Название: Oase
Автор: Stefani Serfontein
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318497
isbn:
Hy draai om en loop die telefoon by. Druk ’n paar nommers op die foon en wag. “Forensies! Slaap julle?” bulder hy toe iemand temerig die foon beantwoord. Hy luister na ’n paar sinne en begin glimlag. “Uiteindelik ’n leidraad. Ja, dis soos ek dit wil hê. Menslike bloed op die sand by Muizenberg. Nou werk ons tog iewers heen. Spring, kêrels, ek wil weet wie se bloed dit is. O, en jy sê die dieredokter sê dis ’n meswond en die Labrador is buite gevaar? Dankie, hoor.” Hy plak die foon onnodig hard op die mikkie terug en gaan staan weer voor die aansteekbord.
Hy moet ’n foto van die hond kry, sal seker in haar huisie wees. Hy krabbel op ’n wit papiertjie en steek dit vas onder die pyl wat van haar huis af ondertoe wys: “Saterdag, 19 Junie, stap vroeg na Muizenberg. Labrador met vleiswond gekry voor huisie – langs trap op strand aangeval. Meswond. Buite gevaar.”
Hy krap tussen die bewysstukke rond wat hy uit die kluis gehaal het en wat nou in geseëlde houers op sy tafel lê. Een sakkie stryk hy glad en skuif sy bril skuins op sy neus sodat hy die nommer op die besigheidskaartjie beter kan lees.
Hy skakel en wag ’n hele paar tellings terwyl die foon aan die ander kant lui en lui. Net toe hy die foon vies wil terugplak, antwoord Ari’el in Engels.
“Wat maak jy, Dokter? Slaap seker nog! Ek het net begin dink jy’t die pad gevat sonder om my daarvan te sê.” Sonder om asem te skep of Ari’el kans te gee om te antwoord rammel hy voort. “Ari’el, soek asseblief dringend vir my na ’n foto van die hond daar in die huis. Ja, Sarah se Labrador. En bring dan die foto so gou moontlik na my toe. Sal jy die pad hierheen kry? Hulle sê die hond is buite gevaar, dit was net ’n vleiswond. Ek dink ek het ’n plan.”
Hy sal die pad kry met behulp van sy GPS, antwoord die dokter.
Rassie gaan sit sugtend agter sy lessenaar en skakel ’n ander nommer op sy persoonlike selfoon.
“My liefling! Hoe gaan dit daar?”
“Jy vra hoe dit gaan. Ek is omgekrap, Rassie. Hier gaan dit soos dit in ’n huis sonder ’n pa gaan. Maar ek sal jou nie vertel van kinders met loopneuse, tieners met buie en giere en ’n ma wat nie genoeg hande het om almal gelukkig te hou nie. Ekskuus, ek weet jy werk hard, maar ons almal by hierdie huis sien uit na jou tuiskoms saans.”
“My liefling, sal jy dit aanvaar as ek sê ek is jammer? Ons sit met ’n jong vrou wat weg is. Net weg, sê ek jou, en ons het nie ’n clue waar om haar op te spoor nie. Sy is in gevaar en elke minuut is kosbaar. Bid dat ek wysheid sal kry en onthou, ek is en bly lief vir jou.”
Sy vrou se toon versag dadelik, sy sê sy verstaan. Verseker hom van haar getroue ondersteuning en dat hulle hom baie mis. “Laat my volgende keer asseblief net weet as jy nie huis toe kom nie, Rassie.”
Hy druk die foon dood, sug hard en diep en skakel dadelik weer ’n ander nommer op die landlynfoon langs hom. Die Oggendblad se subredakteur is die een wat hom nou sal moet help.
Die volgende oggend kom die tweede leidraad van ’n mevrou Pearson af.
“’n Busybody, as jy my vra,” het een van sy sersante gesê.
“Ek vra jou nie,” was Rassie se antwoord, “volg jy dit net op. En gou ook. Bel die tannie en hoor wat gaan aan.”
Die Oggendblad het ’n berig oor Sarah se ontvoering geplaas, ’n mooi, groot foto van Sarah saam met haar hond daarby. Daar is ook wenke bygevoeg oor hoe die publiek kan help. Dit het vrugte afgewerp.
