Kinders wat moor. André le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kinders wat moor - André le Roux страница 7

Название: Kinders wat moor

Автор: André le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Биографии и Мемуары

Серия:

isbn: 9780624089438

isbn:

СКАЧАТЬ het ’n bandopname van haarself op haar selfoon gemaak terwyl sy Michael se gesig afgesny het. Volgens die forensiese sielkundige en kriminoloog prof. Dap Louw, destyds hoof van die Universiteit van die Vrystaat se sielkundedepartement, is moorde waar die slagoffer se vel afgesny word skaars.

      Geld wat hulle by Michael gevat het, is in hul woonstel gekry. Maartens het aan die speurders verduidelik hulle wou grawe koop “vir volgende keer”.

      “Dis nie maklik om ’n gat te grawe met ’n soplepel nie, jy weet?”

      Chané het as kind “vreemd” opgetree en het met seks en dwelms geëksperimenteer. Sy was ’n eenkantkind wat al hoe meer afgesonderd en verwerp gevoel het. Op 15 het sy ’n seksuele verhouding met ’n 22-jarige selferkende Satanis aangeknoop, wat haar van haar familie vervreem het.

      Haar blonde hare het sy swart gekleur.

      Chané se ouerhuis was nie stabiel nie. Haar ma het onbepland swanger geraak en met Chané se geboorte wou sy nie haar jongste kind vashou nie. Haar ma se tweede man, ’n majoor in die weermag, het haar en haar ma aangerand. Haar verhouding met haar biologiese pa was wel goed, skryf Van der Merwe.

      Hoewel Chané en Maartens albei uit disfunksionele gesinne gekom het, het Louw bevind hul familieagtergrond het nie enige relevante effek gehad op hoekom hulle die moord gepleeg het nie.

      Haar “oorgelowige” oupa het haar as demonies besete beskryf en het haar voor in die kerk laat staan sodat gemeentelede vir haar kon bid terwyl hy die duiwels uit haar dryf.

      Sy was in daardie stadium net 8.

      Chané het haar poppe met skoenveters vasgebind en geblinddoek omdat haar ma vir haar gesê het die poppe word snags wakker. Die poppe in die nag het haar vreesbevange gemaak.

      Ná die moord het haar pa haar gevra: “Hoekom het jy dit gedoen? Hoekom het jy dit gedoen?”

      “Dit was iets wat ek wou doen sedert ek 3 jaar oud was,” het Van der Merwe haar aangehaal. “Ek wou dit doen, ek het dit gedoen, en ek sal dit weer doen.”

      Later, uit die tronk, sou sy Michael se ma se vraag “hoekom?” beantwoord met: “Ek was dood van binne.”

      Die eerste nag in haar tronksel het sy ’n blikbeker met haar kaal hande stukkend geskeur en haar bene gesny. Die snyery het al vroeër begin. Sy het ook vir Maartens gesny tydens seks, wat hy “knife play” genoem het.

      Louw het Chané in die hof as die “tipiese meisie van langsaan” beskryf, baie aangenaam en eerlik, maar hy kon nie met sekerheid vasstel of sy ’n psigopaat is nie. Sy het wel psigopatiese eienskappe getoon. Die psigiater Merryll Vorster het wel bevind sy’s ’n psigopaat.

      Ook Maartens het psigopatiese eienskappe gehad.

      Hulle het mekaar op ’n sosiale kletsgroep raakgeloop en het mekaar die eerste keer in die Welkom-begraafplaas ontmoet … net twee dae voor die moord. In die hof het Maartens gesê hulle was nie ’n goeie invloed op mekaar nie en hulle sou nie op hul eie die moord gepleeg het nie.

      Ná net vier dae in die hof is Chané tot gevaarlike misdadiger verklaar, wat ’n onbepaalde tronkvonnis beteken en dat sy ná 20 jaar, in November 2031, weer in die hof moet verskyn vir evaluasie.

      Sy was nou 21.

      Maartens is lewenslank tronk toe gestuur.

      Hy was nou 26 en sal in 2037 kan aansoek doen om parool.

