Название: 40 dae tot hoop
Автор: Ronell Bezuidenhout
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796320438
isbn:
Nee, ek het nie beheer oor jou keuses nie. Ek kan jou nie eens probeer dwing om te probeer nie. Ek het wel beheer oor wat ék kies. Daarom weet ek dat ek kan verander. As ek wil.
Grondige verandering is niks minder nie as hervorming. Hiermee is die Bybel goed bekend. Die woord “vorm” kom op baie plekke in die Bybel voor, en dan nie net as ’n werkwoord nie, maar ook as ’n selfstandige naamwoord. “Laat julle gevorm word totdat die vorm van Jesus in julle vorm aanneem” (vgl Gal 4:19, hier vry vertaal).
Straks sou Paulus hier ook kon sê: “Julle is bedoel om in die ‘gietsel’ (’n spesifieke soort vorm) gevorm te word, wat soos Jesus s’n lyk.”
Dit is hoe die beeld van God lyk. Gelyksoortigheid is tog dít: dat die vorm van die een en die vorm van die ander een dieselfde is.
Dan is daar dié wonderlike woorde in Romeine 12:1-2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Volgens Paulus is daar ’n verskeidenheid moontlike vorms waaraan jy gelyksoortig kan wees. Daar is byvoorbeeld een wat hy “die sondige wêreld” noem.
Maar, sê hy, laat God julle ont-vorm (dalk ver-vorm?). In ieder geval: Laat God toe om ’n gans ander vorm te voorskyn te laat kom.
Ek lees onlangs dat ’n metamorfose (dit is die woord wat Paulus gebruik) beteken om oor ’n bepaalde tydperk deur verskillende fases te gaan sodat jy uiteindelik van ’n onderontwikkelde vorm tot ’n volwasse vorm verander word. Dit is goed as die wurm “die wurm” bly – maar dit is ’n vroeë fase, ’n onderontwikkelde vorm.
Omdat die wurm die potensiaal het om ’n skoenlapper te word, is dit juis waarheen die wurm op pad is. Ons ken die beginsel: Die ruspe moet deur ’n proses van verandering gaan om ’n skoenlapper te kan word. Net deur verandering verander dit wat verander moet word.
As ’n mens dan nie jou eie vorming kan raaksien nie, hoe gaan jy ooit weet of jy groei? Daarom bly dit die een vraag wat ons altyd self moet antwoord: Wat gebeur met my van die een seisoen tot die volgende een?
Oftewel: Hoe meet ek persoonlike groei?
Wil jy regtig weet? Is daar in jou daardie diep sug na die antwoord? Stel jy regtig belang? Hoe belangrik is dit vir jou om dit te weet?
En terloops: Is dit nie presies waaroor die nadenke op Aswoensdag gegaan het nie? Hierdie vraag: Here, laat ek tog weet wat daardie een ding is! Laat my verstaan hoe die vorm lyk wat U vir Jesus gebruik het. Laat ek dan my vorm daaraan toets!
’n Bybelstudie-vriendin vertel my hoe sy haar twee kinders wou leer van die “Jesus-vorm” waarin hulle gevorm is. Terwyl sy besig was om sjokolade te smelt om lekkergoed te maak, vertel sy hulle – met die sjokolade-vormpies in haar hand – dat hierdie proses net so werk soos dié een waarmee sy besig is. Sy sê: “Net so maak Jesus met ons. Hy vorm ons sodat ons soos Hy kan optree.”
Daardie aand bid haar seuntjie só: “Jesus, smelt asseblief my sjokolade sodat ek net soos U kan proe.”
Gebed: Here, hervorm my tot my ware self!
Geloofsgewoonte 2: Skakel oor na ’n laer rat
Dit vra ’n ander leefritme as jy jouself dieper wil leer ken. Ook as jy jou “gietsel” eerlik wil bedink.
Dit vra ’n vorentoe kyk én ’n agtertoe kyk. Maar geen mens wat na alle kante op ’n slag kyk, sal dit regkry nie. Jy kán dit nie haastig doen nie – jy sal jouself, al kop-omdraaiend, pootjie!
Nee, dit vra ’n stadiger leefritme. As jy wil tyd maak om nadenkend te leef, sal jy stadiger moet leef. Dit vra stil word om die Gees se fluistering te hoor, sodat jy jou alte gereelde miskyk in raaksien kan verander.
Ons almal het blinde kolle. En soms kies ons vir ’n siende- blind-leefstyl. Deur terug te kyk, ondersoek jy jou toewyding: Het ek God lief met alles in my, en my naaste soos myself? Deur vorentoe te kyk, herinner die Gees jou aan die metamorfose-proses.
Wanneer jy vorentoe kyk, weet jy hoe jy wil wees; deur agtertoe te kyk, weet jy waar jy vandaan kom.
Geen mens wat met eerlike selfondersoek besig is, beland nié ook by ontnugtering oor jouself nie. Jy is nie wie jy voorgee jy is nie. Jy is anders as wat jy wil hê ander moet dink jy is.
Ja, jy is dankbaar oor die vordering op hierdie reis, maar terselfdertyd huil jy oor jou gebrokenheid. “Selfondersoek” en “jammer!” is twee goeie karperde. “Jammer!” en “vry word” ook.
En vir die eerste keer besef ek deesdae dat selfondersoek en “bid-vir-ander” ook by mekaar hoort. As ek myself regtig begin raaksien – deurdat ek na myself deur God se oë kyk – verander die manier waarop ek na ander mense kyk.
Selfondersoek en deernis hoort dus ook saam. Treur ek oor myself, word my hartseer ook ’n hartseer oor ander se huiwering om te wees wat hulle bedoel is om te wees.
•Waar in jou week sal jy ’n ekstra tydjie kan inruim om, sonder om gejaagd te wees, oor jou lewe na te dink?
Dag 3
Verspeelde kanse
We don’t have enough time to waste time on nothingness.
We need to repent our dillydallying on the road to God.
We need to regret the time we’ve spent playing with
dangerous distractions
and empty diversions along the way.
Ash Wednesday confronts us with what we have become
and prods us to do better.
Joan Chittister
Net vanoggend kry ek dié skokkende nuus: ’n Jong, 30-jarige vrou het ná ’n operasie nie wakker geword nie.
Die digter skryf: “Vandag hier, môre nie meer nie.”
En ek kan nie anders as om my eie lewe te bedink nie. “Vandag hier …” – en ek weet daar gaan ’n dag kom wat ander van my ook sal sê – “ … môre nie meer nie.”
My ganse lewe verloop tussen vandag en môre. Dit is die einste lewe wat ek so maklik ondeurdag deurbring. Die lewe waartydens ek my met beuselagtighede vermaak.
Hoeveel onnodige seerkry veroorsaak ek nie deur ’n onnadenkende lewensingesteldheid nie! Méér: Hoe onnadenkend gaan ek nie met ander mense om nie. Hoe maklik kyk ek mis waar ek kon raaksien, stap ek verby waar ek kon stilstaan.
Joan Chittister se “dillydallying” jaag my na die woordeboek. Ek ken nie die woord nie, ek blaai rond vir sinonieme, en vind dit: huiwerigheid, onsekerheid, in twee geskeur, besluiteloosheid.
Het die skrywer van Psalm 103 dit dan ook geken? Want dit is tog hoe die lewe werk: СКАЧАТЬ