Название: Die vierde stem
Автор: François Bloemhof
Издательство: Ingram
Жанр: Триллеры
isbn: 9780798168281
isbn:
Hy het al met ’n geweldige ompad ’n paar duisend rand na sy bankrekening oorgedra, net vir oefening omdat dit nie vir hom daaroor gaan nie. Dit gaan mos daaroor dat hy kán. Hy het nog nie ’n kode teëgekom wat hy nie kon kraak nie en soek pal nuwe uitdagings – hulle kan maar kom met hul antivirusprogramme, firewalls en secure passwords. Anders as party wat mede-krakers wil beïndruk met hoe hulle die tegnologie uitoorlê, ding hy slegs met homself mee en daarom sal hy nie môre, oormôre sy hand oorspeel nie.
’n Mens moet weet wanneer om op te hou, en dit is nóú, vir eers. Hy retireer, verlaat die bank se webruimte.
Wat sal hy doen vir ’n opvolg?
Jy moet tog weet tot watter mate jou land jou beskerm, dink hy. Wat van nasionale verdediging? Wie doen wat, en wanneer? En wat dan van buitelandse verhoudinge? Wat is die begrotings – die korrekte begrotings, nie dié wat aan koerante verstrek word nie? Wat, kortom, is daar wat regtig nog geheim is? Wat is die adres van die regering se amptelike webruimte? As jy eers die regte deur vind, kan jy begin boor.
Hy dink op logiese wyse, begin dan tik.
* * *
’n Rukkie later is hy verveeld. Sy inbrake op die internet was herhalings van suksesse wat hy reeds behaal het en daarom nie genoeg van ’n uitdaging nie.
Dit is die gedagte aan ’n aand vol leë ure wat hom laat besluit hy is dit aan homself verskuldig om tóg die oproep te maak.
Hy glo nie hy waag ’n kans nie. Helga het gesê daar is ’n paar mense wat weet wat sy doen, en hy kan beswaarlik al een wees wat haar ’n les wil leer. Dalk moes hy eers ’n ander SIM-kaart in die hande gekry het, maar daarvoor is daar nie nou tyd nie. Want daar is die gevaar dat die oproep nagespoor kan word . . . maar dit sal nie ’n verontregte eggenoot se grootste prioriteit wees nie.
Dit is presies halfses. Helga ontmoet nóú haar bedmaat vir die dag.
Dis maklik om die besigheid se nommer te kry, nog iets waarmee die internet help. Wat ’n vriend het ons in Google. Belangrike mense soos Pierre Krynauw is nooit ’n probleem om op te spoor nie, veral as hulle so graag laat werk.
Manrich skakel. Die noodlot moet besluit: as daar geen antwoord is nie, sal dit ’n teken wees dat hy dit nie moet doen nie. Dan kan Helga met sy seën voortgaan met kattemaai. Hy sal ’n verskoning vind om van haar as pasiënt ontslae te raak, voor hy haar op ’n dag verwurg. Dán sal sy behoorlik frons!
Die telefoon lui, lui. Eindelik ’n vrouestem, nog iemand wat laat werk: “Krynauw and Britz Limited, can I help you, kan ek u help?”
“As ek met meneer Krynauw kan praat, sal jy my help.”
Die vrou huiwer: “Dis na werktyd, ek sal eers moet kyk of hy . . .”
Sy raak weg.
Daar is nog tyd om neer te sit, dink Manrich.
Hy sit nie neer nie.
’n Manstem: “Pierre Krynauw.”
Hy kan nog steeds ophou hiermee. Is dit waar dat die tong die sterkste spier in die mens se lyf is? Met ’n swaard in elke hand kan jy nie soveel verwoesting aanrig nie.
“Pierre, jy ken my nie, maar ek ken jou vrou. Vir Helga. Baie goed. Ek was een van haar internet-pompe.”
“Wat.” Dit is duidelik dat die man niks verder kan uitkry nie. Manrich was bang hy sou sê hy weet reeds alles van Helga se dinge.
“Sy het my nie meer nodig nie, sy het iemand nuuts gekry. Hulle het mekaar so pas by die Anderson Motel ontmoet. Kamer 17. Het jy dit? Die Anderson Motel. Kamer 17. As jy gou maak, vang jy hulle.”
Hy druk die selfoon dood en sak stadig terug in sy stoel. Hy het weer iets gedoen wat ’n mens nie mag nie en dit voel onrusbarend goed, wat soveel beter is as bloot goed.
Al wat hinder, is dat Helga ’n vrou is. Dit pla hom dat hy diskrimineer: hy sal slegs met vroue so iets doen, hy het nooit die behoefte om teen irriterende manlike pasiënte op te tree nie.
Maar ag nou ja. Vir elke daad is daar ’n rede.
* * *
Skaars ’n halfuur later bel daardie rede. As jy weet wat of wie jou iets laat doen, beteken dit nog lank nie jy kan daarmee ophou nie.
“Hoe gaan dit met my groot seun?” Sy is heeltemal reg – hy mag groot wees, maar as sy met hom praat, is hy ’n seun.
“Goed, Ma. En daar?”
“Die huis is stil . . .”
“Is dit?” Hy moet toegee dit is ’n knap tegniek, oor soveel jare verfyn. Die verwyte is nooit so direk dat hy hom daarteen kan verdedig nie.
“Besige dag gehad?”
“Nogal.”
“Myne was maar stil.” Daar is dit weer. Dit is soos ’n roepnoot en hy moet inval vir die koor.
“Ma, ek dink ek hoor iets in die kombuis. Ek het goed op die stoof.”
“O, wat?”
“Dis . . .” Hy kry aan niks gedink nie. Hy behoort mos al te weet dat as hy vir sy ma gaan lieg, hy voor die tyd sy storie moet regkry. “Nee, ek onthou nou, ek het dit afgesit, dis orraait.”
“Maar wat maak jy?”
“Sommer . . . watsit, hoender. En aartappels. Sommer in een pot.”
“Het jy toe speserye gekoop? Jy het laas gesê jy gaan.”
“Nog nie. Daar was niks fout met die laastes nie. Dis net Ma wat nie daarvan gehou het nie.”
“Manrich! Skaam jou! Ek het nooit so iets gesê nie!”
Daarop volg ’n stilte.
Tot hy sê: “Seker nie.”
“Ek bel juis om jou vir ete te nooi. Dis my beurt.”
“Maar Ma hoef mos nie –”
“Maar ek wíl, Ouboet!”
Die aanspreekvorm waarteen hy geen verweer het nie. Die vertrek begin breër raak, die plafon skuif op. “Goed dan.”
“Tensy jy te besig is.”
“Nee.” Dis ’n yslike kamer van hier onder waar die kind opkyk. “Ek . . . sal loer wat in my dagboek aangaan, dan bel ek Ma en ons besluit op ’n aand. Dankie.”
“Ek sien uit daarna om weer ’n bietjie met jou te kan gesels.” Só sê die vrou by wie hy alles geleer het, behalwe hoe om haar te hanteer.
“Ek СКАЧАТЬ