Talia vat grond. Melissa Scharneck
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Talia vat grond - Melissa Scharneck страница 5

Название: Talia vat grond

Автор: Melissa Scharneck

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780795800290

isbn:

СКАЧАТЬ kon sien.

      Dit sou haar grensloos irriteer as sy kon sien wat nou in my lewe aangaan – die groot gemors. Die waansinnige manier waarop ek net meer en meer goed uitkrap en rondgooi en geen plan het om te begin skoonmaak nie. Sy sal nie verstaan dat mens weet waarmee jy bly sit as die gemors eers skoongemaak is nie. Ek wil nie weet wat oorbly nie, so die gemors is welkom.

      Daardie weergawe van my het haar eie storms gehad, maar hulle was anders. Hulle het haar skoongewas, het weggebreek wat onnodig was. As sy geweet het die storms wat kom, sal alles verpletter, sou sy dalk anders gewees het – meer versigtig.

      “Jy gaan die afkondigings mis, mevrou Prinsloo!” roep Andries Gouws uit een van sy klasvensters. Sy klas is op die tweede verdieping, aan die grens van die grasvierkant.

      “Jy sal my sekerlik in kennis stel as iets spesifiek op my van toepassing is, meneer Gouws?”

      Ek glimlag toe ek opkyk, raak omtrent oombliklik verblind. Andries het ’n geel hemp aan met groen strepe en ’n blou das met rooi kolle.

      “Ek’s ’n kak PA!” skree hy terug.

      Amper dertig matrieks se koppe ruk op. Onderwysers by Hoërskool Vuurkloof vloek nie. Hulle ken eintlik geen vloekwoorde nie. Hulle weet nie van seks of dwelms of drank nie. Hulle ken geen droom of teleurstelling nie, hulle is maar net daar – soos skoolbanke, stof en klokke wat lui.

      “Wat? Ek het gesê ‘swak’. Nare kinders,” sê hy streng vir hulle.

      Maar ek sien die effense blos wat oor sy gesig trek voor hy wegdraai van die venster af.

      Onder die mans by Hoërskool Vuurkloof is Andries Gouws sonder twyfel my gunsteling. Hy het ’n vreemde sin vir humor en hy kry dit altyd reg om my te laat lag. Hy is een van die min mense in die personeelkamer wat nie snaaks na my kyk nie. As hy na my kyk, kyk hy lank en aandagtig, asof ek sy aandag van die hele wêreld aftrek. Dan bloos ek, dan lag hy, dan lag ek.

      Die huistoegaanklok lui. Dis ’n geskarrel soos die kinders hulle goed wegpak en uit die klas verdwyn.

      Almal behalwe Celia le Roux, die meisiekind wat my so na aan die hart lê. Wie se stiefpa Vrydagmiddag doodgery is. Deur die vreemde vrou in die vreemde kar.

      “Wat’s fout, Celia?” vra ek terwyl ek my eie boeke in my sak sit.

      Alles is seker fout, maar ek vra tog. Ek vermoed die ou dronk bliksem het hulle met ’n klomp ekstra skuld gelos. Die ma ken ek nie, maar ek het al gehoor sy suip net so. Celia is gelukkig die enigste kind.

      “Niks, juffrou. Ek sit so ’n bietjie vas met die opstel wat ons Vrydag gekry het. Ek’t gewonder of ek dalk vanmiddag ’n draai kan maak?”

      Ek kyk op na haar. Sy het mooi geword. In my eerste jaar by Hoërskool Vuurkloof was sy in graad agt. Sy was toe al lank, maar mens kon sien daar is nie sorg by die huis nie. Die hare was vol koeke en haar skoolrok was nooit skoon of gestryk nie.

      Intussen het sy nog langer geword, geleer hoe om haar blonde krulhare in toom te hou en self haar skoolrok te was en stryk. Waar sy nou voor my staan, is sy skoon en netjies.

      Ek tel my swaar sak op en sit die band oor my skouer. “Kom so drieuur. Jy kan my dan vertel wat fout is.”

      Ek weet sy kry nooit minder as ’n A vir haar opstelle nie en ek glo nie vir ’n oomblik dis dit wat haar pla nie. Ek betuig nie simpatie met haar stiefpa se dood nie. Celia hou nie daarvan as mense haar jammer kry nie.

      Ek gaan haar mis as sy die skool verlaat. Sy het nog nooit iets gesê oor haar toekomsplanne nie. Ek brand om te weet wat sy wil doen, maar ek vra nie. Daar is seker nie geld vir veel nie.