      Uit selfs net ’n paar gevallestudies soos hierbo, en soos sal blyk uit ander gevalle, is die gemene delers gou duidelik: Onbetrokke ouers, swak of onstabiele huislike omstandighede, disfunksionele gesinne, kinderverwaarlosing en mishandeling, kleindiefstal, verkeerde maats (portuurdruk), geestesprobleme soos skisofrenie en psigopatie, jaloesie, alkohol- en dwelmmisbruik, seksuele molestering en geweld.

      Tot Satanisme en die okkulte.

      2. Die Satanskind

      Dit was ’n dwase, bisarre tyd.

      Satan was op huisbesoek in Suid-Afrika.

      Êrens, iewers in ’n ondergrondse kamer, staan versluierde figure in dowwe lig rondom ’n altaar. Die lig kom van flikkerende swart kerse, party gemaak van mensvet. Daar is pentagramme teen die mure, swart kruise en ander duiwelse simbole. Op die altaar lê ’n jong meisie in ’n wit gewaad. Sy is deur al die mans in die kamer verkrag. Gesiene mans soos politici en sakemanne met geheime Satanistiese lewens. Hoëpriesters en Prinse van die Duisternis.

      Nou offer hulle die meisie op met ’n mes deur haar keel.

      Net verlede week, elders in die stad of op die platteland, is ’n baba opgeoffer. Dit gebeur tot twee keer per week. Babas word “geteel” vir Satan en swanger tieners word aangemoedig om hul babas by geboorte aan Satan af te staan.

      Êrens, iewers.

      Jongmense, die Goths en “Alternatiewes”, in opstand teen gesag en konvensies van hul ouers en die Kerk, het swart klere gedra, hul naels swart geverf, swart kerse aangesteek en glasie-glasie gespeel. Dan noem hulle hulself Sataniste en verkoop hul siel aan die duiwel.

      Duiwelaanbidders. Grafskenders.

      Dit was die middel 1980’s en die ’90’s. Mense was op hol. Suid-Afrika was in die duisternis van Satan-paniek, ook genoem morele paniek.

      Die Griekse god Pan het vir ons meer nagelaat as net die panfluit. Ook die woord “paniek”. Hy was glo so lelik met sy baard, stert en bokpote dat sy ma by sy geboorte Paniekerig van hom weggehardloop het. En wanneer hy in sy middagslapie in die woud gesteur is, het hy met ’n skielike harde geskree mens en dier vreesbevange laat spaander.

      Die “satanic panic” het rondom die 1980’s in Amerika begin met aansprake van wydverspreide sogenaamde “satanic ritual abuse” (SRA). Party mense is onskuldig tronk toe gestuur. Dit het ’n hoogtepunt bereik in die vroeë 1990’s en toe begin taan namate Amerikaanse sielkundiges, navorsers en die polisie die hele ding begin bevraagteken het.

      Maar in Suid-Afrika was die paniek nog in volle swang. Dit was ’n epidemie wat gou die openbare verbeelding aangegryp het. Satanistiese simbole het hul verskyning gemaak op kinders se skooltasse, potloodboksies en aantekeningboeke. Die kinders is daarteen gewaarsku. Tydskrifte, koerante en Die Kerkbode het daarteen geskryf. Predikante het daarteen gepreek. Politici het daarvan kennis geneem in die parlement.

      Satanisme is werklik en dis hiér. Wee jou die Broederskap van die Ram met sy gewaande 200 000 lede, wat destyds ’n volle 10% van die wit Suid-Afrikaanse bevolking sou wees.

      Oral in evangeliese kerke is duiwels uitgedryf, soms met noodlottige gevolge. Dis deel van sogenaamde verlossingsbediening (“deliverance ministry”) sodat jy gereinig kan word van die duiwelse geeste, want dis waar al jou probleme vandaan kom.

      Al hoe meer kinders het begin getuig hoe hulle van Satanisme verlos is toe hulle tot bekering gekom het. Daardie gedurige stryd tussen goed en boos. Dit was ’n spirituele probleem, nie sielkundig nie.

      Sulke Sataniste wat “reggekom” het (“recovered”), was nooit self by rituele betrokke nie, maar hulle kon presies vertel wat daar gebeur het. Of hulle was self die slagoffers met ’n fantastiese storie om te vertel. Daar СКАЧАТЬ