Название: Kortetjies en 'n lange
Автор: PG du Plessis
Издательство: Ingram
Жанр: Юмористические стихи
isbn: 9780624051350
isbn:
Hy’s Anna se oorlede man wat met die yster verbrand het. Hy was baie jaloers. Sy laaste woorde was Gesang …
Die tannie kyk anderpad en sy sê die oom het vir haar vanmiddag so mooi gesterf, en dit nogal met ’n gesangvers op die lippe. Sy haal aan.
Ek dink aan die blou amper-geraamte wat dalk nog gesterf het toe ons die stik uit sy keel probeer skud het. Dit was nie gesangverse wat uitgekom het nie.
Maar die tannie slaan op haar been soos iemand wat vergeet het om iets te koop:
“En daar vergeet ek wraggies weer om vir Pa te laat weet van Trynie …”
Ek laai hulle af en Anna sê ek weet nou waar sy bly … dis net deur die rivier …
Toe ek terugry, skakel ek die trokkie teen elke hoogte in ’n laer rat, ek bedink die lewende en die dode, die wyse waarop die oom se siel met die seepsoda van die pyn afgeskrop is, en dis vir my ’n wonder.
Maar die grootste wonder is die manier waarop Anna met een haakspeld ’n hele ritssluiter kan vervang, hier waar die natuurwet nog geld.
’n Kraak in die raaptyd
Ons vier ’n debuutboek in ’n onderbeligte restaurant en ons praat oor maniere:
Goeies en slegtes, kardeur oopmaak, aan die straatkant van dames loop. Noodsaaklike gemanierdheid, foefie-gemanierdheid, vroom gemanierdheid. Dié soort ding.
Tussendeur praat ons oor opvoeding. Hoe kry jy goeie maniere in ’n kind in?
Iemand sê hy wens hy kan die inisiatief van ’n Joodjie, die dissipline van ’n Boerkind en die gladheid van ’n Michael-house-Engelsmannetjie in een kind saam sien.
Ek glo nie dis moontlik nie. Die een sluit die ander bietjie uit.
Jy het net nie ’n opvoedingsisteem om al drie gelyk in die jeug in te kry nie. As jy dissiplineer, maak jy inisiatief dood; as jy inisiatief loslaat, moet jy ongemanierdheid verduur.
Deur die gesprek kyk Frans Esterhuyse ons so.
Frans is ’n spotprenttekenaar van faam, en hy glip so af en toe die platteland in om daar te skilder en die dinge te doen wat kunstenaars op die platteland gaan doen.
So met die oorstaan by mense, leer jy van opvoeding en van maniere baie, sê Frans. Hy onthou byvoorbeeld die skilderkuier wat hy eenkeer geskilderkuier het op die Transvaalse platteland.
Dit was raaptyd.
Nou is ’n raap, volgens Frans, ’n ding waarvan mense altyd te veel plant.
Jy saai jou akkertjie raapsaad, en voor jy jou kom kry, het jy meer plantjies as waarvoor jy in jou wildste drome gehoop het. Dan plant jy maar uit, want mors wil jy nie, en dan het jy te veel rape. Met rape werk dit so. iemand sal dit seker eendag kan verklaar, maar op die oomblik is dit maar net so.
Hy skilderkuier toe, sê Frans, by ’n baie aangename gesin – op ’n keer toe die rape so in oorvloed is.
Weggooi kan jy die goed nie, en jy voer dit eers later vir die vee. Aan die begin wend jy enige poging aan om soveel moontlik saam met die gesin te verorber. Mors is sonde, en die verkwister is die broer van die verwoester.
Dus: met raaptyd word daar ernstig probeer om die surplus eetbaar te kry.
Die gesin, sê Frans, bestaan uit die ouers en vier baie oulike seuntjies. Mitsgaders dan, vir die oomblik, hulle skilderkuierende gas.
Nou, sê Frans, ’n mens moet in die raaptyd ook maar versigtig van jouself as ’n huisgas praat. Dis al of dié woord in die raaptyd – uit die aard van die raap se gastronomiese werking – ’n dringendheid ontwikkel wat die gebruik daarvan baie na aan ’n pynlike werklikheid bring. Jy praat eenvoudig nie van jou kuiermense as huisgaste in die raaptyd nie, want jy weet nooit in watter toestand jou kuiermens verkeer, wat hy in stilte sit en beplan, of wat hy dalk reeds in stilte begaan het nie – as ons sy segswyse en sinsbou sal verskoon, sê Frans.
Maar dis by aandete, in die raaptyd, by die mooi gesin, waar hy so baie geleer het van sowel opvoeding as maniere.
Die aand aan tafel, met die ete waarvan rape onder meer deel uitgemaak het, kraak die oudste seuntjie se stoel kwaai.
Hy sê: “Askies, mense.”
Die ete gaan voort.
So met die voort-eet, kraak die stoel van die tweede oudste, en hy sê: “Askies, mense.”
Die ete gaan voort.
Die derde oudste outjie se stoel kraak toe, en hy sê sy “Askies, mense” en hulle eet voort.
Frans sê dat hy toe in ’n soort spanning begin verkeer, want hy ken rape en hy ken klein seuntjies.
Die jongste outjie se stoel het hom naamlik nog nie geopenbaar nie, en hy vrees dat daardie stoel dalk met ’n opgeboude kraak opgeskeep sit.
Dit was toe ook ’n kraak der krake wat daardie outjie se stoel onder hom gekraak het.
Die kraak word gevolg deur doodse stilte.
Die pa van die gesin wag ’n rukkie en toe spreek hy sy jongste skerp aan:
“Wat dink jy vang jy aan?”
Frans en die outjie is toe ewe verbaas. Daar is duidelik diskriminasie en dubbele standaarde aan die werk oor die gekraak van stoele.
Die jongste sê dus bietjie verbouereerd: “Pa?”
“Hoe moet jy sê?” vra die pa.
“Askies, mense,” sê die outjie en die ete gaan voort.
Die pa kyk Frans toe in die oë en hy sê: “Nee, as daar een ding is wat ek my kinders leer, dan is dit maniere.”
Maniere is nie so onverstaanbaar nie, sê Frans, dit hang maar af hoe jy na die ding kyk.
Want die pa sê toe: “Askies, mense,” en hulle eet verder.
En toe sê Beëlsebub …
As dit aand word hier op die plasie waar ek my sit sit, en die son trek kop-uit agter die denne, kom rem die alleen soms aan my baadjiepante.
Dan vroetel ek ’n stuk vleis uit die vrieskas los, ignoreer die dooie-vis-oog van die TV, maak vuur, kry my sit en wag vir die verlatenheid.
Dié daag op soos die nag kom. Die honde in die verte raak stil, die paddas raak moedeloos geroep na die liefde – of vind in stilte hul vervullings waarmee hulle my visdam besliert en bepaddavis.
Dis dan, in die alleen, dat daar soms ’n man uit die donker van die bos kom.
Noudat hy al baie hier was, kom hy sommer in sy werksklere.
Hy heet B. Satan. Die B staan vir Beëlsebub.
Hy kom uit ’n СКАЧАТЬ