Название: Ena Murray Keur 17
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624084938
isbn:
“Natuurlik, kind. Dalk is dit die beste as ek haar maar ’n rukkie by my laat kuier. Dink jy jou pa sal omgee?”
’n Bitterheid wat nie by so ’n jong mens pas nie, skemer deur in die antwoord: “Nee, tannie. My pa sal nie omgee nie.”
Die uiteinde van die saak is dat Rina Pohl met twee tasse langs haar in die gang staan, gereed om te vertrek. Ma en dogter se oë ontmoet. “Waar is Johan?”
“In die motorhuis.”
“Dan … gaan ek maar. Maryke, ek móét weggaan … net vir ’n rukkie. Ek moet al die dinge verwerk.”
Die jong meisie knik net. Woorde is oorbodig.
Vir die eerste keer vandat die skokgolf die Pohls getref het, versag Rina se oë effens. Haar stem is pleitend: “Moenie my kwalik neem dat ek weggaan nie, maar hier sal ek mal word! Ek moet eers ’n bietjie alleen wees.”
“Ek verstaan, Ma.” Sy tel die een tas op en begin aanstap voordeur toe.
Rina kom in die deur van die motorhuis tot stilstand. “Johan, ek gaan by tannie Carla-hulle kuier. Net vir ’n paar dae. Tot siens, my seun.”
“Tot siens, Ma.”
“Vat asseblief die tas by tannie Carla.”
“Ja, Ma.”
Die tasse word in die kattebak gelaai en die twee vroue klim in. Daar word nie ’n verdere woord gepraat nie. Die motor trek weg. Broer en suster staan stilswyend en toekyk.
Toe hulle eindelik omdraai, vra Maryke sonder enige gevoel in haar stem: “Hoe ver is jy met die motorhuis?”
“Amper klaar.”
“Ek maak gou vir ons tee. Ek moet net eers vir Delia bel.”
Maryke gaan die huis binne, huiwer ’n oomblik by die telefoon, en skakel dan die nommer. “Delia, ek wil jou net die telefoonnommer gee waar jy Ma die volgende paar dae in die hande kan kry. Sy kuier by tannie Carla-hulle.” Toe sy die gehoorbuis op die mikkie plaas, druk sy haar voorkop teen die koel muur.
Dit is die begin van die einde …
Toe die vreemde, stil Daniël Pohl dié middag sy huis binnestap en hoor dat sy vrou weg is, verraai sy oë en uitdrukkinglose gesig niks.
“Gaan Pa haar nie huis toe bring nie?”
“Nee.”
Dit voel vir Maryke asof sy al hoe dieper in ’n bodemlose put sak. “Sy sal terugkom as Pa haar gaan haal.”
“Dink jy so?”
“Pa, daar is nie nou meer plek vir valse trots nie.”
Vir die eerste keer die afgelope dae glimlag Daniël Pohl, maar dis ’n glimlag wat soos ’n mes deur sy dogter se hart sny.
“My kind, jou pa het nie eens dít meer oor nie.”
“Moenie so praat nie! Julle twee sal my gek maak! Dis ook Pa se skuld dat Ma weg is. Dis nie net sy wat koppig is nie. Pa wil ook nie verstaan nie!”
Sy dogter se uitbarsting ruk hom. Maryke is nie iemand wat sommer haar selfbeheersing verloor nie. Die vertrekte gesiggie vertel hom dat sy dogter dit ook nie maklik het nie. Hulle is almal besig om te knak – tot sy kinders ook. Hy voel nie lus om met haar te redekawel nie. As hulle hom net alleen wil laat …
“Wat wil ek nie verstaan nie, Maryke?”
“Dat Ma ook maar net ’n mens is en dat haar gevoelens en optrede menslik is. Sy kry ook swaar, Pa. Sy is lief vir Pa! En as Pa haar liefhet, sal Pa haar gaan haal!”
“Wat sal dit help om haar te gaan haal, Maryke? Wat sal ons daardeur wen?”
“Julle sal mekáár hê!”
“Die band tussen ons is lankal geskeur, my kind.”
Sy word nog bleker as wat sy reeds is. “Wat bedoel Pa?”
“Is dit nie vir jou vreemd dat jou ma van die eerste oomblik af geglo het ek is die skuldige nie?” Toe Maryke hom net geskok aankyk, vervolg hy: “Normaalweg sal ’n vrou nie maklik so iets van haar man glo nie – veral nie as hulle so lank getroud is en sy nog nie een enkele keer rede gehad het om te dink haar man loop rond nie.”
Maryke moet instemmend knik. “Ja, dis waar, maar … dis ’n uitsonderlike geval. Pa moet dit tog self besef.”
“Dit maak geen verskil nie, Maryke.”
“Ek weet, Pa, maar hoekom het sy dit dan so maklik geglo? Het julle enige probleme gehad?”
“Nee. Nie werklike groot struikelblokke nie. Die afgelope tyd was alles net dood tussen ons. Ons huwelik het eintlik al die afgelope twee jaar of meer tot ’n gewoonte afgestomp. Ook ons lewe buite die huwelik het ’n leë dop geword. Jou ma se ewige brugpartytjies … Dis daar, Maryke, by haar ander ledige vriendinne, waar die ryk teelaarde geskep is vir die wantroue wat sy nou in my het. Haar vriendinne se mans loop almal rond, of is al een of meer keer met ’n geheime verhouding betrap. Hoekom sal haar man dan anders wees? Selfs voordat hierdie ding gebeur het, voordat sy nog die vaagste benul van so iets kon hê, het sy my beskuldig dat daar ’n ander vrou in my lewe is.”
“Maar julle het mekaar tog nog lief!”
“Ek weet nie.”
“Pa!”
“Maryke, jy sal dit nie verstaan nie. Jy is twintig en jy is verlief op Jan Reynders. Jy glo die gevoel wat jy nou in jou hart ervaar, sal ewig duur. Dit sal niks baat om vir jou te sê dit kán sterf.”
“Liefde sterf nooit nie!”
Weer moet Daniël Pohl glimlag. Die jeug het sulke sterk oortuigings oor dinge waarvan hulle geen ervaring het nie! “Daardie stelling leef net in stories, my kind. Liefde kan wel sterf. Ek gee jou vandag my woord daarvoor, en onthou dit wanneer jy en jou Jan eendag getroud is. Liefde wat nie gevoed word nie, sterf.”
“Wil Pa nou vir my sê Pa het Ma nie meer lief nie … wil haar nie meer terughê nie?”
“Ek gaan baie eerlik met jou wees, my kind. Ek weet nie of ek haar wil terughê nie. Ek weet eerlik nie.” Hy staan op. “Het Delia nog nie weer gebel nie?”
“Nee, Pa.”
“Ek het dit eintlik verwag. Die Schellinks sal so ver as moontlik van ons af wil wegbly. En Delia is nou ’n Schellink. Ek het my oudste dogter verloor.”
Hul oë ontmoet en Maryke sê skor: “Ons gesin is besig om uitmekaar te spat … op te breek.”
“Ja.” Hy streel oor haar hare. СКАЧАТЬ