Название: Ena Murray Omnibus 37
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624057376
isbn:
“Trollie? Wat is dit?” probeer Marlene die gesprek aan die gang hou.
Hy glimlag. “Dis so ’n ekstra diensie wat ek aan die pasiënte lewer. Hier kom baie mense van ver af wat nie besoekers kry wat vir hulle dingetjies kan gaan koop en bring nie, soos ’n tandeborsel of ’n koekie seep. Nou het ek ’n trollie waarop sulke goed is – waslappe, tandeborsels, gesigseep, poeier, ’n bietjie lekkers, ’n paar dose sjokolade, sulke goed – en dan stuur ek die trollie deur die kliniek. Ek gebruik gewoonlik studente wat vir sakgeld werk, maar dis maar ’n wisselvallige besigheid soos julle pas gehoor het. Sal julle my verskoon, asseblief? Laat ek gaan kyk wat ek aan die probleem kan doen.”
Ma en dogter se oë ontmoet toe hy weg is.
“Ons het heelwat te hore gekom.”
“Ja. Maar dit bring my niks nader aan die vraag wat my te doen staan nie. Ek voel nog steeds lus om summier met die hele sak patats vorendag te kom.”
“Nee, my kind. Nee, ons moet omsigtig te werk gaan, veral ter wille van jou oupa. Hy het reeds ’n hartaanval gehad en ons weet nie hoedanig hy al daarvan herstel het nie. Ek wil nie ’n mens se dood op my gewete hê nie.”
Elke frons, knik. “Ek het nie so ver gedink nie. Dit sal seker vir hom ’n geweldige skok wees as hy van die bedrog moet uitvind, veral as hy miskien nog al sy drome om hierdie vals kleindogter gebou het. Dit kan gevaarlik wees vir sy gesondheid. Maar hoe kan ons te werk gaan, Mamma? Ek sien ook regtig nie kans om net terug te staan sodat iemand anders voortgaan om mý rol hier in die kliniek te speel nie!”
“Nee, natuurlik nie, maar ons sal die saak eers baie goed moet oordink. Kom ons ry maar eers.”
Dis twee rustelose vroue wat daardie aand doenig is in die kombuis. Hoekom hulle ook moeite doen om iets voor te berei, weet hulle self nie. Nie een voel tog na eet nie. Teen slapenstyd is albei suf gedink en nog niks nader aan ’n oplossing nie.
“Ek sien steeds geen ander manier as om Oupa en daardie vroumens openlik te konfronteer met my bewyse nie. Dalk moet ek na ’n prokureur gaan en alle besonderhede aan Oupa laat pos. En dan maar kyk wat gebeur.”
Marlene frons. Tot ’n paar uur gelede sou sy verkies het dat haar kind van hierdie Meissner-manie, soos sy by haarself daarna verwys, sal afsien en totaal van Albert Meissner en sy kliniek vergeet. Maar noudat hulle daar was en gehoor het wat hulle gehoor het, het die prentjie skielik verander. Toe haar oë op die imposante kliniek val, het Marlene besef dat dit inderdaad haar dogter se erfenis is. Elke is immers Albert Meissner se enigste nasaat. Maar nou het iemand anders, ’n indringer en bedrieër, haar dogter voorgespring en sy is van plan om koel en kalm met wat Elke se regmatige erfenis is, weg te loop. Dit is eens te veel. Om haar voor te doen as Albert Meissner se enigste kleinkind, is verregaande. Dieselfde determinasie wat in haar dogter is, het ook in die moeder begin groei. Nee a, wat darem te erg is, is te erg!
“Nee, Elke. Nie een van hierdie planne van jou gaan werk nie. In die eerste plek hou dit steeds gevaar vir jou oupa se gesondheid in. En in die tweede plek ken ons nie jou oupa nie. Ons weet nie hoe hy sal reageer as hierdie ding op die lappe moet kom nie.”
Elke kyk haar ma verontwaardig aan. “Maar hy sal die waarheid móét aanvaar as al die bewyse voor hom lê, Ma! Hy sal nie ’n keuse hê nie!”
