Название: Ena Murray Omnibus 37
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624057376
isbn:
“Ek dink sy is dierbaar, en al verdwyn sy byna totaal as mens in jou pa se teenwoordigheid, sal ek honderd maal liewer met haar oor die weg kom as met hom. Ek is jammer, Fritz, maar jou pa maak my bang. Hy is te oorweldigend.”
Maar Fritz het verstaan. “Verstaan jy nou hoekom ek net nie die moed bymekaar kan skraap om hom te sê ek wil nie ’n dokter word nie? Ek is van my babadae af met die idee gevoer, Marlene. Van kleins af is ek vertel dat ek eendag die hoof van die Meissner-kliniek sal wees, dat my voete sy spore deur die sale en gange en teaters sal volg. Hy sal ’n hartaanval kry as ek hom moet vertel sy drome en ideale gaan nie bewaarheid word nie.”
Maar dit was nie Albert Meissner wat die hartaanval gekry het nie. Dit was sy klein vroutjie. Fritz is ontbied en in die paar oomblikke wat hy en sy moeder alleen was, het sy dringend met hom gepraat.
“Ek het eenkeer ’n gedig deur Graham Loveridge gelees. Hy noem dit ‘Realization’. Op die end daarvan sê hy:
So many years wasted trying
to be something I couldn’t be;
so many years wasted worrying
before this thought came to me:
I must live my life for me!
“Fritz, dis jóú lewe. Doen daarmee wat jy wil. Sorg net dat jy, wanneer jy op die end daarvan kom, nie jou kop in skaamte hoef te laat sak nie. Maar dis joune, aan jou gegee, vir jou gebruik. Jy kan jou drome verwesenlik; jy kan jou ideale bereik.”
Hy het sy kop geknik, die moederhand styf vasgehou. “Ek wil van ballet my beroep maak, Ma.” Hy het die verbasing in haar oë gesien en vir haar geglimlag. Albei het die dag onthou toe die jong seun na sy ma gekom en gesê het hy wil balletklasse loop. Sy het haar toestemming gegee en sonder dat dit ooit geopper is, het albei geweet dit sou ’n geheim tussen moeder en seun bly. Albert Meissner moes nooit daarvan uitvind nie. “Ek loop nou nog deeltyds klas, Ma. Ek voel dis wat ek wil doen.” Sy stem was pleitend.
Die moeder het geknik, gerusstellend oor sy hand gestreel. “Dan gaan doen jy dit, my seun.”
Maar hy moes eers by sy pa verbykom . . .
“Jy wil gaan dáns?” Daar was soveel onuitspreeklike verstomming in die vraag dat Fritz nie dadelik kon antwoord nie. Toe het die volle besef van wat sy seun hom aan die vertel was, getref. “Jy wil vir die res van jou lewe op jou toontjies gaan rondtrippel en stywe houtpoppe in die lug rondgooi? Jý? Mý seun?”
“Pa . . .”
“Dis jou ma se invloed hierdie! En daardie nooi wat jy hier aangebring het! Beeldende kunste!” Albert Meissner het hardop gesnork. Veragting en minagting het uit hom gestraal. “Jy is Fritz Meissner: Die toekomstige hoof en eienaar van die Meissner-kliniek! Dis wat jy gaan wees en niks anders nie! Jy gaan ’n skalpel hanteer, nie halfkaal vroumense in die lug ronddra nie! Jy gaan in die kliniek se gange rondhardloop om lewens te red, nie soos ’n verwyfde ding op verhoë rondtrippel nie! Jy gaan nie weer daardie Marlene-vroumens sien nie en ek wil . . .”
“Dis my lewe, Pa . . . en ek gaan daarmee maak wat ek wil, nie wat Pa sê nie. En ek gaan nie van Marlene afstand doen nie. Ek gaan met haar trou. Sy verwag reeds my kind.” Sy pa het soos ’n kolos van graniet voor Fritz gestaan. “Pa . . . Ek is jammer, Pa! Verstaan tog . . .”
“Stil!” ’n Vinger het na die deur gewys. “Trap! Jy is nie meer ’n Meissner nie! Ek het nie meer ’n seun nie! Jou naam word vandag uit die geslagsregister van die Meissners geskrap. Trap!”
