Soos honde van die hemel. Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soos honde van die hemel - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 2

Название: Soos honde van die hemel

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624058830

isbn:

СКАЧАТЬ mense in Holland effens getroos. Hoe ook al, Kersnag as almal al wou rus hê, het hy die“Wilhelmus” hoogdronk op die agterstoepie sit en sing.

      Ruud dink aan die klein kersies in blikblakertjies wat hy met Oumie se bystand aan die dennetakke mog vasknyp. En die twee wondermooi glasvoëltjies met hulle kleurryke sterte van regte vere. Maar dié het sy self versigtig vasgesit. Hoog bokant bereik van sy handjies.

      Oukersaande het hy op Oumie se skoot aan die slaap geraak lank voor die Kersverhaal uitgelees was. Haar sagte borste en maag was ge­rus­stellender teen hom as sy ma se stywe jong lyf. Dan het hy net half wakker geword as die straatsangers middernag Kersliedere wee­moedig by akkordeon voor die deur sing en Oumie uitgaan om vir hulle gemmerbier en koek te gee.

      “Lat die kind nou mar by ons in die kooi in lê, Shireen, die man is byte kennis weer!”

      Ruud tree behoedsaam vorentoe om na die vrou agter die ruit te kyk. Dis ’n natuurlike boom waarmee sy te make het. Eintlik maar ’n tak, ylerig en effe vooroorleunend sodat sy sigbaar moeite het om die versierings aan die slap punte gehang te kry.

      Anders was die sterk jong boompies wat Oupie altyd by Mister Punt gaan kap het en waarna die hele huis geruik het. Gemeng met die geur van kerswas en sterk gekruide kos en baie mense.

      Die vrou is klein van gestalte met ’n digte bos bruin hare wat haar gesig van die straat af onsigbaar vir hom maak. Sy werk met ver­bete konsentrasie en dis nie die gewone klaterstringe en balle wat sy hang nie. Hy sien geïnteresseerd dit lyk na handgemaakte lap- en houtitems. Balsahout moet dit wees, want dit is duidelik byna gewig­loos. En vreemd ingewikkelde sterre hang sy op, skynbaar uit strooi­halms geknoop. Op die lae vensterbank lê ’n dennekrans. Twee van die dik wit adventkerse brand. Die vlamme flikker teen die ruit.

      Hy hoor ’n motor in die straat aankom, en gee haastig voor die venster pad. Wonder angstig of iemand gesien het hy staan so lank daar na die vrou en kyk. Dan gaan hy sonder meer na die voordeur. Daar hang ’n Kerskrans, kunstig van lap en dennetakke inmekaar gevleg, van dié wat hy uit Europa ken. Wanneer hy die koperklopper twee keer op die deur laat val, begin ’n hond binne amegtig blaf.

      Die deur was vroeër ook groen. Soveel lae oormekaar geverf dat hy soms klein repies afgetrek het om lekker daaraan te snuif. Net soos hy die stopverf uit die vensterrame losgewerk het as niemand kyk nie. En dan weke lank in sy broeksakke loop en knie het.

      Dan het die fyn pootjies soms teen sy lieste begin oploop.

      Die deur word byna onmiddellik oopgemaak. Daar is nie die ver­sperring van ’n ysterhek of ’n veiligheidsketting nie. Net soos daar voor die vensters ook geen tralies is nie. Die vrou wat hy deur die venster gesien het, tuur bysiende uit die verligte vertrek na die don­ker buite. Soos een wat “Ja?” wil vra, maar dit in dié geval nie uit­spreek nie. Langs haar verskyn die kop van ’n ou hond wat hy hoor blaf het, afwagtend, grys om die bek van ouderdom, die oë dof. Die vrou hou hom aan sy nek teë.

      “Goeienaand?” sê sy toe Ruud hom nie dadelik aanmeld nie. “Kan ek help?”

      “Ek is jammer om u so laat te pla, goeienaand …” Hy is onseker oor hoe hy die rede vir sy koms moet verduidelik.

