Название: Selma en Louise
Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780798176576
isbn:
“Kom, Selma!” gil Louise, uitasem van die hardloop. “My pa is hier om jou te help.”
Selma kom orent en loer met skrefiesoë oor die rand van die afgrond. ’n Miniatuur-Tiny Vermaak wuif vir haar. “Kom af, ounooi,” nooi hy met sy basstem.
“Nee!” skree Selma. “Ek gaan hier bly tot ek ’n geraamte is.” Sy gaan grawe haarself weer onder die graan in.
“Jou ma en ouma het aangekom!” skree Louise. “Kom af, Selma!”
Twee kardeure slaan hard toe. “Wat maak my dogter op julle plaas?” hoor sy haar ma se vibratostem. “En wat soek sy daar bo in die hoë silo?!”
“Selmaa!” sing haar ma vir die silo. “Kom af, my kind. Ons was bitter, bitter bekommerd oor jou.”
“Selmaaaa!” sing haar ouma ’n oktaaf hoër. “Klim af, meidjie, dan vat ons jou huis toe.” Haar ouma se vals tande klink of hulle uit haar mond wil val.
“Nee! Ek bly net hier tot ek doodgaan.” Sy loer oor die rand na die groepie wat onder vergader het. Johanna en van die ander werkers staan op ’n afstand en toekyk.
Selma kyk na die groepie mensies ver onder haar. Dit lyk of hulle met mekaar praat, maar sy kan nie hoor wat hulle sê nie. Dan sien sy hoe Louise vir haar waai. Sy waai terug.
“Kan ek jou kom afdra, ounooi?” roep Tiny. “Voor dit te donker word.”
“Ek dink ek sal eerder self probeer afklim, as oom net tot bo kan kom en agter my sal staan.”
“Natuurlik, ounooi.” Hy klim vinnig teen die leertjie op.
“Een tree op ’n slag, Selmatjie. Net een tree op ’n slag,” sê hy toe hy by haar kom. “Moenie afkyk nie. Jy sal nie val nie. Ek is reg agter jou om jou te keer as jou voet gly.”
“Dankie, oom,” sê Selma. Sy begin die lang aftog met Tiny Vermaak as beskermengel agter haar rug.
“Baie, baie dankie, Tiny,” sê haar ma toe sy weer veilig terug is op moederaarde. “Jy was ’n regte held.”
“Net ’n plesier, Lucille.”
“Dankie, Tiny,” sê haar ouma en druk sy hand.
“Plesier, mevrou.”
“Noem my asseblief tannie Ralie.”
“Dit was ’n voorreg, tannie Ralie.” Hy flits weer die perdegebit. “As julle my sal verskoon, ek wil gou by Elsa gaan inloer. Kom, pop.” Hy sit sy arm om Louise en stap terug plaashuis toe.
“’n Mens kan jou so misgis met mense,” sê haar ma die aand terwyl sy die tafel dek. “Werklik ’n gawe man, dié Tiny Vermaak. En die arme, arme siek vrou van hom met die kanker. G’n wonder Louise is opstandig nie. Ons moet haar eerder met Christelike liefde ondersteun as om haar te verwerp.”
“Ek dink ek gaan vir haar ’n skootkombersie hekel,” sê haar ouma en soek na ’n nuwe bol wol in haar mandjie. “En dalk ’n paar houertjies kwepers inlê. Ek is seker sy het nie krag om self so iets te doen nie.”
“Hoor by Louise of hulle genoeg geld het om al die mediese onkostes te dek, sonder om haar natuurlik direk te vra,” sê haar pa terwyl hy sy bril skoonmaak.
“Okay, ek sal uitvind,” sê Selma.
“Is hier tandestokkies, vrou?”
Haar ma skuif die houertjie met tandestokkies nader. Haar pa neem een. “Ek het vandag ses-en-dertig tande gestop en veertien verstandtande uitgetrek. ’n Mens moet werklik jou tande goed oppas,” sê hy en sit weer sy bril op.
APRIL 1976: MOORREESBURG
“So hoe gaan dit met jou ma?” vra Selma terwyl hulle oudergewoonte hulle skoolkos onder die peperboom eet.
“Maar soos altyd,” sê Louise. “Op Valiums.”
“Help dit vir die pyn?”
“Watter pyn?”
“Is die kanker nie seer nie?”
Louise loer rond. “Kan jy ’n geheim hou?”
Selma knik.
“Belowe jy om niemand te vertel nie? Nie een enkele mens nie?” Sy gooi haar rooi vlegsels terug oor haar skouers en kyk stip na Selma.
“Kyk in my oë.”
Selma kyk diep in Louise se groen oë.
“My pa het gelieg. My ma het nie kanker nie,” fluister sy. Sy krap met ’n stokkie in die sand voor haar.
“Hoekom lieg hy daaroor?” vra Selma geskok.
“Ek weet nie heeltemal nie. Hy het al ’n paar keer daaroor gelieg. Ook toe ons nog op Piketberg en Wellington gebly het. Ek hoop nie ons trek weer nie. Dis lekker op my ouma se plaas.”
“Ek hoop ook nie so nie,” sê Selma. Sy tel ook ’n stokkie op en trek ’n paar strepe in die sand. “Kom ons speel noughts and crosses.”
Louise trek ’n kruisie in die een blokkie. “Wil jy nog ’n geheim weet?”
Selma teken ’n nul in die blokkie langsaan en knik.
“My pa het ’n wit fluffy hond doodgery op Piketberg. Hy het nie gestop nie, net weggery. Ek het omgekyk. Die hond het in ’n plas bloed gelê en tjank. Ek het my pa gesoebat om die hond na die hondedokter toe te neem, maar hy het net vinniger gery. By die kafee het hy vir my chocolates gekoop en gesê ek moet my bek hou, anders sal hy my ook doodry. Ek was vyf.” Louise teken ’n kruisie. “Okay, jou beurt.”
“Sjoe,” sê Selma en trek ’n nul in die sand. “Dis ’n vreeslike geheim.”
“Hy is ’n psigopaat, sê my ma. Hy kan dit nie help nie. Psigopate het nie ’n gewete nie.”
Selma staar verskrik na Louise.
“My pa is eintlik baie nice en charming. Jy moet hom net nie cross nie, dan is als fine.” Louise trek nog ’n kruisie en trek dan ’n streep deur haar drie kruisies. “Ek het gewen.”
Selma knik en sit haar stokkie neer. Sy weet nie of sy nog steeds so lus is om op die plaas te gaan speel nie. Netnou wil oom Tiny haar ook op ’n dag doodry.
“Sal jy steeds kom kuier noudat jy weet?” vra Louise. Sy haal drie toffies uit haar kosblik: aarbei-, sjokolade- en liquorice-geur, en gee dit vir Selma.
Selma kry geen woorde uit nie. Die grondboontjiebottertoebroodjie wurg haar asof dit oom Tiny se hand is.
“Niemand mag meer by my kom speel nie,” sê Louise feitelik. Sy gooi die res van haar vetkoek in die drom.
“Ek СКАЧАТЬ