Haar ma se kind. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Haar ma se kind - Helena Hugo страница 6

Название: Haar ma se kind

Автор: Helena Hugo

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796318619

isbn:

СКАЧАТЬ die pakkies wat jy moet aflewer.”

      Haar hare is vasgebind in ’n parmantige poniestert.

      “Moet ek die vleis vir Antie dophou?”

      “Ek stel die plaat baie laag. Jy kan water bygooi as jy ruik dit braai.”

      Die stukke vleis wat sy eerste in die pot laat val, sis hard. Toe sy omdraai, is Dania weg.

      Sy wou nog vra of sy Lea toe gebel het, maar sy sien nie kans om haar agterna te sit nie.

      Here, waar is my kragte heen?

      Sy dwing haarself om die vleis in die pot stuk vir stuk om te keer. Nooit anders nie, dit is griep, en sy sal iets moet drink, anders kom sy nie deur die dag nie. Eindelik kan sy die vleispot se deksel opsit.

      Daar is nog een bruistablet in die medisynekas. Sy gooi dit in ’n glas water en drink dit skuldig.

      Jonnie het dit gekoop om Dania deur die eksamen te help. Dalk het Emma daarvan byderhand om te leen tot hulle weer by Graafwater uitkom. Hoofpynpille het hulle genoeg. Sy drink twee. Voor sy vergeet, maak sy die pakkies vir Loesie-hulle op, speld naamkaartjies aan elkeen en loop kamer toe. Daar stel sy haar wekker en gaan lê op die bed.

      Ontspan, dis senuwees wat jou uitput en siek maak. Kalmeer. Jy weet waar jou krag vandaan kom.

      Trane wel op. Haar Vader is tog genadig, al weet Hy als.

      Hemelvader, help my, troos my, versterk my. Stuur vir my Skrif, al is dit ’n vermaning, ek smeek U.

      Die woorde van die Ou Vertaling kom van ver af, van haar kleintyd toe sy lang stukke uit die Bybel gememoriseer het.

      Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

      Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

      Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

      Verbasend hoe helder haar verstand skielik is. Sonder huiwering vloei die woorde uit die fontein wat in haar hart opborrel en wat in haar diepste nood nog nooit opgedroog het nie.

      Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf, dié vertroos my.

      U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

      Sy het werk om te doen. Daar is mense met wie dit slegter gaan, wat nie kan wag om môre by die kerk se tafels te kom aansit nie, mense wat onversorg en eensaam in bedompige sinkhokkies lê en uitsien na die dood, wat net swaar geken het, van die dag van hul geboorte af tot die dag van hul gryse ouderdom, hooplose mense.

      Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

      Dora haal diep asem, dit voel beter. Sy kom stadig orent. Haar verpleegstersuniform hang aan die kasdeur. Sy gaan haal dit af en trek haar japon uit.

      Jo-Anne wou van kleintyd gaan skoolhou soos haar pa. Daarmee het Dora vrede gemaak. Sy weet wat háár beroep vereis – veral hier op die platteland. Jo-Anne is te veel van ’n dametjie, te veel van ’n bedorwe enigste kind. Met Dania het hulle ’n ander koers ingeslaan. Sy het haar dagtakies en sy kom by die armes, al is dit net om ’n pakkie af te gee. Dora het tot nou toe gehoop dat Dania geleer het om respek te hê vir die edel beroep van verpleeg en die onselfsugtige pad van naastediens sal kies. As Jo-Anne haar vat, sal daar niks van kom nie.