      Daar kom ’n mate van wantroue in haar gesig en haar hand vat die hond se nek effens vaster. “Ja?”

      “My grootouers het baie lank gelede hier gewoon en ek het ge­wonder …” Hy begryp terselfdertyd dat dit soos ’n voorbedagte verhaal in dié tye van geweld moet klink.

      Tog is dit asof sy dit aanvaar, want haar mond verslap en sy glimlag effe. Maar sy maak nie die deur wyer oop nie. “U wou die huis gesien het?”

      “Dis veel gevra, ek weet, van iemand wat u van geen kant ken nie.”

      Sy huiwer net ’n oomblik. “Ek wou eintlik nog altyd graag iets van die plek se vroeë geskiedenis weet …”

      “Ek kan môre in die daglig terugkom.”

      Maar sy maak meteens die deur heeltemal oop. “Nee, kom tog asse­blief in. Verskoon dat ek …” sy wuif verduidelikend met haar hand, “ons leef bietjie in moeilike dae.”

      “Ek is jammer,” sê hy verleë. “Ek moes eers gebel het, maar ek weet nie hoe u heet nie …”

      “Nee, nee, kom in.”

      Hy val byna oor die ou hond toe hy langs haar om binnekom.

      Eers nadat hy gaan sit het, kan hy na die vertrek kyk. Só vreemd is dit dat hy sy asem hoorbaar intrek.

      Sy sien die ontreddering op sy gesig vir verbasing aan en lag. “On­herkenbaar seker.”

      Hy sluk. “Ja, dit as bepaald heel anders vroeër. Maar dit was na­tuurlik meer as veertig jaar gelede.”

      “Veertig,” herhaal sy vol ontsag.

      Hy knik.

      Sy het nie gaan sit nie en kyk hom effens ongemaklik aan. “Kan ek iets bring om te drink?”

      Hy kom meteens tot homself, staan op en hou sy hand na haar uit. “Verskoon my! Ek is Ruud van der Meijde.”

      “Anne,” sê sy en neem sy hand. “Jy is Nederlands?”

      “Is die aksent so herkenbaar?”

      “Ek is bevrees ja. Maar jy praat Afrikaans?”

      “Ek is hier gebore. Sestien jaar oud geword. My ma was ’n Kleur­ling hier van die Kaap.”

      Sy vryf haar hande ingenome. “Dan word dit interessant.”

      “Hoeso?”

      “Omdat ek waarskynlik só meer van die huis se storie te hore kom. Almal weet tog dat hier altyd mense van kleur gewoon het.”

      Hy hoor die mense-van-kleur en grimlag.

      Sy sien dit en vra met groter vrymoedigheid: “Koffie?”

      “Graag.”

      Hy kyk haar agterna toe sy in die oop kombuis verdwyn. Sy het verslete jeans en ’n groot T-hemp aan. Op ’n stoel langs ’n lamp lê ’n omgedopte boek met ’n bril daarop.

      Dan is dit asof hy genoeg moed het om werklik die vertrek te be­kyk.

      Net die vuurmaakplek is nog waar dit altyd was, al is dit nie meer dieselfde kaggel nie. Dis nogtans een vertroude herinnering in die groot vervreemding. Bietjie chaoties lyk dit eintlik met die eerste oogopslag. Maar ’n soort gerusstellende chaos. Dis vir hom asof daar in elke hoek van die langwerpige vertrek met ’n nuwe tema begin is wat nooit heeltemal uitgewerk word nie. Tog voel hy ’n sekere ver­troosting in die plek aan.

      Hy kyk na die venster aan die oostekant waar hy en oompie Willy geslaap het. Die muur word geheel en al deur rakke vol boeke van alle groottes en tipes in beslag geneem. Alleen in die middel word die rye rakke deur ’n langwerpige spieël verbreek. Daar voor brand ’n bos kerse langs ’n koperbak met hortensies.

      In die hoek staan die boom wat sy besig was om te versier en die mandjie met die ou hond.

      “Saulus, sil djy die djongetjie nou in die kooi in loep sit, ek СКАЧАТЬ