'n Dorp soos Silwer Streams. Barend Vos
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos страница 9

Название: 'n Dorp soos Silwer Streams

Автор: Barend Vos

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624053118

isbn:

СКАЧАТЬ Ek wil nog weet van die keer toe jy vir jou provinsie gespeel het, Jasper, ek wou nog altyd weet, jou eie woorde!

      Maar brandewyn is agterdogtig, dis aggressief, dit hou boek van die kwaad: Het ons dit nie al gedoen nie? Brandewyn sukkel met die baie n’e.

      Elnatan voel die asem, die warm asem is teenaan hom, hy roep: Jy het tog vir Noord-Transvaal gespeel, Noord-Transvaal!

      Jasper gryp dit aan, ’n honger hondjie: My ligblou jersey! Hy slaan op sy bors: Kyk, hier sit die daisy nog op die … oppie die … oppie bors. Hy wys, hy wys Elnatan moet op sy rug kyk: Losskakel! Mommer tie … monnel tiet …

      Elnatan help, sy hart wil breek oor Jasper, hy help vinnig: Nommer tien, ja! ’n Uithaler-losskakel! Spogatleet. ’n Aansporing en ’n ideaal vir baie, ook vir my! Jy sal dit onthou, jy moet dit onthou. Kyk, ek vergeet jou nooit!

      Maar die oë gaan toe, die kop wil sak, die slierterige kop gaan lê swaar op die toonbank, op die kroontjie blink ’n kaal kol. Die kroegman kom red die glas uit sy hand, die pap vingers val oop, daar is niks aan te doen nie.

      Elnatan troos, hy praat swaar, sy seer hart, nogtans sal hy troos, die troos wat hy ken: Dinge sal regkom, Jasper, ja, ons moet net glo dit sal ook verbygaan, net glo! Toemaar, toemaar, eendag kyk ons hierop terug, dán sê ons dit was ook maar ten goede!

      Dis die kroegman wat nader kom, wat vorentoe buk, wat die slapende aan die skouer skud, seker maak, wat wink na die ander wat stil en bewegingloos teen die toonbank sit, daar is die man aan die verste punt wat opstaan en nader kom.

      Hy kom nader, hy kom tot by Elnatan, hy lag, hy roep: Die ligblou trui! Laat ons dit nie vergeet nie, vriende en volksgenote! Hy smaal. Noord-Transvaal, ja! Onder veertien. Die middel van die vorige eeu!

      Nou lag hy hard, die kort, bonkige man lag met ’n oop mond, die agterste tande almal gekroon, die hol geluide uit sy keel, die selfversekerdheid.

      Is dit jy, Trompie?

      Die man sê niks, sy mond gaan toe, hy sê niks. Elnatan vra: Trompie?

      Niks.

      Weer: Meneer Toerien?

      Skielik lag die man weer. Hy kom skuif langs Elnatan in, hy slaan hom met die plathand tussen die blaaie, hy proes soos ’n seun: Menéér Toerien! Nogal!

      Hy wink na die kroegman, die lag steeds in sy stem: Het jy gehoor, Rooie? Die man het tog só ordentlik geword vandat ons mekaar laas gesien het! Vandat hy ’n dominee geword het. Dan is sy hand op Elnatan se kop, in sy hare, hy vryf dit deurmekaar soos ’n gawe onderwyser, hy vra: Since when, Natie? Ons kom dan al só lank saam! Hoe oud was jy – tien, elf? Jou ma neem vir jou die boekies by die biblioteek uit, nogal teen jou pa se sin. Hy sê dis minderwaardige lektuur, op daardie tipiese manier van hom. Maar jy léés. Heeldag, heelnag, met ’n flits onder die kombers. Vakansies, soggens voor skool. Hy gee Elnatan ’n kloppie op sy skouer, ’n gerusstelling, hy sug. Jy het geen idee wat dit vir my, vir ons, beteken het nie. Daarom kan ek mos nie vir jou kwaad wees nie, klein Natie! Ék, van almal? Feilbaarste onder die feilbares? Nêwwer! Sy vuis slaan op die toonbank. Of hoe, Rooie? Ons is tog maar almal ménse, of hoe? Hoe het ek altyd gesê, Natie? Dis nou maar wors! Nou bulder hy.

      Die kroegman vryf net die glase, hy kyk nie op nie, hy mompel: Soos jy sê. Grootkaptein.

      Daar is ’n geskuifel by die deur, daar is iemand buite, iemand sukkel om in te kom. Rooie kyk na sy grootkaptein, hy haal sy skouers op, hy rol sy oë, hy sug, hy kom uit van agter die toonbank. Elnatan volg elke tree.

