Название: 'n Dorp soos Silwer Streams
Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624053118
isbn:
Aha! dink Basie. Die ewige stryd om jou vrou se guns op ’n Sondagmiddag te wen. Dus is selfs Piet Paai, grensvegter, hieraan uitgelewer. Hanna met die verwoestende kyk in haar oë – maar sy verwerdig haar nie ’n antwoord nie.
Basie wag egter vir die volgende voorspelbare skuif, en hy hoef nie lank te wag nie.
“Persoonlik dink ek natuurlik dis nonsens, jy weet?” sê Piet. “Toe ek op die grens was, het ek by hoeveel lyke gestaan! En ons moes hulle optel en in gate gaan gooi. Daai predikantjie kan nie vir my kom staan en sê hy tel stres op van één dooie mens nie! Na wie hy net gestaan en kyk het nie!”
Piet skink vir homself ’n donker dop. Vol argwaan kyk Basie hoe die kafeebaas sommer Volschenk (Volskink!) se glas tot by die rand vul. Dié sit nou so vooroor dat Basie wonder of die man nie op die punt is om naar te word nie. Maar hy hou liewer sy oop hand oor sy glas sodat die gewillige skinker hom moet verbygaan. Hechter-die-Vegter se blitsogies hou hom dop. (Sy hou my dop!) Die bekende borreling begin weer in sy keel. Jou ou bo-basie!
“Kry nog tjips,” bied Hanna aan en hou die glasbak vir die Volschenkvrou.
Wat is haar naam nou weer? Basie wonder of iemand weet. Marie en Hanna praat ál rondom haar naam. In die dorp verwys almal net na “die hoof se vrou” of “die arme vrou”.
Die arme mens.
Piet vat die bak aan. “Hoe lyk dit dan met nog ’n tjippie, ou Schalk?” vra hy gasvry.
Wanneer laas het ek vir Piet so gehoor? wonder Basie. So joviaal … soos ’n korporaal. Die giggel glip uit. So joviaal soos ’n korporaal! Hy druk sy vuis teen sy mond. Te laat. Hy sien hoe Marie na hom staar. Hy kyk grond toe.
“Schalk?”
Die man se kop ruk op toe hy sy naam hoor. Hy gryp na die bak. Vat mis. Weer gryp hy. Maar hierdie keer klap hy dit uit Piet Paai se hand en dit bars in duisend stukkies op die sementblad.
Basie weet nie hoekom nie, maar heel eerste kyk hy na die arme vrou. Langs haar spring Hanna orent. “Toemaar, toemaar, dis niks, ek gaan haal gou ’n besem en skoppie!” roep Hanna. “Dis niks, dis niks!”
Maar die vrou staan al voor haar man. “Kom!” sê sy en pluk hom uit die seilstoel uit. Sy klap die glas uit sy hand; sekuur trek dit tot binne-in Piet se braaiplek en kry ongeskonde sy lê op die rooster, een van P.C. van Deventer se meesterstukke.
Piet gee ’n lang, bewonderende fluit. Basie voel lus om die man te lyf te gaan. Hy wil die arme vrou help met die man wat sy so aan die arm beetpak, maar tot sy verstomming vind hy vir Marie wat hóm aan die arm beethet. My veglustige vegter! wil hy vir hulle sê, maar sy klou, en met moeite hou hy sy mond.
Die motordeur klap. En toe nog een. Die ratte krap, die motortjie se masjien stol, ruk-ruk, ruk-ruk. Tel dan spoed op en raas in die straat af.
Uiteindelik los die knellende hand Basie se bo-arm. Hy gaan sit sonder om na iemand te kyk.
“Die arme vrou,” sê Hanna. Basie is lus om haar ook te klap.
“Ek moes hulle nooit gevra het om vandag te kom braai nie,” erken Piet Paai. “Sorry, mense.” Hy waag dit nie om na Hanna te kyk nie. Dié storm die huis in om ’n besem te gaan haal, Marie agterna. “Demmit!” swets Piet Paai saggies na Basie se kant toe; bekommerd kyk hy na die dooierige kole. “Die man is darem vir jou vér heen!”
Piet trap hoog oor die glasstukke, pik die leë glas van sy rooster af en plaas dit versigtig op die opslaantafeltjie. “Kyk, dis alles ’n kwessie van weerstand, jy weet?” sê hy. “As jy ’n óú suiplap is het jy later niks nodig om jou naam gat te maak nie. Ons het ’n stafsersant op die grens gehad, hy het later net op ’n prop getrap dan neuk hy om.”
