Название: Oase
Автор: Stefani Serfontein
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318497
isbn:
’n Argument ontstaan en hulle beduie met swaaiende arms en heftige woorde – weer in die Arabiese taal. Die lang man storm terug en die twee begin stamp aan mekaar. Sarah kyk net af in die strooi en hou asem op. Sy bid woordeloos om beskerming van Bo.
Toe storm beide mans uit en slaan die deur toe. ’n Sleutel knars in die slot. Sarah asem stadig uit. Genadige Vader, dankie tog!
Dit is aanvanklik pikdonker in die kamer nadat die deur toegeklap is. Toe haar oë aan die skemerte gewoond is, sien Sarah ’n dun sonstraaltjie aan die kant van een van die vensters wat ’n dowwe lig die vertrek inbring. Sy skuif ongemaklik tot teen die muur en konsentreer om haar bewende ledemate tot bedaring te bring.
Wat, o Vader in die hemel, gaan met my gebeur? roep haar binneste steeds uit.
Sarah sit-lê skeef teen die muur. Dit is koud in die plek en die strooi word naderhand ook maar hard. Haar brein wil nie afskakel nie. Sy draai die onlangse gebeure om en om in haar kop. Haar arms pyn van die ongemaklike posisie agter haar rug en soms laat die strooi haar neus en oë jeuk sonder dat sy dit kan krap. Genadige trane spoel die gejeuk weg en sy probeer weer aan goeie en mooi dinge dink.
Veel later sak sy in ’n uitputtende slaap weg. Sy dryf weg in die vergetelheid en droom van Ari’el en ’n warm sonskyndag in ’n soms ondraaglike woestynhitte. Sien weer die kleurryke binnekant van die sjeik se tent wat maande lank haar tuiste was. Sy voel hoe die heerlike laaste sonstrale van die woestynaand haar bene warm bak.
Toe sy wakker word en dit yskoud is, probeer sy haar weer verplaas na verlede jaar se gebeure. Sy raak verlore in die wonder van daardie tyd, iewers in Saoedi-Arabië in 2010.
Sy sit en en bak in die laaste sonstrale wat by die weggebinde tentklap inkom. Dit is Vrydagaand, Erev Shabbat. Dieper in die tent staan ’n metaalwynkelk vol geurige Rosé-wyn op die lae tafeltjie. Langs die wyn is ’n groot bord, gelaai met die heerlikste heuning-en-neut-pasteitjies, druiwe, dadels en gedroogde vye. Op ’n ander bord is ’n platbrood, skywe kaas, olywe en humus. Sy kyk op na dokter Ari’el wat haar aan die hand optrek en haar ondersteun terwyl sy tot by die rusbank hinkepink. Hy sleep ’n dik kussing nader om by die lae tafel te kom sit. Eers maak hy die klap voor die tentopening toe en haak dit sekuur vas. Die sonlig wat by die ingang van die tent ingekom het, word uitgesluit. Binne-in bly die tent egter gesellig, knus.
Ari’el bring ’n paar klei olielampe nader en plaas dit voor Sarah op die lae tafel. Toe sak hy met ’n tevrede sug op die dik kussing neer. Hulle glimlag vir mekaar. Daar is ’n gemaklikheid en vredevolle rustigheid tussen hulle.
“Sal jy die lampies vir ons aansteek Sarah?”
Sy knik en trek die ryk geborduurde doek wat oor haar skouers hang, oor haar hare. Toe tel sy die vuurhoutjiehouer wat hy ook voor haar neergesit het op. Dit is in ’n silwerblikkie waarop die woorde “Shabbat Shalom” ook in Hebreeuse sierskrif letters uitgebeeld is.
Sy steek die twee klein lampies voor haar aan en bid saggies die eeue oue gebed waarmee die Shabbat verwelkom word. “Baruch atah Adonai, Eloheinu Melech ha’Olam asher kidde-shanu bid verecha v’natan lanu et Y’shua Mashichaynu v’tze-vanu le-hi-yot Or la-Olam.” Geseënd is U, Here onse God, Koning van die Heelal, wat ons deur u Woord geheilig het, en ons Y’shua ons Messias gegee het, en aan ons die opdrag gegee het om ’n lig in die wêreld te wees.
Sarah is intens bewus van die gewyde atmosfeer rondom hulle. Gister het Ari’el haar vir die eerste keer laat opstaan. Dit was laat namiddag, omtrent dieselfde tyd as nou. Hy het haar arm liggies ondersteun toe sy van die skielike regop wees wou omkantel. Iets soos ’n elektriese skok het deur haar hele lyf getrek by sy vingerpunte se aanraking. Sy het haar gestaal om geen emosie te wys nie. Dié dokter het haar tog terug na die lewe gedokter en al honderde kere aan haar geraak. Wat sou met haar aangaan?
