”

      Nicolas vang sy sekretaresse se geamuseerde oog. “Sê vir meneer Walters ek bel hom vanmiddag,” sê hy onderlangs en wag tot sy verdwyn het en die deur geruisloos toegeklik het. “Juffrou Joubert,” sê hy streng. “Wat u sopas gesê het …”

      “Wat – oor die lekker koffie?”

      “Nee! U het genoem dat ’n jong, ongetroude meisie nie ’n goeie idee sal wees nie omdat sy enige tyd weer kan loop.”

      “Ja,” bevestig sy, haar oë groot oor die rand van die koppie. “Wat daarvan?”

      “U is ’n jong, ongetroude meisie. U is dus nie geskik nie.”

      “O nee, ek het dit nie gesê nie. Ek het maar in die algemeen gepraat. Ander jong meisies. Ek wil nie trou voor ek ten minste dertig is nie en teen daardie tyd is die kinders groot en het hulle nie langer ’n oppasser nodig nie.” Sy skud haar kop. “O nee. Ek wil nog baie dinge doen, glo my. Ek is nie van plan om my te bind aan een man en sy ou sakies СКАЧАТЬ