Skielik buk Piet vorentoe. Omkyk-omkyk fluister hy sy waarneming vir sy vriend: “Heita, ou Baasman! Nogal nie ’n sleg lyf vir drie kinders nie, jy weet? Of wat praat ek als?”
Basie wonder wat Piet nou eintlik wil hê hy daarop moet sê. Is alle oudsoldate seksmaniakke? Is vroumense dan net óbjekte in hulle oë? Middelbladmodelle in daardie tydskrifte wat kafeebase so hoog op hul rakke hou? Skuinsweg loer Basie na die oop agterdeur; geen beweging uit daardie oord nie. “Gooi dan gou ’n ietsie, ou Pieta!” fluister hy terug. “But make it snappy!”
“What a waste,” sug Piet Paai en hy kantel die bottel oor die glas wat Basie suutjies vir hom hou. “Kan jy onthou wat haar naam is?”
4
Paul Vincent loer in die truspieëltjie. Hy begrawe ’n vuis vol tjips in sy mond en keer met die agterkant van sy hand dat dit nie tussen sy lippe deur ontsnap nie. Hy moet kleiner happies vat; hy mors te veel. Hy kry warm. Die Mercedes se lugversorger is lankal nie meer wat dit moet wees nie. Dis die heel verkeerdste tyd van die dag om op die pad te wees, hy weet dit. Maar hy moet net hier wegkom. Die plek is besig om hom te versmoor.
Hy is veral bang die telefoon begin weer lui. Naamlose dreigemente in ’n Afrika-aksent. Soos dié keer toe hy dit durf waag het om in die hoofberig te noem dat gevestigde belange straks die polisie weerhou van daadwerklike optrede om die slagting op die tuislandpad stop te sit. “What if they threaten me again?” vra hy vir die truspieëltjie, “soos laas met daai taxi that overturned?”
Wat ’n gemors was dit nie! Dit het daardie hele week vir hom gevoel of die ganse polisiemag op hom losgelaat word; hy kon later sweer hulle het almal ’n vinger in daai paai. En eintlik was als meneer Hechter se skuld! Hy wat Paul Vincent is wou net die ligste van skimpe los. Toe besluit meneer Hechter anders. “Call a spade a spade, Paul! This is our calling in life!” Hy het dit toe maar daar gelaat; meneer H is vir hom te veel werd om hom sommer teë te gaan. Maar hy het dit liefs nie gewaag om ’n opvolgstorie te doen nie, al is die stasiebevelvoerder kort daarna verplaas. En Paul Vincent het sy selfoon se nommer verander. Nie dat dit lank werk op ’n dorp soos dié nie.
Watter koers sal hy vat? Beslis nie die een oor die laagwaterbrug nie, nie op ’n Sondag nie. Naweke het die oorlaaide karre en flenterfietse daar voorrang. Tot donkiekarre. Die pad van die dood. Dit is die cliché wat gereeld in Dorp & District opduik: die pad van die dood. Verreweg die meeste doodsberigte wat in die weeklikse uitgawe op ’n Vrydag verskyn is polisieverslae oor die vorige naweek se ongelukke op daardie pad. Dit was ná die publikasie van een van daardie verslae onder die opskrif Death Road/Death Row dat die moeilikheid begin het.
“Shite, Piet!” het hy met sy gesig rooier as gewoonlik by die kafeebaas kom kla, “anonymous phone calls, even threatening to burn down my office! It seems to me overturning taxis are a sensitive issue. Senior policemen seem to have vested interests there. Therefore thou shalt not cast suspicion.”
Die Sondagkoerante lê op die Mercedes se voorste sitplek, die Afrikaanse een heel bo. Dit is steeds oop op die bladsy met adjudant-offisier P.C. van Deventer se stroewe gesig neffens ’n beriggie oor die “Moord by Brug”.
“I never buy the bloody thing!” sê hy vir die polisieman se foto en sy hande klem die stuurwiel vas. “Jou soort is not quite my cuppa tea.”
Saais Vogel het al vir hom gesê die Engelse Sondagkoerante is politiek bedonnerd. “Wié het vir wié aangestel om watter voordeel uit wat ook al te kry?” was Saais se kriptiese opsomming. “Wié wil dít nou lees? Ons Afrikaners verkies ons Sondagkoerante met meer kleur en geur, kan jy maar sê. ’n Gesonde mengsel van doos СКАЧАТЬ