Название: 'n Dorp soos Silwer Streams
Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624053118
isbn:
Die hondjie gee sulke fyn tjankies.
Ook maar mens, dink Basie, en tel hom vol vertedering op sy skoot.
Waar bly Marie tog? Saterdagoggende se haredoenery bly vir hom ’n vreemde ritueel. “Dit word geheel en al oordoen, Worsman. Niks minder nie as ’n haarklowery, as jy my vra! Sy beter net voor eenuur terug wees! Daardie mak Portugees met die drankwinkel is ’n wispelturige karakter. Hy kry dit net in sy kop om halfeen toe te maak – dán strand ons, Worsman. Rotse, droë grond, kúrkdroog, noodlottig droog.”
Worsie knik en lek sy hand. Dan spits die oortjies en hy spring so vinnig van Basie se skoot af dat hy amper op sy klere mors. Dit was so hittete. Dán was die duiwel los!
Basie spring op, druk die bottel en die glas agter die televisiekas in. Gaan sit in sy stoel, tel die afstandbeheer op en vind ’n sportkanaal. Met Hechter-die-Vegter in aantog hou jy jou risiko’s so laag moontlik.
Die sleutel rammel in die voordeur. Worsie tjank sonder ophou en Basie sug saggies. Saterdag se rus en vrede is iets van die verlede.
Marie Hechter verskyn in die voordeur. Worsie raak gek van opgewondenheid. Basie kyk vinnig op, asof haar binnekoms hom verras. Hy probeer sy gesig neutraal hou. Maar in die oop deur, met die sonlig wat van agter skyn, lyk dit vir hom kompleet of Marie ’n stralekrans om haar kop dra. “My engel,” groet hy en probeer hard om die proesbui wat so sonder waarskuwing in sy keel opspring te onderdruk. Om watter aardse rede maak die haarkapster die hare tog so … rónd?
Maar sy kyk nie twee keer na sy kant toe nie. Sy gaan hang die motorsleutels aan die hakie op. In haar huis, soos in haar sekretaresse-kantoor by die skool, het elke ding sy plek. Almal en alles ken hulle plek wanneer Marie Hechter haar opwagting maak.
Worsie, afgehaal oor die gebrek aan entoesiasme, kom kruip styf teen Basie se stoel aan.
“Weet jy van die lyk?” vra Marie skielik in daardie stemtoon wat hom altyd laat opkyk. “Hulle het hom onder by die laagwaterbruggie gekry,” sê sy. “Iemand het hom met ’n mes gesteek en onder die brug gelos. Wie doen sulke goed?”
Basie wonder waarom haar retoriese vrae altyd soos beskuldigings klink. En hoekom het sy die sleutels so nadruklik opgehang? Moet tog nie sê sy gaan nié netnou weer ry nie. Die Portugees maak eenuur toe. Selfs vroeër. Daarna is dit net die sjebiens. Bloot die gedagte daaraan laat hom sweet. Saterdagmiddag in die lokasie. Om weer ’n keer voor agterdogtige, vet swart vroue te staan en soebat.
“’n Lyk? Wat het gebeur?” vra hy nietemin en probeer hard om belangstellend te lyk. Laat haar belangrik voel, Basie! Daar is ’n groter doel.
Marie snork. ’n Onaantreklike geluid, dink Basie. Pas nie by die draer van ’n stralekrans nie. Púre Hechter-die-Vegter, soos die skoolkinders haar noem. “Nee,” raas sy, “Peesee van Deventer staan al van voordag af daar en rook, verder gaan daar nie veel aan nie. Niemand is nog gevang nie. Dis soos dit gaan in hierdie land. Mens is jou lewe nie meer seker nie.”
Laat haar maar eers uitwoed, weet Basie. Die grootste kuns in hierdie lewe is die kuns om jou kans af te wag.
“Hier, óp ons dorp! By die bruggie!” roep Marie uit. “Die kinders vang elke dag daar vis! Die rolbalbaan is vyf treë weg!”
Sy maak die pap effens dik aan. Hy ken haar só. Laat haar maar begaan. Wag jou beurt af. Knik so nou en dan jou instemming. Basie beskou homself as ’n meester van tydsberekening.
“Wanneer vermoor hulle nie een van die oumense nie! Of ’n kind!”
Die ronde hare bewe. Die stralekrans verkeer onder hewige druk, sien Basie. Hy moet hard op sy lip byt om nie te lag nie. Maar hy voel hoe borrel die lag weer in sy keel op. Dan buk hy af en raap die hondjie op, net om die fatale giggel te onderdruk.