Hy het haar na buite begelei en hulle het stadig om die tent wat nou al vir sewe weke haar tuiste was, gestap. Die ander tente wat in klompies ’n ent weg van haar tent gestaan het, was verlate en sy het gewonder waarom al die mense in die kamp net stemme is wat sy hoor, maar nooit sien nie. Die enigste persoon wat sy in die afgelope weke daagliks gesien het, was die dokter. Hy was soms net een of twee keer per dag by haar, maar sy het die gevoel gekry dat hy die dae wat hy om haar lewe geveg het baie meer ure van die dae en die nagte by haar was.
Ari’el maak sy oë toe en dank hul Vader vir die oorvloed van wyn. Dan neem hy een van die plat brode en dank Hom vir die voedsel en die brood wat uit die aarde vir hul voorsien is. Hy seën ook vir Sarah met die eeue oue seën wat aan die begin van Shabbat oor die vrou in die huis uitgespreek word.
Toe neem Ari’el die Skrif wat langs hom op ’n tafeltjie lê en lees vir hulle Psalm 92, die Shabbatpsalm. Die vrede van die rusdag vul haar hele wese. Sarah is ver van haar mense. Sy is deur ’n erge beproewing en pyn maar sy is vreemd gelukkig.
Diep ingedagte sit sy en kyk na die kos en begin nie nadat die brood en wyn geseën is dadelik eet nie. Sy dink aan die afgelope weke. Ari’el neem haar hand en vra of daar fout is. Sy antwoord hom nie, want sy aanraking skok haar weer eens.
Toe sy besef dat daar geen verpleegsters was terwyl hy haar versorg het nie, vlam haar gesig by die kerslig. Sy het drie weke, daar gelê met net die dokter wat haar versorg het. Die dag toe sy haar bewussyn herwin het, was sy in ’n sagte, waatlemoenkleurige pajamapakkie van sy geklee. Dit het nie aan haar behoort nie en sy besef nou eers dat hy die een was wat haar gewas en verklee het.
Sarah probeer die verleentheid afskud en glimlag net in sy oë. Sy neem ’n stukkie van die brood, strooi ’n paar korrels sout oor en druk dit in die humus.
Sedert sy bygekom het, het Ari’el gereeld saam met haar sy etes kom nuttig. Dit was van die begin af gesellige ure. Sy voel so veilig by hom. En soos wat sy al hoe sterker geword het en die pype en bottels langs haar bed nie meer nodig was nie, het sy saam met hom kon eet en lief geword vir die geurige Arabiese kosse. Sy het hom Afrikaanse woorde begin leer en hulle het baie pret gehad. Haar sêgoed het hom telkemale uit sy maag laat skater.
Toe hulle verlede week oor dieper dinge en hul geloof begin praat het, was dit vir haar ’n verrassing om uit te vind dat hy ’n Jemense Jood van afkoms is, maar dat hy soos sy die Messias as sy Verlosser ken.
Vanaand se Erev Shabbat-ete is dus soos ’n spontane uitvloeisel van hul gemeenskaplike liefde vir hul Vader in die hemel. Hulle ontspan saam en die kos is heerlik. Tot in die laat uur gesels hulle en hy vertel haar van sy grootwordjare en die burgeroorlog wat die Jemense volk tans beleef.
Sy vertel hom van haar tuisdorp in die Vrystaat en hul pretdae op haar ouers se koringplaas. Byna teen middernag jaag haar beseerde voet, styf van die woestynaand se koue, hulle bed toe. Ari’el wag geduldig dat sy in die badkamergedeelte van die tent klaarmaak om bed toe te gaan en help haar tot by haar bed. Hy groet haar skielik byna bruusk, buk vinnig onder die tentdeur na buite en maak dit dan vas.
Nou is dit maande daarna en Sarah knip die trane wat weer in haar oë opwel weg. Hier lê sy hulpeloos in ’n ellendige kliphuis sonder dat sy weet of hy ooit iets vir haar gevoel het. Sy het geweet hulle is aangetrokke tot mekaar. Maar Ari’el het hom altyd ru weggekeer die oomblik wat hul te na aan mekaar beweeg het. Sarah forseer haarself om nie te huil nie. Sou Ari’el aangevoel het dat sy vir hom gevoelens begin ontwikkel? Het sy haar misgis die kere wat sy gedink het sy sien liefde in sy oë vir haar, was dit net simpatie?
Wel, sy sal hom in elk geval nie weer sien nie. Hy sit op ’n ander kontinent in die Midde-Ooste en veg vir sy land.
Met die water СКАЧАТЬ