Kinders wat moor. André le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kinders wat moor - André le Roux страница 8

Название: Kinders wat moor

Автор: André le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Биографии и Мемуары

Серия:

isbn: 9780624089438

isbn:

СКАЧАТЬ was daarop uit om die bestaande orde, die beskawing soos ons dit geken het, en Christelike waardes omver te werp. Hy’t oral geskuil. Tienerswangerskappe en dwelms was sy skuld. Ook heavy metal-popmusiek en die Voëlvry-rockbeweging, wat op universiteitskampusse verbied is, was duidelike bewys van Satan se musieksmaak.

      Dalk die mees bisarre van Satanisme, sê die sielkundige Scott Lilienfeld en kollegas, is dat heavy metal-groepe Satanistiese boodskappe in hul opnames ingeglip het. Jy hoor dit as jy die plaat agteruitspeel, en die boodskappe moedig die jeug aan om selfmoord te pleeg.

      Sogenaamde backmasking. Dit het reeds in 1969 begin met die Beatles se liedjies “Rain” en “Revolution 9”.

      Wag, dis heeltemal moontlik om boodskappe te hoor waar daar nie is nie. Die verskynsel het ’n geleerde naam: pareidolie, wat Wikipedia definieer as “’n sielkundige fenomeen waarin die brein op ’n stimulus reageer, gewoonlik ’n beeld of klank, deur ’n bekende patroon waar te neem waar daar nie een is nie”.

      Op dieselfde manier sien ons gesigte in wolke, rotse of op Mars. En dis presies waar die man in die maan vandaan kom.

      Dis deel van ’n ander mite genaamd subliminale boodskappe, wat onbewustelik gehoor word.

      Waarvan niks sin gemaak het nie. Waarom sal kunstenaars die mense wat hul musiek koop, aanmoedig om selfmoord te pleeg? Christenjeuggroepe in Amerika het inderdaad plate verbrand uit protes.

      Satan was in die mistieke, in enigiets Oosters. Oosterse ornamente, selfs Persiese tapyte. Om nie te praat van Boeddhisme en Hindoeïsme nie. Afgodery.

      “Raak ontslae van Persiese tapyte en Boeddha-beeldjies,” het John Gardiner, voormalige tydskrifredakteur, en sy vrou, Helen, geskryf. “Dit nooi net Satan by jou huis in.” Aangehaal deur die Johannesburgse mediakenner Nicky Falkof. Die Gardiners het ook vertel van “Sarah” wat ’n aborsie ondergaan het en toe die fetus moes eet.

      Satanisme het geen perke geken nie.

      En joga. Satan wag net totdat jy joga doen of mediteer, en sodra jy mooi stil word, gryp hy jou siel.

      “Is karate en joga van die duiwel?” het Huisgenoot plegtig gevra in die uitgawe van 10 Julie 1986. En ’n professor van Stellenbosch (F.J.M. Potgieter) het in Die Kerkbode koeng foe bygevoeg. As jy koeng foe beoefen, stel jy jouself oop vir Satan.

      Falkof haal ’n Satanjagter aan wat verdere gevare uitgewys het: Die Sterre Voorspel, toordokters, kettingbriewe, hipnose, kleurterapie, homeopatie, refleksologie, akupunktuur, dagga, alkohol, LSD, slaappille. Flieks soos The Exorcist, Rosemary’s Baby en The Omen, vanselfsprekend verbied deur die sensuurraad. Boeke soos Richard Bach se Jonathan Livingston Seagull, oor ’n seemeeu wat teen konvensies in wou vlieg, en Anton LaVey, stigter van die Kerk van Satan, se standaardwerk The Satanic Bible wat in 1969 in Amerika verskyn het.

      Byna vanselfsprekend was pornografie en homoseksualiteit, spesifiek “lesbiërs”, ook op die gevaarlysie. Nes masturbasie, buitehuwelikse seks, seksuele fantasieë, maar ook “negatiewe emosies”.

      Alles met die komplimente van Satan.

      Die destydse Transvaalse Onderwysdepartement het ondersoek ingestel en ook ’n paar waarskuwingstekens bygevoeg: “Ekstreme rebelsheid, ’n geneigdheid om swart te dra, ’n belangstelling in seks en dwelms, en ’n smaak vir heavy metal-musiek.”

      Dus: doodgewone, normale adolessente.