DRINGEND! Muizenberg-area, KAAPSTAD
VERLORE GOUE LABRADORHOND
•Het jy dalk ’n verlore goue Labrador iewers gewaar? Het jy iets verdags gewaar? In Kieselstraat of op pad na Muizenberg
•Sy is vermis vanaf die oggend van Saterdag 18 Junie 2011.
•Het jy iets ongewoons gesien? Iemand wat onnodig daar rondhang?
•Het jy dalk ’n vrou met lang rooi hare en ’n goue Labrador op die strand gesien stap?
•Kontak Spesiale Speureenheid in Kaapstad by tel: ................
Hoofstuk 9
❧
Kaapstad
Tannie Pearson wat soggens getrou haar koerant voor die venster sit en lees, het hulle nie teleurgestel nie. Sy het hul dadelik nadat sy die berig raakgesien het gebel. Rassie was later vies dat sy hulle dit nie lankal vertel het nie, maar hy het besef dat hy haar daaroor moes uitgevra het.
“Ja, seun,” sê sy toe hy later die oggend effe geïrriteerd voor haar sit met ’n warm koppie koffie en haar maar toelaat om die storie teen haar eie tempo te vertel. “Dit was vir my ongewoon, die verbleikte ou blou karretjie wat vir ’n hele klomp dae doer onder die boom gestaan het.” Sy beduie deur die venster na die groot ou koelteboom wat twee huise verder, drie huise van Sarah se huisie af, staan.
Rassie sit regop en spits sy ore toe die tannie van ’n vaalblou karretjie praat.
“Ons is mos vriendelike mense in dié buurt en ek stap toe die tweede oggend na die karretjie toe.”
Hy wil haar aanjaag, maar hou hom in. Dalk mis hy waardevolle inligting as hy haar aanjaag. Hy knik net,
“Nou boeta, soos ek vir jou seg, ons is vriendelike mense in dié buurt, maar daai knapie! Nee-nee, onder watter bos hy grootgemaak is, weet ek nie, maar so nors en befoeterd het ek lanklaas beleef. Ek stap toe mos om die motortjie en tik aan die toe ruit. Hy sit daar met die nuwe goetertjies in sy ore, jy weet, daai goedjies wat al die jong mense deesdae in hul ore ronddra, ja, ja,” sê sy toe Rassie knik. “Kompleet met die donkerbril op sy oge en kouende kakebeen en al die lelike spinnekop- en skedeltatoeëermerke op sy arms. Hy het so ’n grys kappiebaadjie aangehad, as ek reg onthou. Vir ons geslag is daardie goed mos taboe en boos, jong. En sal die mannetjie jou werklikwaar vir my wys om te skoert. Kan jy nou meer. Ongeskik, sê ek jou. Ek wou net vriendelik wees. Ek loop toe maar terug na my huisie en sorg dat my voordeur behoorlik gesluit is. Deesdae weet ’n mens nie watter vreemde gedagtes sulke nors jong mense in hul koppe kry nie.”
Tannie Pearson neem, uitasem van al die praat, ’n blaaskans en ’n slukkie van haar tee.
Rassie kry ’n woordjie in. “Tannie, sê asseblief vir my, kon jy mooi sien hoe die jong man lyk? Sal jy hom vir my goed kan beskryf? En die motortjie? Jy het nie dalk die nommerplaat gesien nie? Kan jy dalk onthou?”
“Hokaai nou, boeta! Gits, daai is te veel vrae op een slag. Wag, laat ek dink,” protesteer die tannie.
Rassie kom orent en sit sy leë koppie op die tafel neer. “Wel, Tannie, baie dankie vir jou hulp. Ek laat jou ’n bietjie alleen. Dink jy nou asseblief mooi en diep. Dit is vir ons baie belangrik en dalk ook vir Sarah. Ek gaan net gou-gou een van my manne op die radio roep, ek is nou-nou terug.”
Hy glip by die voordeur uit om dadelik die forensiese kunstenaar te laat kom. Hopelik sal hulle saam met die tannie ’n profiel van die vent wat die huis dopgehou het, kan saamstel en ’n redelike idee kry van watse karretjie dit was.
Later СКАЧАТЬ