Marlene sluit haar oë teen die geweld van die emosies wat hierdie herinneringe bring. Moeilike jare het gevolg. Fritz het ’n paar keer probeer om telefonies met sy pa te praat, maar tevergeefs. Albert Meissner het net geweier om na die telefoon te kom. Sy moeder is ’n rukkie later oorlede en hy het na die begrafnis gegaan. Weer het Albert Meissner sorg gedra dat daar geen toenadering was nie. Intussen moes hy vir homself en ’n verwagtende vrou sorg. Alle finansiële hulp was afgesny. Marlene moes haar kursus staak en het met illustrasies vir tydskrifte en uitgewers die pot op ’n manier aan die kook gehou, maar dit het bars gegaan. Al troos wat daar was, was hul liefde vir mekaar, hul dogtertjie wat later gebore is en die feit dat Fritz tog besonder vinnig opgang begin maak het en reeds redelik bekend was in die balletwêreld. Maar geld was maar weinig.
Marlene sug nou saggies by haarself en die herinneringe wek ’n weemoedige verlange na daardie swaarkryjare. Dit was eintlik wonderlike jare. Dit was nie alles net swaarkry nie. Daar was genoeg lekkerkry tussendeur geweef, wat dit alles die moeite werd gemaak het.
En toe gebeur die tragedie. Fritz gly tydens ’n balletopvoering op die verhoog en val met sy kop teen ’n pilaar wat deel van die dekor was. Bloeding op die brein, weke se bewusteloosheid en uiteindelik die dood. ’n Jong, belowende ster aan die ballethorison het verskyn, geskyn . . . en net so vinnig weer verdwyn. Moeder en dogter het agtergebly om alleen verder die mas op te kom.
Net deur bitter harde werk en deursettingsvermoë het Marlene Meissner vir haarself ’n plek in die kunswêreld oopgebeur. Sy het al gewilder geword as illustreerder en dit het finansieel begin makliker gaan. Maar daar moes steeds opgeoffer, afgeknyp en baie spaarsamig met geld gewerk word, want haar dogter het van jongs af ’n droom gehad: sy wou dokter word. Niks anders nie.
Gelukkig was Elke ’n baie intelligente kind en het goed gepresteer en met behulp van beurse en met wat haar ma kon vermag – hoe, sou net sy alleen weet – kon Elke haar studie voltooi. Maar dit was nie genoeg vir die klein, fyn Meissner nie. Sy moes spesialiseer sodat haar oupa haar net nie die deur kan wys wanneer sy die dag voor hom gaan staan en haar regmatige plek in die Meissner-kliniek opeis nie.
Ten einde raad is trots en verbittering in die sak gesteek en ’n smeekbrief aan Albert Meissner geskryf – waarop hy hom nie eens verwerdig het om te antwoord nie. Die enigste alternatief was om Joachim du Plessis se huweliksaanbod te aanvaar. Elke het as kinderarts gekwalifiseer soos sy wou en Joachim is oorlede en hier sit ma en dogter nou weer voor dooiemansdeur.
Marlene bring haar gedagtes terug na die hede toe haar dogter die motor voor die bekende en byna wêreldberoemde kliniek tot stilstand bring.
Hulle sit dit in stilte en beskou. ’n Mens sal eerder dink dis ’n luukse en baie eksklusiewe privaat hotel wat hier tussen die malse natuurskoon van die Boland nestel. Net soos by die eienaar se privaat woning lê ook hier nie ’n klip uit sy plek nie. Albert Meissner is ’n perfeksionis en alles wat syne is, is so na aan perfeksie as wat dit op hierdie aarde moontlik is. En hy verwag ook perfeksie van die personeel wat tussen hierdie mure werk.
Marlene kyk haar kind bekommerd aan. Ag, sal die liewe Here tog nie gee dat Elke liewer nou omdraai en vergeet van hierdie plek nie! Maar haar opregte gebed gaan nie beantwoord word nie, vertel die blink oë haar. Daar straal ’n trots en besitlikheid uit die blou oë wat die moeder amper skok. Haar kind is totaal begogel!
“Ek gaan hier inkom. Ek gaan hier inkom, Mamma! Dis waar ek hoort!” Sy sluk om haar emosies onder beheer te kry. “En geen witgesig ou heks of koppige ou man gaan my hier uithou nie!” Haar blik dwaal liefkosend oor alles, haar stem is laag: “Ek het van hierdie plek gedroom. Vandat ek die eerste keer gehoor het Albert Meissner is my oupa, het hierdie plek deel van my geword. En vandat ek dit die eerste keer СКАЧАТЬ