Название: Voetspore 2
Автор: Johan Badenhorst
Издательство: Ingram
Жанр: Кулинария
isbn: 9780798163330
isbn:
Braai die repies spek in ’n aparte pan.
Sit die roosterbrood voor met die spek en esdoringstroop daaroor.
Hoenderlewers op roosterbrood
Dis vir mense wat daarvan hou dat hul mond brand. As jy nie een van hulle is nie, laat net die rissies weg.
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
1 ui, gekap
olyfolie
10 ml (2 t) fyngekapte knoffel
10 ml (2 t) fyngekapte brandrissie
500 g hoenderlewers, skoongemaak
10 ml (2 t) bruinsuiker
10 ml (2 t) suurlemoensap
sout en peper na smaak
roosterbrood
Braai die ui in olyfolie tot byna deurskynend. Roer die knoffel en rissie by. Voeg die hoenderlewers, bruinsuiker en suurlemoensap by. Geur na smaak met sout en peper (alhoewel swartpeper oor die gaar produk soveel lekkerder is). Kook die lewers totdat dit lekker souserig is. Sit dit op roosterbrood voor.
WENK: Die hoenderlewers kan ook voorgesit word saam met roereier of op gekookte aartappel in die skil.
Geposjeerde eiers
’n Eiergereg vir ontbyt, of ’n ligte middagete.
Voorbereidingstyd 20 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
25 g botter of margarien
1 ui, fyngekap
100 g hoenderlewers, skoongemaak en in stukkies gesny
koekmeel
300 ml tamatiesap
300 ml droë witwyn
2 ml (1/2 t) elk gedroogde roosmaryn,
basiliekruid en tiemie
10 swartolywe, ontpit en gekap
sout en peper na smaak
6 eiers
6 snye roosterbrood
hoenderlewerpatee
Smelt die botter in ’n pan en braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die hoenderlewers by en braai net totdat die kleur verander. Besprinkel liggies met koekmeel. Braai nog 5 minute. Giet die tamatiesap by, roer deeglik en voeg dan die wyn, kruie, olywe en sout en peper by. Sodra die mengsel begin borrel, breek die 6 eiers daarin oop en wag totdat dit gestol het. Smeer die roosterbrood met hoenderlewerpatee, skep ’n eier op elke sny en gooi die pansous bo-oor.
Aartappelkoekies
Dis altyd lekker saam met eiers en spek vir ontbyt en onses insiens waarskynlik die enigste noemenswaardige gereg in die Amerikaanse kookkuns.
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
3 aartappels, geskil en gerasper
1 ui, geskil en gerasper, of sprietuie, gekap
1 eier
15 ml (1 e) parmesaankaas
sout
50 ml (1/5 k) kookolie
Meng die gerasperde aartappels en uie. Klits die eier en meng dit saam met die kaas by die aartappelmengsel in. Geur met sout na smaak. Skep groot lepels vol daarvan in ’n pan met verhitte olie en vlakbraai die koekies aan albei kante tot ligbruin.
Eiers in pão
Hierdie een is vir die Mosambiekers.
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
6 Mosambiekse broodrolletjies (pão)
250 ml (1 k) gekapte tamaties
50 ml (1/5 k) gekapte sprietuie
3 brandrissies, gekap
25 ml (5 t) olie
8 eiers
100 ml (2/5 k) room
sout en peper
75 ml (5 e) botter
250 ml (1 k) gerasperde kaas
Sny die een kant van die broodrolletjies af en hol uit. Braai die tamaties, uie en brandrissies in olie tot sag; hou eenkant. Klits die eiers en room saam, geur met sout en peper na smaak, en maak soos roereier in ’n bottergesmeerde pan gaar. Skep eers die tamatiemengsel, daarna die roereier en dan die kaas in die uitgeholde broodrolletjies.
Keniaanse vermicelli-brood
Dis iets anders, maar probeer dit gerus.
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
500 g vermicelli
1 liter (4 k) onversoete klappermelk
125 g suiker
5 ml (1 t) gemmer
1 eier
125 g koekmeel
10 ml (2 t) botter
Kook die vermicelli in water tot al dente. In ’n ander pot, verhit die klappermelk en suiker ongeveer 5 minute oor matige hitte. Voeg die gaar vermicelli en gemmer daarby. Klits die eier in ’n klein bakkie, voeg 10 ml (2 t) van die warm klappermelk daarby en roer dit dan by die res van die klappermelk in (dit voorkom dat die mengsel skif). Meng die meel nou by en gooi die deeg in ’n gietysterpot wat met botter gesmeer is. Sit die deksel op, plaas op ’n matige vuur, met kole op die deksel, en bak soos ’n potbrood ongeveer 1 uur lank.
Terwyl die son ondergaan
Voorgeregte klink na moeite, maar dis net die ding om ’n gewone ete om die kampvuur spesiaal te maak. Mens het juis tyd om te sit en kuier terwyl die vuur se kole nog nie reg vir braai is nie of die potjie nog staan en prut.
СКАЧАТЬ