      Die destydse minister van gesondheid, dr. Rina Venter, het dié tekens beaam en ’n “aversie teenoor Christenskap” bygelas. Die polisie se eie webwerf het 41 tekens uitgewys, waaronder “genderverwarring”, fantasiespeletjies, Gotiese modes en ’n belangstelling in rekenaars(!).

      Ja, hy onthou Satanisme, het ’n jong man aan Falkof gesê, sy beste vriendin op skool was ’n Satanis. Of sy’t probeer om een te wees.

      “Mense het na ons skool gekom en praatjies gelewer oor Satanisme. Sy het dan geluister na wat Sataniste doen en dan’t sy dieselfde gaan doen. Nou nie die moord en seks nie, maar die ander dinge. Sy’t haar arms gesny en met haar bloed goeters op mure geskryf. Al die Sataniste in ons skool het hard probeer om mense te laat glo hulle is bad.”

      Die Sataniste in die skool was ’n grap, maar daar was ’n negatiewe nadraai vir sommige kinders. Hulle is gestigmatiseer en uitgeskuif.

      “Julle speel met vuur, met die duiwel self. Satanisme is ’n misdaad teen die mensdom!” het die destydse minister van wet en orde, Adriaan Vlok, onomwonde verklaar.

      Satan was deel van die kommunistiese aanslag, die Antichris.

      Die SAUK is daarvan beskuldig dat hy Satanisme bevorder met Ghostbusters, Superman en Teenage Mutant Ninja Turtles. Dié beskuldiging het van ’n swart studenteorganisasie in Soweto gekom.

      Satan het die townships bereik.

      Die wit Satan-paniek, skryf Falkof, het min of meer op dieselfde tyd gekom toe daar ’n toename in moetiemoorde en heksery in die townships was.

      Bloemfontein het die eer gekry as die Satanistiese hoofstad van die land. Oos-Londen, Durban, Johannesburg en die Oos-Rand het ook nie agtergebly nie.

      Maar die polisie was reg vir Satan.

      Een van die bekendste Satanjagters was Kobus Jonker, bekend as Donker Jonker of God se Speurder, ’n polisieman en wedergeborene aan die hoof van die polisie se okkulteverwante misdaadeenheid, die sogenaamde “cult cops”. Dié eenheid is in 1992 gestig om misdrywe van Satanistiese rituele te ondersoek, die wêreld se “enigste rituelemoord-taakmag”.

      Kol. Jonker het in etlike hofsake as ekspertgetuie vir regters verduidelik hoe Satanisme nou eintlik werk. In die saak teen Angelique Orsö en Lawrence van Blerk, wat haar ma met ’n braaipan doodgeslaan het, het regter D.M. Williamson inderdaad – verstommend – “aanvaar dat mense deur duiwels besete kan wees”, maar hy was nie oortuig dat dit hier die geval was nie.

      Die geloof in Satanisme was sterk genoeg dat selfs die regbank die moontlikheid erken het, sê Falkof.

      Jonker het daarop aanspraak gemaak dat hy 19 moorde, 6 verkragtings en 4 roofsake in die 5 jaar voor 1994 positief met Satanisme verbind het. Hy het glo 500 sake ondersoek en 114 mense gearresteer. Sonder om te sê hoeveel hiervan in die hof beland het of op watter aanklagte.

      Hy het wel gesê 45 Sataniste is die afgelope 3 jaar skuldig bevind op klagte wat wissel van sodomie tot verkragting. Hy het ook Satanistiese selle in ryk buurte in Bloemfontein en Pretoria oopgevlek, laasgenoemde die kinders van hoë staatsamptenare en predikante. In Bloemfontein het hy ’n kers ontdek wat van mensvet gemaak is, maar hy’t erken hy’t nie die liggaam gekry nie.

      “Ek glo die duiwel bestaan,” het hy in die polisietydskrif Servamus geskryf, “want ek het dinge sien gebeur. Ek het ’n vrou gesien wat reg in my teenwoordigheid aangeval is deur ’n demoniese wese.”

      Snye het skielik op haar arm uitgeslaan en ook die duiwelse getal 666.

      Dit was nie ’n geïsoleerde geval nie. Hy’t dit herhaaldelik gesien. Daar was ook die 11-jarige meisie in KwaZulu-Natal, het hy in 2010 aan die aanlyn tydskrif Vice vertel. Terwyl ’n pastoor vir die meisie gebid het, het verskillende stemme by haar keel uitgekom en bloed het by haar borste uitgespuit. ’n Rukkie later het ’n string miere skielik by haar tepels uitgeloop.

      “Miere?”

СКАЧАТЬ