      ’n Lang man by die deur, die lang man stoot ’n rolstoel voor hom uit, die lang man lig die voorwieletjies oor die kosyn, in die stoel sit ’n bejaarde, die ou man se bene is onder ’n kombers, sy hare ’n silwer lig in die skemer.

      Rooie poets die tafeltjie in die hoek, hy vryf, hy vryf, hy sit die boks tissues wat op die tafeltjie was onder sy blad, hy trek ’n stoel uit, hy sleep die ander stoel weg, die rolstoel pas nou in by die tafeltjie, die lang man stoot die rolstoel tot by sy plek, die lang man buk oor die passasier, hy trek die ou man se klere reg.

      Rooie drafstap, sy lang treë tot agter sy toonbank, hy gryp ’n skinkbord, hy vou ’n lappie, hy pak twee gestyfde lapservette, ’n blikkie Coke, ’n lang glas melk, die skinkbord is vol.

      By die ronde hoektafeltjie sit die lang man nou ook. Hy het ’n aandpak aan, hy dra ’n wit hemp, ’n strikdas.

      Rooie loop met die skinkbord, hy hou die skinkbord voor hom uit, hy buig effens voor die rolstoel, hy groet: Goeienaand, doktor Serfontein! Sy stem is luid, sy woorde afgemete, hy praat met ’n hardhorende, hy sit die melk voor die rolstoel op die tafel neer, die Coke is vir die lang man: Dáár’s hy, meneer Krynauw!

      Die koue vingers hardloop teen Elnatan se rug af.

      Rooie roep: Sê maar as u my nodig het, u weet mos …? Rooie se haastige stappie terug tot by sy toonbank, hy glip agterom, hy kom skuil, die sweet loop teen sy slape af. Trompie Toerien haal hard asem, Rooie leun oor na Elnatan, hy fluister: Ek dink nie jy gaan dit vryspring nie. Krynauw lyk soos ’n man op ’n missie. En hy het jou sommer met die inkomslag gesien.

      Agter by die tafeltjie skraap ’n stoel, Toerien se asem stop, dit word stil, alles staan stil, Elnatan se keel word dik, hy wil sluk, hy gaan opstaan, hy moet padgee, hy sal weghardloop.

      Dominee Wait? Die skielike stem van ver af, dit vul die hele ruimte, Elnatan se ore slaan toe, hy kan nie hoor nie, hy sien nie kans nie, hier moet hy uit. Hier moet ek uit!

      Hy dink hy het gepraat, hy gee nie om wie hoor nie, hier moet hy uit.

      Hier moet hy uit.

Sondag 2 Februarie

      1

      Ek weet wanneer sy gedagtes nie by die erediens is wat hy lei nie. Dit gebeur die laaste tyd al hoe meer, feitlik konstant die afgelope ses maande, dat hy so sag praat dat selfs die kerkraadslede in die voorste dwarsbanke agterna mor dat hulle hom nie kon hoor nie. Terwyl hy praat, al hoe sagter, sy skouers krommer en krommer trek en dit al hoe stiller word in die kerk, haal hy sy bril af en sit dit voor hom op die kansel neer, ek sien die weerloosheid in sy oë. Oor hulle wat hy so sonder beskerming in die gesig moet kyk.

      Ek hoor hulle praat, hulle maak seker dat húlle gehoor word. Ek hoor hulle wanneer hulle in hulle blink karre klim, as hulle ná kerk by Piet Paai se kafee die koerant gaan koop; wanneer hulle saam met hulle vrouens met die opgedoende hare by die bure gaan tee drink sodat die bediende, wat vir die Sondag moes inkom en die vier of meer kilometer met die voet moes loop, die kans het om solank die tafel te dek en die slaai te maak.

      Natuurlik verdedig ek hom! Jy sal tog begryp. Maar ek mag mos niks laat glip nie, nie voor enigiemand anders nie. Dit het hy al soveel keer gesê, van die begin af. Hy het my laat belowe. Dis die eerste wet van die pastorie, het hy gesê. Hulle mag niks van ons weet nie.

      Hoeveel van sy siel stort hy nie voor julle uit nie! sê ek vir hulle, al is dit net in my kop. Elke liewe Sondag, en dan nog die aanhoudende stroom begrafnisse. Dit voel vir my daar bly niks van hom oor nie, niks vir my nie, in elk geval. En waarskynlik ook niks vir homself nie. Die hele week deur hardloop hy van siekbed tot siekbed, van vergadering tot vergadering. Moet hy telefone antwoord en hulle klagtes aanhoor, nonsenspraatjies maak, lag vir hulle grappies, stilbly vir hulle aanstootlikhede. Die vrede tussen hulle en hulle bure herstel, tussen hulle en hulle kinders, hulle en die res van hulle klein wêreldjies. En hoor СКАЧАТЬ