      Dania luister na die geluid wat haar hardloopskoene op die gruisgrond maak, vinniger en vinniger om weg te kom en terug te kom voor die son te hoog sit. Sy was sesuur reg om Jo-Anne se e-pos te skryf, maar oom Jonnie het haar aangesê om te help met die hoenders – antie Dora het verslaap en hy los haar, sy het rus nodig. Dania het gedoen soos hy sê, én vir hom koffie gemaak, niks gestry nie, anders het hy haar nie toegelaat om op sy rekenaar te werk nie. Sy het kans gekry, terwyl hy gestort en aangetrek het. Toe skryf sy sy kan nie wag vir Londen én Desember nie, hulle sien uit na Jo-Anne se Kerfees-kuier en inkopies in die Kaap, sy het genoeg gespaar – of dink Jo-Anne sy moet haar geld hou vir Londen? Die televisienuus sê daar is agttien rand in een Engelse pond, dis baie. Is Jo-Anne seker sy sal ’n vakansie in Londen kan bekostig? Oom Jonnie sê sy is die enigste kind in die skool wat volgende jaar oorsee gaan en hulle is nie ryk nie. Hy stuur groete.

      Sy wou nog skryf die mense van Londen is seker skatryk as hulle soveel rande in een pond kan gooi, maar toe vee sy dit uit voor dit lyk of sy bedel.

      Sê nou sy moet al haar spaargeld trek om saam te neem? Jo-Anne het nog niks gesê van sakgeld nie. Dania struikel amper by die gedagte daaraan. Om te val sou die uncoolste ding wees wat haar vanoggend kan tref. Sy hardloop juis verby kinders wat vandag eksamen skryf en skool toe loop, party met oop boeke soos hulle vir oulaas iets in hul koppe probeer prop. Hier en daar groet een met: “Skryf jy nie?”

      “Môre! English composition!”

      Sy was vanoggend so besig met die rekenaar, sy het nog nie haar ma gebel nie, maar miskien is dit te vroeg. Later is beter, dan kan hulle lekker lank gesels – veral as antie Dora by die werk is. Almal is vanoggend laat. Die son bak al so warm, sy sweet, en los hare plak teen die kant van haar kop. Haar neus water, maar sy draf aan tot by ouma Mara se roosheining. Daar stop sy aan die oorkant van die pad en haal ’n snesie uit haar sak. Haar hande bewe – nie van uitputting nie, sy is superfiks, maar van opwinding, want sy het gehoor Rodger is terug.

      Met haar rug teen ’n sypaadjieboom kyk sy verlangend na sy huis.

      Rodger Davids is haar grootste geheim. Nie eens Lylane weet nie, en Lylane is haar beste maat. Niemand, behalwe die Here, weet hoe sy oor Rodger voel en wat in haar kop aangegaan het toe Rodger vir Talita van den Heever gekies het nie. Sy wou Talita en haar engelvlerke verwoes. Maar haar plan was so simpel, sy kon dit liewer gelos het, dan was haar gewete nou skoon – en Talita se pa die enigste vark in die verhaal.

      Dat Rodger so erg seergekry het, is haar straf omdat sy gewens het iets moet gebeur om sy oë oop te maak. So blind verlief was hy, hy kon nie eens sien hoe besitlik Talita se mal pa oor sy dogters is, of dat Maria met meer as ’n bietjie toneelspeelliefde na Josef opkyk nie.

      Dania trek haar poniestert styf en wil net koers vat toe haar hartsbegeerte vervul word. Die tuinhekkie gaan oop en hy kom op sy krukke uitgehink.

      “Haai, Dania,” groet hy.

      Haar asem slaan weg en al wat by haar keel uitkom, is ’n hees gepiep.

      “Haai …”

      Sy moet nader stap en hoor hoe dit met hom gaan, maar sy staan soos ’n stok en wag vir hom om oor die pad te sukkel. Die regtervoet trap, die linkereen hang slap – dit oor ’n meisiekind wat nie vir hom bedoel was nie. Een van die boekies wat Dania gelees het, se titel is Verbode liefde, en daai liefde was nie naastenby so verbode soos Rodger s’n vir Talita nie. Sulke verliefdes, het sy in ander boeke ook gelees, kom nooit by mekaar uit nie. Hartseer en eensaamheid is net eenvoudig die uiteinde.

      “Ek het nie geweet jy is terug nie,” jok sy koel en kalm.

      “Eergister al,” antwoord hy.

      “Hoe СКАЧАТЬ