      Net voor drie hoor ek die tuinhekkie oopgaan. Dis altyd die stilste tyd van die middag in die Prinsloo-huis. Louisa en Rudi trek hulle so halfdrie voor die TV neer, en vandag het albei genadiglik in die sitkamer aan die slaap geraak. Wat ook al ek en Celia gaan bespreek, kan gedoen word sonder twee kinders wat ons afluister.

      Die stiptelike klop aan die voordeur is nie so ritmies as wat dit gewoonlik is nie.

      “Kom in. Ek is in die kombuis!” skree ek terwyl ek die laaste bietjie skottelgoed wegpak en twee glase uithaal vir koeldrank.

      Ek hoor die stadige voetstappe in die gang. Toe ek omdraai, staan Celia in die kombuisdeur. Sy is doodsbleek. Dit lyk asof sy gaan opgooi.

      “Jy lyk nie lekker nie. Is jy siek?” vra ek en stoot ’n glas rooi aanmaakkoeldrank na haar kant van die tafel.

      Sy kom sit, maar kyk my nie in die oë nie. “Nee. Ek weet nie hoekom ek gevra het om te kom nie. Ek sukkel nie regtig met die opstel nie, ek het gelieg. Toe voel ek te sleg om nié te kom nie.”

      Almal doen maar iets as hulle senuweeagtig is, hakkel of peuter met knope of vryf hulle oë. Ek kom agter dat Celia snuif. Sy snuif-snuif heeltyd en blaas haar neus met ’n verbleikte geel sakdoek versier met blommetjies wat eenmaal wit was.

      “Dit gaan seker dol by die huis?” vra ek, skielik self onrustig. Dit voel asof benoudheid uit haar straal en deur elke vierkante sentimeter van my kombuis trek.

      “Dit gaan altyd dol by die huis, erger as ’n malhuis.” Sy vat ’n sluk koeldrank, blaas dan weer haar neus.

      Ek het al lang stories oor haar ouerhuis gehoor. Dinge waaroor ek nog nooit uitgevra het nie. Celia het glo in die laerskool ’n paar keer flou geword van honger. Ek weet nie of dit waar is nie, maar as sy na my toe kom, sorg ek altyd vir iets te ete. Ek haal die laaste paar winkelkoekies uit die pakkie, sit die bord tussen ons neer.

      “Mis jy vir oom Piet?” vra ek, sonder om te weet of sy hom ooit oom genoem het. Ek hou nie daarvan om haar onder kruisverhoor te sit nie, maar ek kan sien sy gaan nie self praat nie, al wil sy. Te trots om ’n slegte dag in die openbaar te hê.

      Sy lag, maar dis ’n bitter roggel. Vir die eerste keer vandat sy by die kombuis ingestap het, kyk sy op na my. ’n Gal-kyk wat nie pas by haar mooi oë nie.

      “As hy maar vroeër gevrek het, was ek nie vandag hier nie.”

      Haar woorde skok my nie. Piet Buys was ’n vuilgat. Hy het met Celia se ma getrou toe die kind nege was. Baie Vuurklowers sê hy was sedertdien nie vir ’n dag nugter nie.

      Daar was ook gerugte dat hy sy vrou en kind slaan, maar ek het nooit kans gesien om Celia daaroor te vra nie. Dalk omdat ek self so ’n goeie pak slae kon vat. As ek haar ooit gevra het, wat sou ek aan die saak kon doen? Ek wat myself nie eers van James kon red nie.

      Sou ek dit oor my hart kon kry dat Celia in ’n kinderhuis opeindig omdat ek by die welsyn gaan kla het? Sou ek self met Piet Buys gaan praat het? Sou ek hom dalk self omgery het?

      Ek vat ’n sluk van my rooi koeldrank en wag.

      My eie man sou my slaan en slaan tot ek nie kon opstaan vir ’n paar uur nie. Dan sou hy om verskoning kom vra. Aanvanklik was dit heel indrukwekkend, maar na ’n paar jaar het hy net gesê: “Jy weet ek bedoel dit nie.”

      Selfs dít het mettertyd opgehou. Teen die einde van ons huwelik het hy nooit meer om verskoning gevra nie. Ek dink hy het dit geniet om my te slaan, hy het dit vir die lekker gedoen. Hy het niks nodig gehad om hom kwaad te maak nie.

      Aan die begin het ek hom altyd geglo СКАЧАТЬ