“En die polisie sit en doen niks, niks! Sê jy vir my wat het Peesee van Deventer al in sy lewe reggekry?”
Basie wonder of hy dan nie vanoggend sy skoene aangetrek het nie. Of het hy? Dan lê dit hier iewers.
Hechter-die-Vegter is nou op volle vaart: “Rook, ja, dit kan hy doen! Pleks hy sy vrou beheer. Spandeer bietjie minder op sigarette en bietjie meer op klere vir sy vrou. Koop vir haar iets beters om in te draf! Nog beter: Hou haar besig! Leer haar verf, dat sy die blomstaanders wat hy aanmekaarsweis kan verf. Dat sy haarself nie so loop en uitstal op straat nie! Helder oordag!”
Worsie begin tjank.
“Los tog maar, skatjie,” paai Basie. Dit is die probleem met eenrigtinggesprekke – as jy nie ingryp nie, neem dit ’n eie loop. En voor jy jou kom kry, staan jy, heel onskuldig, aan die verkeerde kant daarvan. Buitendien, herinner hy homself, daar is die Groter Doel – tans staan dit agter die televisiekas. Amper leeg; dit sal nooit hierdie naweek en al sy uitdagings oorleef nie. Hy sal ’n plan moet maak.
Versigtig nou, Basie Hechter, tel jou woorde. Hy haal diep asem. “Peesee …” begin hy. Maar dit blyk nie ’n goeie woordkeuse te wees nie. Die klanke strompel moeisaam verby sy lippe. Hy moet oor begin: “Van Deventer is nie so sleg nie. Meestal poog hy om sy beste te lewer. Hy kan dit seker nie verhelp sy vrou is so ’n bietjie van ’n … losj … ’n los klos nie.” Basie kyk haar reguit aan. Sy moet weet hy bedoel wat hy sê. “En dis darem seker nie ’n wit mens nie. Ek bedoel … daar onder die brug.”
Marie draai op haar hakke om; dit lyk vir Basie of die stralekrans kantel, of dit enige oomblik kan aftuimel. Middelpuntvliedend, kom dit skielik by hom op. Of is dit nou middelpuntvlie-tend? Daar glip die giggel uit! Hy druk sy hand voor sy mond. Die hondjie wil aan sy vingers lek. Nou begin hy hik. Gedorie! dink hy, hik! Soos ’n kind wat suiker gesteel het.
“Het jy iets gesê?”
Basie hoor die dreigement. Hy druk sy hande in die lug, asof hy oorgee. “Soos ’n kind wat sj… wat gesj… ’n kind wat iets gevat het!”
Daarsy! Wat sê jy nou, Rondekoppie!
Sy maak sulke skooljuffrou-geluidjies met haar tong. Hy hoor sommer sy staan met haar rug na hom toe. Dan kliek-klak-kliek-klak haar polvye in die gang af, kamer toe.
Basie gooi die hond van sy skoot af. “Gaan lê! Gaan lê!” Hy is darem nog die baas van iets in hierdie huis!
Hy waggel kombuis toe. Die pad is lank en swaar. Die kosyn wil sommer padgee wanneer hy daaraan vat. Die yskas staan en bewe. “Skatjie!” roep hy. Hy leun teen die yskas se rillende deur. “Sal jy nie gou die Porra vang voor hy toemaak nie! Daar’s ’n banksj-” Asem, versigtig nou: “Bank … sakkie in my leerbaadjie op die tafel! Asseblieftog, sjka… asseblief, my ou engel!”
Kliek-klak-kliek-klak. Sy vroetel by die eetkamertafel. Die sleutels rinkel, die voordeur maak oop. En weer toe.
“Sssjjjj,” maak Basie vir sy hond. “Sy weet mos wat vir haar goed is! Of hoe, my honne?” Hy draai om. “En hier beter genoeg ys wees!” raas hy met die plat vrieskas wat vir hom so staan en aankyk. “Anders is hier vandag gróót moeilikheid. Big, big troubles!” Hy buk onverskillig en krap wild tussen die koue pakkies rond. “Lucky you!” Daar is nog ’n ton ysblokkies. Genoeg tot volgende jaar! “Sharp, my maat!” salueer hy die getroue vrieskas.
Worsie tjank. Hy verstaan alles.
“Dankdiegoeievader ek СКАЧАТЬ