“Ja, Elke, maar hy is nog steeds nie verplig om jóú dan te aanvaar nie. Het jy al daaraan gedink? Vir die tweede keer sal sy wêreld aan skerwe lê. Jou pa het dit reeds een keer opgebreek. Nou het hy sy hart miskien op hierdie meisie gesit en skielik kom jy en ontwrig weer eens sy lewe. Dit gaan ’n vreeslike debakel veroorsaak, my kind. Besef jy dat ’n mens dit kwalik vir die publiek sal kan wegsteek? Elke koerant sal dit uitbasuin. Hulle gaan die hele ou geskiedenis ook weer oprakel. Ek het ’n vermoede jou oupa gaan jou nie dankbaar wees nie. Ek dink hy sal, nadat hy die onomstootlike feite aanvaar het, só kwaad wees dat hy nie net die vals kleindogter nie, maar ook die egte kleindogter die deur sal wys. Hy is blykbaar ’n onvoorspelbare mens. Wat gaan dit jou help om alles op die lappe te bring en hy reageer so? Jy sal niks wen nie, my kind. Inteendeel.”
Elke lyk na aan trane van moedeloosheid. “Maar wat gaan ons dan dóén, Mamma?” roep sy uit.
“As ons net nader aan die situasie kan kom . . . Ek bedoel, in die binnekring kan indring. Miskien kan ’n mens iets daar optel.”
“Maar hoe gaan ek dit regkry? Ek kan kwalik daar instap en sê ek is dokter Elke Meissner en ek wil daar werk, asseblief. Hulle sal tog onmiddellik wil weet van watter Meissners ek is. Wat antwoord ek dan? Of moet ek ook bedrog pleeg en my naam op my sertifikate vervals?”
“Moet tog nie laf wees nie!” roep Marlene vererg uit.
“Ek weet!” Elke spring op. “Ma, ek het dit! Ek het dit!”
Marlene lyk verward. “Wat het jy?”
“Die oplossing! Hoe om daar in te kom! Ek, Mamma, gaan vir Peet sy trolliediens in die hospitaal doen!”
“Wát?”
Elke lag sommer hardop van opgewondenheid en verligting. “Ja! Só sal ek in die sale en gange kom en miskien iets te hore kry . . . Ma, dis die enigste manier!”
Marlene skud haar kop verdwaas. ’n Volwaardige kinderarts wat jare lank gestudeer het wat nou trollies met waslappe en seep en lekkers rondstoot. “Ag, jy is seker verspot! Dis te belaglik vir woorde!”
“Wat anders dan? Kom, sê my? Watter plan is daar?” Stilte. “Ma, wat is so vreeslik aan my voorstel? Ek gee nie om om ’n trollie rond te stoot nie, nie as ek iets daardeur gaan bereik nie. Ma het reg. Ek moet nader aan die betrokkenes kom. Ek moet die vroumens, en haar gesante wat haar miskien help, goed deurkyk en ek moet my oupa ook leer ken. Dit kan ek nie van buite af regkry nie. Ek moet in die kliniek kom en ek gáán, al is dit met ’n lekkergoedtrollie!” sê sy vasberade.
Marlene se wind is uit haar seile. Elke is sowaar ernstig! “Maar my kind, hulle sal dwarsdeur jou sien. Jy sal agterdog wek . . .”
“O? Hoekom? Ek word dan heeldag aangesien vir ’n tiener?” Sy swaai met die hand. “Gee my vyf minute. Bly sit Ma net daar waar jy nou sit. Moenie roer nie. Ek is nou terug.”
Sy trippel die kombuis uit en Marlene skud haar kop. Soms vind sy dit self moeilik om te glo Elke is al afgestudeer! Vier minute later rek haar oë. ’n Jong dogter staan voor haar. Die gesiggie is sonder enige teken van grimering en die sproete staan vrolik op die wipneus uit. Die hare is agteroor gekam met ’n middelpaadjie en twee geel strikke hou die twee boksterte uit mekaar.
“Waar kom jy aan daardie strikke?” vra Marlene verdwaas.
“In die bêrelaai gekry. Ou linte wat in ’n rangskikking was. Dis al wat ek kon kry. Hoe lyk ek vir Ma?”
Sy draai in die rondte. Die stywe jeans span om die agterstewetjie en eindig in ’n paar wit sokkies en tekkies. Toe sy terugdraai, begin Marlene teen wil en dank lag. “O, my kind, jy lyk . . . presies tien!”
“Ag, nee, kom nou, Mamma! Dis darem nie só erg nie!”
“Goed dan. Sewentien – maar nie ’n dag ouer nie!” Marlene skud haar kop, haar oë teer van liefde. “Elke, dit voel vir my ek moet jou ook vra om jou sertifikate СКАЧАТЬ